Skip to content Skip to sidebar Skip to footer

DIDASKO: Verantwoordelike hermeneutiek in die 21ste eeu

Deur Mariëtte Odendaal

DIDASKO beteken “om te leer” en is die nuwe VBO-handelsmerk van die NG Kerk Vrystaat onder leiding van Bedieningsbegeleiding. Dit bied ’n vars, dinamiese ruimte waar ons sáám kan leer, kan groei en mekaar kan toerus vir diens in God se wêreld.

Die eerste onderwerp, Verantwoordelike hermeneutiek in die 21ste eeu, is via Zoom op vier verskillende Dinsdagaande aangebied.

Lees gerus hierdie kort, vereenvoudigde opsommings van die eerste twee aanbiedings deur prof Marius Nel, dosent in Ou Testament verbonde aan die Departement Ou en Nuwe Testament aan die Universiteit Stellenbosch en dr Nina Müller van Velden, dosent in Nuwe Testamentiese Studies aan die Universiteit van die Vrystaat (UV).

Tema 1: “Ingenooi in die eeue-oue gesprek met en oor God se verbondstrou” (Matteus 20:28; 26:26-30)

Prof Nel het sy aanbieding begin deur te verduidelik wat met die woord ‘hermeneutiek’ bedoel word. Hermeneutiek handel eenvoudig oor die verstaan van die aard van die Bybel. Die Bybel is nie ’n artefak (soos byvoorbeeld die verbondsark of ‘n altaar) nie, maar is ’n gespreksruimte wat vele vlakke van betekenis het. Dit is kompleks as gevolg van die verskillende genres waaruit dit bestaan, veral ten opsigte van die wyses waarop ons die Bybel interpreteer of verstaan.

Hy het verder verduidelik dat ons eintlik deel is van ’n eeue-oue dialoog en nie ’n monoloog nie; dis ’n gesprek met God, met mekaar, Jesus met die Skrif en die Skrif met die Skrif self. Elke keer wat ons die Bybel lees, neem ons eintlik deel aan ’n gesprek. 

Dis ’n dinamiese interaksie wat al vir honderde jare aan die gang is – ’n gesprek oor God se trou aan sy mense. Prof Nel gee erkenning aan Karl Kuhn se boek, Having Words with God: The Bible as Conversation, wat hom met hierdie insigte gehelp het.

Hierdie dialoog is egter kompleks. Hoe moet jy byvoorbeeld die betekenis van woorde en die gebruik daarvan in ‘n teks in ’n bepaalde tydsgees bepaal, en hoe het die betekenis daarvan mettertyd verander?

Hermeunitiek gee aan ons die vaardighede om sinvol deel van die gesprek te word. Ons lees nie die Bybel in isolasie nie; ons bou voort op wat ander gelowiges deur die eeue heen daaroor gesê en geglo het.

Ons moet ook onthou dat as ons met Bybeltekste werk, die finale teks (soos byvoorbeeld die Matteus-evangelie) ’n voorgeskiedenis van pre-tekste het (soos byvoorbeeld die Markus-evangelie) wat deur ’n komplekse proses van tekskritiek, die gebruik van oorgelewerde tekste en vertaling moes gaan tot post-tekste.

Prof. Nel het ook beklemtoon dat ons verantwoordelik moet wees wanneer ons die Bybel interpreteer. Dit beteken ons moet nie net lees wat ons wil hoor nie, maar probeer verstaan wat die teks regtig sê – in sy oorspronklike konteks én hoe dit vandag sin maak.

Vervolgens het hy ook daarop gewys dat konteks van groot belang is vir ons verstaan van die Bybel. Die wêreld het baie verander sedert die Bybel geskryf is. Dinge soos kultuur, politiek en sosiale norme beïnvloed hoe ons die teks verstaan. Ons moet bewus wees van ons eie vooroordele en agtergrond wanneer ons die Bybel lees, want dit beïnvloed hoe ons dit interpreteer.

Prof. Nel het ook gewaarsku teen die idee dat ons net ’n vers kan uithaal en dit letterlik toepas; die Bybel is nie ’n magiese boek nie. Ons moet die boodskap agter die woorde probeer verstaan: Wat wou God vir daardie mense sê, en wat sê Hy vandag vir ons?

Hy het ook verder daarop gewys dat, selfs al verander die wêreld, die kern van die Blye Boodskap is dat God getrou bly aan sy verbond met mense. God se verbondstrou is sentraal. Ons interpretasie van die Bybel moet altyd teruglei na God se liefde, geregtigheid en trou.

