Deur dr Martin Laubscher | Erediens Netwerk
In verlede jaar se Beecher Lectures vertel Alexander Deeg van ’n prediker wat ná jare in die bediening meteens die gewoonte begin ontwikkel het om bloot ná min of meer sewe minute in die preek skielik te stop en oor te gaan na die volgende liturgiese handeling in die erediens. Aanvanklik het die mense gedink dit is ’n fout, hy word oud, en is besig om dit te verloor, maar vreemd genoeg het die impak van sy prediking (en die res van sy bediening) merkbaar begin toeneem. Meteens was die gesprekke ná die tyd by die teekan heeltemal anders. So ook Sondagmiddag se “gebraaide dominee” aan die etenstafel. Heelweek sou mense wonder oor hoe die preek dan nou verder moes verloop het. Gaandeweg het mense met al groter waardering die preke begin vul deur die sin daarvan verder vir hulself te ontsluit. Waar die predikant en gemeente vantevore so doodseker was, alles klaar uitgewerk en afgelewer – punt; period – was dit nou meteens oop en onderweg na iets veel groter as voorheen. Meteens breek die “hiernamaals” in die erediens aan, verander die toe-koms in God se in-koms (Advent heeljaar!), en is die gemeente weer in beweging uit die graf, onderweg na die groot Fees.
In sy onlangse boek, Sinsoekers: Tussen Twyfel en Troos (UJ Press, 2023), skryf Johan Cilliers weer aangrypend oor hoe bevrydend dit kan wees om met ’n gesonde onsekerheid te leef en te preek. In plaas van sekuriteitswagte wat ten alle koste ’n bepaalde ysterteologie beswaard bewaak vanaf die kansel as wagtoring, is ons eerder geroep om peuters van ’n spelende God te wees wat voortdurend die stukke rondom ons bly optel en herrangskik in ons soeke na sin. Cilliers het dit veral daaroor dat ons identiteit nie as ’n volledige intakte en geïntegreerde produk moet sien nie, maar veel eerder as ’n gebroke en onderbroke proses. Vir hom pas identiteit en fragment by mekaar. Daar is tyd en ruimte in identiteit, en dit impliseer die gawe van ’n fragment. ’n Nuwe (oom)blik op my identiteit as gelowige weerhou ons daarvan om in onbeweeglike monumente te ontaard, “nie intakt te wees nie, maar eerder as ’n fragment in die vertroue op realisering van ’n groter geheel te leef” (51). Teenoor ’n klipkop, eerder ’n verwonde hart vol verwondering. Daar is ’n hunkering en verlange na iets/Iemand groter, dieper, en meer.
As mens mooi daaroor nadink, maak dit tog sin. Fragmentasie het dit juis om die onderskrywing van die liefde, naamlik dat ek/ons nie die enigste fragment op aarde is nie, maar juis dat “die sogenaamde ander” ons idees oor liefde en identiteit sal uitdaag (en verryk). In teenstelling hiermee manifesteer sonde pertinent teenoor die fragment, naamlik “as ’n vorm van identiteit wat sekuriteit soek in ’n vaste en finale status”. Laasgenoemde het dan ook nie “genade” nie, want dit benodig geen Ander en/of groter geheel nie. Die geheel van die kruis skuil in die optel en daarstel van die skerwe. Dit is tegelykertyd veelseggend en paradoksaal. Vervolgens is die opstanding nóg die afsluiting óf toemaak, nóg die opheffing óf isolering, maar die radikale ontsluiting van die kruis se fragmentasie en ons gepaardgaande identiteit.
Dalk is dit tyd om (weer) geheel en al met net ’n blik op die fragment van die preek op weg te gaan … Alert: No spoilers!