Skip to content Skip to sidebar Skip to footer

Om die draak te steek?

Deur dr Martin Laubscher, Erediens Netwerk

Daar is verskillende maniere waarop die Bergrede gelees kan word. Sommiges (en daar is ‘n lang tradisie hiervan) is van mening hierdie Bergrede is nie vir vandag en selfs eens vir môre nie, maar vir eendag! Dis nie hoe dit op die aarde sal wees nie, maar in die hemel. Dis onmoontlik om so te leef en daarom word dit volledig in die toekoms verplaas. Eers ná die wederkoms sal die hemelse gemeenskap só kan leef, maar vir nou en hier is dit eenvoudig nie moontlik nie. Maar gelukkig dink ons ook mos nie so nie, want ons weet Jesus het ‘n ander bedoeling hiermee gehad.

Is dit dalk: Lees en pas dit letterlik toe? Nee, juis nie, oordeel ‘n ander groep. Die enigste uitweg is om die boodskap te vergeestelik. Jesus bedoel nie regtig jy moet nog ‘n ekstra myl loop nie, of regtig jou ander wang draai nie, of nog jou ander kleed ook uittrek nie, maar net dat jy Hom sal liefhê en dien … en dit kan jy mos doen sonder om enige van hierdie goed te doen. Regtig? Dan klink die woorde mos maar na “hol simbole – klanke sonder melodie”? Hoe sal mense weet van ons liefde en eiesoortige etiek as ons dit nie ook uitdruk in konkrete dade soos Jesus hier vra nie? Maar gelukkig dink ons mos nie so nie.

Daar moet dus tog ook nog ‘n ander manier van lees wees? Inderdaad! Sommige meen ons het hier bloot net te make met reëls, wette, regulasies, direktiewe vir die Christelike lewe wat eenvoudig net so toegepas moet word! Lees en verstaan dit letterlik, en pas dit eenvoudig net toe in jou lewe. Dit is bedoel om gedoen te word – nes dit daar staan.

Ja en nee, hoor ek jou sê. Dit moet nie uitgestel, afgewater of versuiker word nie, maar tog is die bedoeling ook nie om dit weer te wil verhard in iets wat dit nie is nie. Dit kan so ernstig raak dat die eintlike erns verlore raak. Anders gestel: Dit is tegelykertyd ernstig en speels bedoel. Dit is uitdagend, maar uitdagend in ‘n ander sin. Die uitdagende aard hiervan is voorwaar van ‘n ander stoffasie gemaak.

Die Bergrede is wat ‘n mens sou kon noem “a wild act of imagination”! Die Bergrede is, in die woorde van Allan Boesak, die vlug van Gods verbeelding. Jesus droom van ‘n nuwe lewe en wêreld en vra van ons om dit saam met Hom te verbeel(d). Dit is ‘n alternatiewe werklikheid – alternatief én werklik! Dit is seriously imaginable – serious én imaginable. Dit is allermins voorspelbaar, en dog kan ons ons dit voorstel, of hoe? Denkbaar – eintlik verbeeldingryk, of hoe? Denkbaar, én uitdagend!

Die werklikheid wat Jesus aan ons hier kom voorhou, is een waarin alles soos wat ons dit ken, op sy kop gekeer word! Alles wat is, is daar, maar nou vanuit ‘n ander hoek gesien. Daar is hofsake, maar dit verloop anders; daar is geweld, maar dit verloop anders; daar is dieselfde goed wat daagliks afspeel, maar dit verloop en eindig nou anders. Daar is nog orde, maar die orde word omgekeer! Daar is logika, maar dit is die kruis-logika!

“Salig is dié wat arm van gees is …”

“Salig is dié wat treur …”

“Salig is die sagmoediges …”

“Salig is dié wat vervolg word …”

En dis maar net die begin van die preek daar op die berg! En dis natuurlik nie net so aan die begin nie, of plek-plek nie, maar deurgaans die geval! Trouens, op party plekke tel dit selfs spoed op – soos byvoorbeeld in Matt.5:38-42. Die wêreld word op sy kop gekeer en ‘n alternatiewe orde word nou daargestel. Die vanselfsprekende en voor-die-hand-liggende word bevraagteken; meer nog: aangevat en uitgedaag! Dit wil “skok”, dog is nie “bomskok” nie. Dit prikkel, en steek voorwaar “die draak” daar waar hy nie gesteek wil word nie. Hierdie droom en verbeeldingryke praatjies is nie ontvlugting nie, maar juis ‘n soeke na oriëntasie in ‘n onderstebo wêreld!

