Skip to content Skip to sidebar Skip to footer

Kom laat ons sing!

Deur ds Janke Hurter, Erediens Netwerk

Musiek lê my na aan die hart omdat my ervaring ook is dat, soos Martin Luther dit stel, “musiek geloof kweek”. Alhoewel ek vanuit my liefde vir musiek wil sê: “Kom laat ons sing”, sal ons die uitnodiging ook onder gelowiges hoor, veral in hierdie Paastyd, waar ons nie net rede het om te sing nie, maar ook as’t ware met ‘n nuwe lied in die mond staan. Daar is egter vanjaar nog ‘n rede waarom ons as Protestantse kerk kan/wil sê: “Kom laat ons sing!” Vanjaar is dit die 500ste bestaansjaar van die Protestantse liedboek, en ter viering daarvan wil ek graag hier fokus op die liturgiese rol wat musiek speel in die erediens – wat ons verdere rede gee om te sê: “Kom laat ons sing.”

In Waar kom die Afrikaanse gesange vandaan? skryf Cillié (1983) oor die moontlike gevare wat musiek inhou. Hy verwys na die himnes, ‘n andersoortige lied, wat in die vroeë stadium van die Christelike kerk van Grieks-heidense kant af hul verskyning in die kerk begin maak en gewild geraak het. Augustinus het só daaroor geskryf:

“So dikwels as wat die pragtige sangstem in die kerk my bekoor, eerder as die woorde wat gesing word, moet ek bely dat ek swaar gesondig het, en dan wens ek dat ek die musiek liewer nie gehoor het nie.” (16)

Afgesien van die moontlike gevaar wat musiek inhou, soos Cillié ook noem, wil ek graag ter viering van musiek en die Protestantse liedboek fokus op die bydrae van musiek tot ons aanbidding in die Nederduitse Gereformeerde kerk.

Musiek verhoed dat ons aanbidding iets vreemds vir die alledaagse lewe word. In Dancing with Deity (2018) sien Cilliers musiek as lewe in klank, maar ook as iets wat gebruik word om ons juis terug te bring in die ritmes van die lewe (131). Musiek word dus nie net deur die mense op die verhoog uitgevoer nie, maar ook deur almal as deel van die alledaagse lewe.

Musiek en sang in die erediens vorm ‘n stuk prediking. Müller verduidelik in Die erediens as fees (2011) dat sang die boodskap van die evangelie soms meer effektief oordra as die gesproke woord (41). Verder is kerksang en -musiek volgens Müller belangrik, aangesien dit ook uitdrukking van belydenis is, en dus ‘n geloofsvormende rol speel.

“Musiek kan help met die wek van geloof,” het Martin Luther gesê. Cillié vertel dat die kerklied ook ‘n rol speel in die sendingywer van die kerk (15). Hy verwys onder andere na Paulus wat saam met Silas op sy tweede sendingsreis in Filippi aangekom en in die tronk gestop is. Dit is in die tronk waar Paulus en Silas begin sing het en die ander gevangenes na hulle geluister het (Handelinge 16:25).

Daar is verskeie dele van die Liedboek van die Kerk wat ek wil besing en waarvoor ek groot waardering het. Maar dit is veral die 11 Taizé-liedere wat ook in die Liedboek vervat is waaroor ek wil juig. ‘n Verdere bydrae van musiek tot aanbidding wat duidelik in die Taizé-liedere te sien is, is die versoenende en ekumeniese rol wat musiek en sang kan en wil speel, veral wanneer mens die konteks van die Taizé-gemeenskap hier in gedagte hou. Dit is ‘n bydrae van sang en musiek wat miskien ook binne ons eie konteks in Suid-Afrika – waar ons vervreemding en verdeeldheid ken, selfs ook binne die konteks van die erediens – opnuut weer waardeer moet word.

Saam met Martin Luther sê ek graag: Musiek is ‘n gawe van God – ook vir ons gesamentlike aanbidding op Sondae.

116 | Maatskaplike NOODLYN