Deur Magdaleen du Toit, vorige Netwerk-sameroeper
Ds Louwrens Scheepers, sedert Februarie vanjaar predikant van die NG Gemeente Philippolis in die Suid-Vrystaat, het pas oorgeneem as sameroeper van die Spiritualiteit-netwerk onder die ‘sambreel’ van Bedieningsbegeleiding. Hartlik welkom!
Magdaleen du Toit, vorige netwerk-sameroeper, het hom uitgevra en hy vertel:
My lewensreis begin in 1967 op Nelspruit, tans Mbombela. My roepingsverhaal begin in 1981 in Vryheid, Kwazulu-Natal. Een Sondagaand in die kerk luister ek as 13-jarige seun na Neil en Peggy Verwey wat vertel van hulle sendingwerk in Japan. En iets gebeur in my hart …
In 1991 voltooi ek my teologiese studie aan die Universiteit van die Vrystaat. Tydens ons studentejare trou ek en Gerda, ’n opgeleide musiekonderwyseres. Ons het drie kinders, Derik (32), Jana (29), getroud met drie kinders, en Andrea (24).
In 1993 kry ek my eerste beroep as predikant na die gemeente Risiville in Vereeniging. Dit is ’n tyd van groot politieke verandering in Suid-Afrika. Ons bly nie ver nie van plekke waar die land brand en die politieke onstabiliteit in die omgewing groot is. Ek is jonk en onervare. Daar is baie vrae. In hierdie tyd kruis ons paaie met Petra-Instituut naby Witrivier (vroeër KEO – Kinderevangelisasie-opleiding). In 1995 gee ons as gesin ’n tree op ’n nuwe, onbekende pad: ons word voltydse personeel by Petra Instituut. Vir die volgende sewe jaar ry ons die land vol met die opleiding van kategete, kinderkerkleiers en ouers in gemeentes. En dan begin ons in Afrika reis. Aanvanlik Suider-Afrika en dan Wes-Afrika, veral Nigerië en Ghana. Ek leer oor Afrika, en ek word geleer deur die mense van Afrika.
Na sewe jaar by Petra-Instituut voel ek die drang om my vlerke nog wyer te sprei. Ons gaan woon en werk in Marokko, ’n Moslem-land in Noord-Afrika. Vir die volgende sewe jaar (2002–2009) is ek die “wettige” predikant van ’n “onwettige” Christen-gemeente in die stad Fes, ’n internasionale gemeente vir Engelssprekende buitelanders wat in die stad woon. Ons beleef kerk- en gemeente-wees op ’n nuwe, lewensveranderende manier.
En ons is nooit weer dieselfde nie.
Ons ontmoet God op vreemde plekke.
Ons teologiese prentjies van wie is ‘in’ en wie is ‘uit’ word deurmekaar geskud.
In 2009 kom hierdie ongelooflike seisoen tot ’n einde. Ons moet keuses maak vir ons kinders se opvoeding en ons kom terug Suid-Afrika toe. In 2010 kry ek ’n kontrakpos by die NG Gemeente Hugenoot in Bloemfontein. Maar ek kry swaar. My gesin kry swaar. Die aanpassing terug in SA is nie maklik nie. Ons harte het in Marokko agtergebly. In 2012 maak ek ’n klein boekwinkel oop in die middestad van Bloemfontein. En vir die volgende twee jaar leer ek iets van kerkwees en dissipelwees op die markplein.
Maar Marokko, en die begeerte om terug te gaan, leef steeds sterk in ons harte. In 2014 gee ons die eerste tree in daardie rigting deur in te skryf vir ’n sesmaande-kerkplantingskurus by All Nations in Kaapstad (Noordhoek). As deel van ons opleiding woon en werk ons vir agt weke in die Siriese vlugtelingskampe in Libanon. In die tente luister ons na stories van ongekende verlies. Vir agt weke word ons deel van hierdie mense se stories. Hulle wat Moslems is, wat alles in ’n oorlog verloor het, verwelkom ons in hulle tente. Hulle gee vir ons kos. Hulle huil en lag, en ons saam met hulle.
Intussen voltooi ek ’n MA-graad by Fuller Seminary in die VSA: MA in Global Leadership (2014). In Augustus 2015 keer ons terug na Marokko, gereed om weer voltyds daar te gaan bly. Ons bekers loop oor. Ons het weer tuisgekom. En dan gebeur dit: ons kry nie langtermyn visums nie.
In November 2015 keer ons terug na Suid-Afrika. Die deur na Marokko is toe. Ons harte is stukkend. Ons weet nie hoe om aan te gaan nie. Ek gaan werk by tye in Suid-Sudanese vlugtelingskampe in Uganda (2017–’19). My kontak met die trauma van die kinders as gevolg van die vernietigende uitwerking van oorlog bring my weer onder die indruk van die diep lyding van ontwortelde gemeenskappe. In die kampe vergeet ek van my eie verlies.
Einde 2017 trek ons in Vishoek in ’n huis in met 31 seuns (ouderdomme 12–18). Hierdie seuns kom hoofsaaklik uit Mitchellsplein en Khayelitsha. Vir die volgende 18 maande is ons pa en ma vir hierdie seuns en werk ons nou saam met die Ubuntu Sokkerakademie. In Julie 2018 verhuis ons na Ocean View (’n hoofsaaklik bruin gemeenskap naby Kommetjie wat gebuk gaan onder bendegeweld) met vier van die sokkerseuns. Vir die volgende twee jaar versorg ons die seuns in ons huis en help hulle deur matriek. In hierdie tyd leer ons (en ons leer nog steeds) wat dit beteken om in ’n gebroke en getraumatiseerde gemeenskap soos Ocean View te bly.
2016–2019 was ’n absolute stropingstyd. Ek het gevoel ek het alles verloor: My roeping. My identiteit. My sekerhede oor God …
Ek probeer rigting vind en skryf in 2019 in vir ’n 15 maande-kursus in Spirituele Begeleiding by die Sentrum vir Kontemplatiewe Spiritualiteit onder leiding van dr Willem Nicol. In dié jaar doen ek ook die Brugpredikante-kursus by Communitas (Stellenbosch).
En dan kry ek malaria – Oktober 2019. Op die presiese dag en datum, 10 jaar nadat ons vir die eerste keer uit Marokko is (2009), word ek in die hospitaal opgeneem. En een nag – baie, baie siek – kan ek uiteindelik Marokko finaal begrawe …
Einde 2019 begin ek weer my roepingsreis. Dit voel asof ek my plek en roeping in die wêreld opnuut moet ontdek. In Januarie 2020 word ek aangestel as brugpredikant vir Drakenstein-gemeente in die Paarl. En dan kom Covid en ’n negemaande-pos word ’n driejaar-pos. Ons help die gemeente om grense oor te steek na die onmiddellike omgewing deur die gemeentepastorie in ’n Echo Huis te omskep. Aan die einde van 2022 maak ek klaar in die gemeente en in Oktober 2023 aanvaar ek ’n 18 maande-brugpos in Witrivier. In Februarie 2025 aanvaar ek en Gerda ’n kontrakpos in Philippolis hier in die Suid-Vrystaat.
En hier is ons nou … en voel ons is geroep as brugbouers, om ruimtes te skep waar mense veilig voel, met deernis, en stiltes. Ek en Gerda hoop om jou ook hier in Philippolis te kan verwelkom!
| Foto (verskaf): Ds Louwrens en Gerda Scheepers.