Jesus kom hier – sou ‘n mens kon sê – in die vorm van die hofnar wat behoorlik met ons die draak kom steek. Jy dink hy maak ‘n grap, maar eintlik is hy so ernstig. En omgekeerd: Ons maak van die preek iets geweldig ernstig – dis wette, reëls, direktiewe, regulasies wat gevolg moet word, en pasop as jy nie dit doen nie! So ernstig, en so morbied! En eintlik is dit allesbehalwe ernstig en morbied – maar lekker gek, mal, snaaks; ja, skreeusnaaks! Hy steek die draak met omtrent alles en almal wat so ernstig is dat alles tog asseblief net so moet bly soos wat dit is. Jesus spot daarmee! Hy skeer gek daarmee. Hy keer die bestaande orde op sy kop en daag ons uit om Hom hierin na te volg. Dink net vir ‘n oomblik: dit is draakstekery!

Die beeld van die hofnar kom uit die Middeleeue waar die persoon nie net snaaks aangetrek en mense laat lag het nie, maar veral koninklikes, hooggeplaastes en mense met mag kon laat lag deur met hulle en ander die draak te steek. Snaaks, maar eintlik baie ernstig. Ernstig, maar in die vorm van “dink net … verbeel jou vir ‘n oomblik!” Die hofnar (grapmaker) is iemand wat na die werklikheid kyk vanuit ‘n gans ander posisie as al die ander mense. Hy kyk as buitestaander en sien nuwe verbeeldingryke moontlikhede. Hy kyk na ons wêreld en sien al die dinge wat ons dink so grou in graniet, so swart op wit staan, en dus so onveranderlik vir ons syn – en eintlik glad nie so hoef te wees nie. Die onveranderlikheid van so ‘n wêreld kan smelt en vervaag voor hulle wat dit gaan waag om te lag. Daardie praatjies van “dis nou maar hoe dit is, en dis nou maar hoe dit werk” skeer Hy die gek mee; ja, Hy skeur dit uitmekaar! Hy stel iets seriously imaginable voor!

En die grapmaker se draakstekery vind behoorlik plaas in Matteus 5:38-42. In vers 38 begin dit met “Julle het gehoor dat daar gesê is: ‘’n Oog vir ‘n oog en ‘n tand vir ‘n tand.’” ‘n Uitdrukking waarmee die eerste hoorders en ons goed vertroud is, want so staan dit tog in die Wet geskrywe om alle vorme van vergelding binne perke te stel.

Dit mag dalk nie vir ons so klink nie, maar dié voorskrif rakende “vergelding” was aanvanklik genadig van aard. Dit was destyds as goeie nuus bedoel én gehoor. Eintlik moet die verse vertaal word met “en nie meer as ‘n oog vir ‘n oog nie … en nie meer as ‘n tand vir ‘n tand nie!” Die Wet wil geweld begrens, beperk, reguleer, in regte pariteit plaas. Hoekom? Want ek het net jou tand gevat, en nou wil jy my hele kop hê; ek het net jou oog gevat, en nou soek jy my lewe!? Nee, laat daar tog ook in ons vergelding en reaksie op die onreg ‘n skaal van regverdigheid wees; dit moet darem ooreenstem met dit waarop gereageer word. Kortom, nogal progressiewe wetgewing waarmee ons hier te make het! Geensins verkramp en behoudend nie, of hoe?

Maar, maak nie saak hoe “begenadig” en “regverdig” dit probeer wees nie, dit is en bly binne dieselfde paradigma en logika van geweld-wat-vra-na-nog-geweld. Ja, daar is pariteit; ja, daar is sensitiwiteit en selfs ‘n soeke na wat reg is, maar die sirkel van geweld word voortgesit! Die orde en logika van die wêreld is en bly dieselfde, al is dit meer beskaafd, gesofistikeerd, “sagter” – dis nog steeds dieselfde!

Is dit net in die Wet wat dit so werk? Is dit net in die reg- en strafregstelsels wat dit so werk? Is dit net by sommige mense en in sekere tye wat dit so gewerk het? Allesbehalwe! Dit is vandag nog so! Dis omtrent oral in die lug wat ons inasem. Dis in die DNS van hoe ons die wêreld leer ken en reguleer. Dit is in ons persoonlike verhoudinge, die wyse waarop ons ons kinders grootmaak, dorpe en gemeenskappe bestuur, op koerantopskrifte reageer, en hoe ons graag te velde trek teen ander. Dit is in “Seun, as hy jou slaan, slaan hom terug”. Dit is in veldtogte soos “Bring terug die doodstraf”. Dit is in die land wat oorlog teen ‘n ander ondersteun! In kort, natuurlik het jy rede om so op te tree, en natuurlik het die ander dit eerste gedoen, maar só word die sirkel van geweld nooit verbreek nie! Trouens, dit word so deur ons bevestig en voortgesit! So maak ons inderdaad van geweld, onreg, en dood iets onveranderlik en oneindig! Ons maak dit niks anders nie as normatief.

