Deur Mariëtte Odendaal
Elke mens het ’n storie – en soms loop daardie storie deur donker valleie van afhanklikheid en baie smart – maar in Bloemfontein, in die hartjie van die Vrystaat, is daar bakens van hoop waar ‘n nuwe begin moontlik gemaak word ten opsigte van die ál groter wordende krisis van verslawing of middelafhanklikheid. Daar is hoop.
Die NG Kerk Vrystaat se Diens van Barmhartigheid bied graag ondersteuning aan gemeentes en individue om hulle in hierdie stryd by te staan.
In die groter Bloemfontein-omgewing is die volgende rehabilitasiesentrums geregistreer of in die proses om geregistreer te word: die Aurora Sentrum, Mondea Sentrum (Woodlands), Hope Again (Florisbad), Cherut Executive Recovery (Bainsvlei) en Galino House (Heuwelsig, in samewerking met Bloemcare).
In die keuse van ’n rehabilitasiesentrum is dit belangrik om jou te vergewis waarvoor só ’n sentrum wel geregistreer* is. Daar is ongelukkig hartseer verhale waar ongeregistreerde intervensies en behandelings tot groot hartseer en skade gelei het.
’n Professionele span met ’n roeping
Om as sentrum geregistreer te kan word, moet daar ’n multi-professionele span wees wat die program aanbied en mediese diagnoses kan maak. Hierdie span sluit dokters, sielkundiges, maatskaplike werkers en ander gesondheidswerkers in – mense wat met kundigheid én deernis werk.
Dit verskil van die werk van persone wat in die omgangstaal addiction counsellors genoem word – mense wat self die pad van verslawing gestap het en nou ander middelafhanklikes ondersteun.
By amptelik geregistreerde sentrums word hierdie ervaringskennis gekombineer met professionele begeleiding sodat elke persoon holisties, liggaamlik en geestelik, gesond kan word.
Van identifisering tot nuwe lewe
Die pad van herstel begin dikwels by eerlike erkenning – om te kan sê: “Ek het hulp nodig.” Daarna volg die proses stap vir stap:
- Verslawing word geïdentifiseer: Riglyne is hier van groot belang.
- Detoksifikasie: ’n Kort drie dae-periode waarin die liggaam van gifstowwe ontslae raak.
- Behandeling: ’n 21 dae-program wat fokus op genesing en heropbou.
- Nasorg: ’n Jaar lange begeleiding, sodat mense nie net “skoner” nie, maar ook sterker en standvastiger die lewe kan aanpak.
Vir diegene vir wie dit nie moontlik is om in ’n sentrum opgeneem te word nie, of wat nie aan ’n mediese fonds behoort nie en vir wie dit dus onbekostigbaar is, is alles nie verlore nie. Behalwe die moontlikheid van buitepasiëntbehandeling, sou ’n mens ook hulp van die staat kon kry om toegang tot ’n goedgekeurde sentrum te kry.
Kontak gerus vir ds De la Harpe le Roux by dlh@ngkvs.co.za vir meer inligting.
Meer as genesing – dit is genade
Dié saadjie van hoop is besig om te groei.
Dit is belangrik om te besef dat genesing nie net in ’n hospitaal of kliniek gebeur nie, maar veral in die ontmoeting tussen mense wat in tweede kanse glo; daar waar geloof en professionele sorg hande vat – waar menswaardigheid herstel word en God se lig deur mense se helpende hande en harte skyn.
*Registrasie by SANCA (SA National Council on Alcoholism and Drug Dependence) beteken dat ’n organisasie voldoen aan die minimum standaarde en regulasies vir die industrie.