Met ander woorde: Ons moet die Bybel met respek en insig lees. Nie soos ’n boek vol towerwoorde nie, maar as ’n lewende gesprek tussen God en mense.

Ons moet onsself ook voortdurend afvra: Wat beteken die Bybelvers(e) vir daardie tyd? En wat beteken dit vir ons vandag?

  • Kyk na die volledige Zoom-aanbieding HIER.

Tema 2: “Wie is familie? – Die aangenome huishouding van God in die Nuwe Testament” (Matteus 12:46-50; Galasiërs 4:4-5; Efesiërs 1:4-6)

Hierdie sessie is aangebied deur dr Nina Müller van Velden, dosent in Nuwe Testamentiese Studies aan die Universiteit van die Vrystaat (UV).

Eerstens wys sy op die konflik wat oor die eeue heen konstant in kerklike geledere ten opsigte van Bybelinterpretasie bestaan. Sy verduidelik hoe dr Dirkie Smit se hoofstuk, Biblical hermeneutics in the 20th century in die boek Initiation into theology, jou kan help om verskillende soorte konflik ten opsigte van Bybelinterpretasie te verstaan en respek te hê vir die verskillende aspekte daarvan, veral andersoortigheid.

Sy beklemtoon dat Bybelse interpretasies vandag nie net ’n akademiese oefening is nie, maar ’n etiese verantwoordelikheid. Ons moet teksverklarings met sensitiwiteit ten opsigte van konteks, kultuur en ons gemeenskappe doen.

Dr Müller van Velden verduidelik dan hoe die Nuwe Testament die konsep “familie” binne die konteks van God se koninkryk herdefinieer.

Sy verduidelik hoe families en huishoudings in die tyd van die Nuwe Testament gelyk het: daar was ’n sterk patriargale stelsel en die begrip ‘familie’ was baie uitgebreid en omvattend; baie anders as die kerngesin van vandag.

Die Nuwe Testament gebruik dikwels die metafoor of beeld van aanneming (wat in daardie tyd algemeen bekend was) om gelowiges se verhouding met God te beskryf. Gelowiges word nie net gered nie, maar ook ingesluit in ’n nuwe huishouding – die familie van God.

Slawe kon egter nie aangeneem word nie, maar moes eers vrygekoop word en het deur aanneming sosiale status verkry, soos ’n biologiese kind, en ’n wettige erfgenaam geword. Die radikaliteit daarvan moenie misgekyk word nie; jou bande met die vorige familie is uitgevee – jy het volledig deel geword van jou aangenome familie.

Paulus gebruik hierdie metafoor of beeld baie in sy geskrifte. Woorde soos ‘vader’, ‘seun’, en ‘vrygekoopte slawe’ word dikwels in sy tekste gevind om geestelike verbondenheid, gedeelde geloof en eenheid as deel van God se familie te beskryf.

Die taal van die Joodse agtergrond, soos verbond, uitverkiesing, erflating, ballingskap van die voorouers wat slawerny ook self ervaar het, word ook metafories in sy tekste gebruik. Paulus was ’n meester in kontekstuele teologiese taalgebruik.

Dr Müller van Velden fokus vervolgens op die konteks van die Romeine-brief; die spanning tussen Joodse en nie-Joodse gelowiges, die pleidooi vir eenheid en redding wat deur geloof in Christus kom. In Romeine 8:14–17 word hierdie metafore byvoorbeeld baie goed toegepas.

Daarna gee sy ook aandag aan die konteks van die Efesiërs-brief waar daar oor die aard van kerkwees besin word, veral oor die kwessie van wat dit beteken om as een liggaam van Christus te leef. Sy beklemtoon weer die radikaliteit van ons eenheid in Christus en dat daar gewaak moet word teen “ons” en “hulle” – wie is nou die aangenomenes en wie is “ware” familie? Wie sluit ons as familie in en wie sluit ons uit?

So, wat beteken dit vir ons vandag? Hoe kan ons ’n meer inklusiewe en verantwoordelike geloofsgemeenskap bou? In hierdie sessie daag dr Müller van Velden ons uit om ons eie verstaan van familie en gemeenskappe te herevalueer. Dit roep ons op tot ’n hermeneutiek wat nie net die teks verstaan nie, maar ook die wêreld waarin ons leef, transformeer.

• Die volledige Zoom-aanbieding kan HIER gevind word.

 | Verskaf deur: Dr Leon M Foot.