Hoor dan net vir ‘n oomblik wat sê Jesus: “Maar Ek sê vir julle …” Verbeel jou vir ‘n oomblik daar is ‘n ander uitweg, ‘n ander moontlikheid – hoe gek of mal of snaaks dit ook al vir ‘n eerste aanhoor mag klink! Verbeel jou vir ‘n oomblik “wat as …”: “Wat as” dit glad nie so hoef te wees nie; nie so in beton gegiet is nie, en nie so in ink geskryf en so blou gedruk staan nie!? Wat as … verbeel jou! Wat as Jesus eintlik hier bietjie die spot begin dryf met almal wat so ingesuig is in hierdie wette en voorskrifte!

Wat van ‘n bietjie minder wette en voorskrifte, en meer verbeelding en speelsheid …?

Wat van ‘n bietjie minder erns en stroefheid, en ‘n bietjie meer lag en pret …?

Wat van ons reageer op al die onreg om ons, maar nie met nog meer wette nie, en nie so stroef en ernstig nie, maar bietjie baie meer gek, speels, snaaks, skreeusnaaks, en vryer!

Is dit nie presies wat Jesus doen as Hy hier reageer op die voorval met die kleed nie? Hier is die situasie: ‘n Arm persoon word voor die hof gedaag vir skuld. Jy het niks om te gee nie, slegs die klere aan jou lyf. Daarom word jy gedagvaar vir jou onderklere … en nou sê Jesus, in so ‘n geval, gee ook aan die persoon wat so iets doen jou boklere!

Hoekom? Hoe op dees aarde kan dit tog nou ook van die persoon gevra word? Dit kan tog nie wees dat Jesus juis armes nog verder wil stroop en uitbuit nie? Dit kan tog nie wees om die arme belaglik en kaal in die strate te laat loop nie? Nee, inderdaad nie!

So wat dan? Jesus se bedoeling hiermee is nie om jouself te ontbloot nie, maar veel eerder die ander persoon wat dit reeds van jou eis! Deur ook aan die persoon jou bokleed te gee, openbaar jy eintlik hoe kaalgestroop die persoon en stelsel is wat reeds in die eerste plek jou onderkleed geëis het. Deur dit te doen, is allermins om boedel oor te gee en beskaamd voor die wêreld te staan. Nee, dit is veel eerder ‘n daad van protes en weerstand waarin die ware onreg skaamteloos ontbloot word! Die naakte liggaam laat die kollig val op die valse fassade en pretensie waarmee skynbaar na regte gehandel word. Deur juis dan ook jou boklere te gee, is dit nie ek wat kaal in die straat sal stap nie, maar die baas, die onregverdige werkgewer, die bepaalde ekonomiese sisteem! Rykes wat die armes net nog verder uitbuit, sal so ontbloot en ontmasker word. En Jesus vra nie net die kerk om Hom hierin na te volg nie, maar bemagtig in die proses die einste mense wat as slagoffers voorgehou word. Moet vir geen oomblik dink hy vra en bepleit ‘n passiewe boedel oorgee van die armes nie … inteendeel!

Hy vra en pleit met die voorbeeld om Hom na te volg om die gek te begin skeer met dié wat dink hulle is so sterk en magtig! Deur só die draak te begin steek, en so gek te skeer, en gek oor te kom, is dalk net die manier waarop Jesus die waarheid aan die magtiges wou bring – en ons nou roep om Hom hierin na te volg.

Hoe klink dit?

Kom ons kyk na die ander geval – die draai van die ander wang.

Hier is dit nogal uiters belangrik om op die fynere detail te let, naamlik dat Jesus begin met “As iemand jou op die regterwang slaan …” Regterwang? Hoe slaan jy iemand op die regterwang? Eerstens, veronderstel dit jy slaan met die regterhand … en as jy met die regterhand iemand op die regterwang moet slaan, dan doen jy dit met … ‘n backhand! ‘n Rughandhou!

En wie slaan gewoonlik vir wie met ‘n backhand? Dis hoe heersers onderdane deur die geskiedenis op hul plek sou sit, met ‘n rughandhou. Dis hoe slawe deur hul eienaars geslaan is; vrouens deur hul mans, kinders deur hul vaders. Kortom, die “rughandhou” is hoe die sosiale hiërargie en orde bevestig word. Dis hoe baas se baasskap en klaas se klaasskap opnuut weer bevestig en onderstreep word. Met ander woorde, waar dit gebeur, word die orde van die ou wêreld net weer sterker in beton gegiet en in blou gedruk …

En as dit gebeur, sê Jesus: Draai nie net weer dieselfde wang nie, maar nou die – aha! – linkerwang! Die ander wang. Met ander woorde, moenie niks doen nie; moenie dit net so aanvaar nie; en moenie vra dat dieselfde weer gebeur nie, maar keer die orde op sy kop deur te vra om op jou linkerwang geslaan te word! Daag die sosiale hiërargie uit deur te vra om nie meer na my te slaan as onderdaan en mindere nie, maar as gelyke! Waar geslaan word met plat hand (oop hand) is die veronderstelling tog ons is nou gelykes … en dis wat Jesus hier vra (of ten minste verbeel!). Nes ek wonder of jy my regtig sal kaal uittrek, wonder ek of jy my regtig ook met die plathand op die linkerwang, as gelyke, sal slaan. Sal jy?

Ja, vir ‘n oomblik word die normale gang van sake onderbreek, versteur, en ‘n ruimte en oomblik geskep waarin iets nuuts verbeel kan word … iets nuuts kan gebeur! Verbeel jou net … !

En dis inderdaad ook so die geval met die voorbeeld van die tweede myl. ‘n Romeinse soldaat mag ‘n persoon slegs gedwing het om sy goed vir hom een myl ver te dra, en niks meer nie. Maar, weereens, verbeel jou gou net vir ‘n oomblik hier is iemand wat dit uitdaag – ja, letterlik bespotlik en belaglik maak. “Goed, ons kan nou maar stop. Dis een myl. Jy kan maar die goed neersit.” “Nee, asseblief ek wil dit graag nog ‘n myl vir jou dra.” “Nee, jy mag nie, dis teen die wet.” “Ek gee nie om nie. Ek wil graag.” “Nee, dis teen die wet. Jy sal my in die moeilikheid bring.” En-en-en.

Kortom, so ‘n optrede is behoorlik ‘n stok in die wiel van die regering van die dag. Dit daag die hele sosiale orde uit. Dit maak dit belaglik. Dit dryf die spot daarmee. Dit ontbloot die wetteloosheid van hul wette. Ek meen, as ek dit nie vir ‘n tweede myl mag dra nie, hoekom my enigsins dwing om iets te dra! Weer eens ‘n oomblik van gekheid – malligheid – waarin ‘n vreemde verbeeldingryke iets – gans anders – kan gebeur!

Sulke “dwaasheid” wat Jesus hier leer en verkondig, is inderdaad nie die uitsondering op die reël nie, maar die goue draad reg deur sy ganse lewe en bediening. Sulke “malligheid”, “gekheid”, “verspotheid”, “draakstekery”, vind ons letterlik van wieg tot graf. Van die dorpie waar daar vir Hom – Skepper van die heelal – geen plek is nie, sodat Hy in ‘n stal in ‘n krip neergelê moes word … en die maagd toe ook nie prinses so en so is nie, maar net ‘n gelowige meisietjie met die naam Maria. Sulke “gekkigheid” is deel van sy lering en in sy praktyke. Messias, sê julle, maar daar is ook sprake van Hom as vraat en wynsuiper. Kyk wat doen Hy op die Sabbat – al ooit sulke oneerbiedigheid gesien? Het julle gesien saam met wie hang Hy graag uit, en wie volg hom – tollenaars, prostitute, siekes, en moenie vergeet van al die kinders nie! En, dan “hang” Hy daar aan die kruis tussen misdadigers, en sy vriende maak asof hulle Hom nie ken nie … en dit is die Messias!? G’n wonder dat Paulus sê: Vir die Grieke is dit skynbaar dwaasheid, vir die Jode swakheid, maar vir ons, wat dit vreemd genoeg amusant vind en glimlag, is dit voorwaar wysheid en krag! Hy draai die wêreld en sy “vaste orde” omtrent op sy kop!

Of wat praat ons nou als? Grap jy? Trek jy my been? Nee, ons steek die draak!
116 | Maatskaplike NOODLYN