Skip to content Skip to sidebar Skip to footer

Bedieningsbegeleiding Nuusbrief Julie 2020

Grendeltyd is vanaf Donderdag 26 Maart om 23:59 in Suid-Afrika toegepas. Vir die afgelope vier maande is dit ‘n uitdaging vir almal van ons om sin te maak van hierdie
“nuwe normaal”. Jare gelede is ek deur die koerantman en teoloog, Willem de Klerk, aan die term “polariteit” bekend gestel. Hy benut dit om uitdrukking te gee aan twee oënskynlik teenoorgesteldes, waarvan beide uiteenlopende kante waarhede dra en dat beide vasgehou behoort te word. Ons beleef in grendeltyd verlies en wins; afskeid neem en ontmoeting; teleurstelling en verrassing. Persoonlik was ek nog altyd ten gunste van netwerke, maar in hierdie tyd (en dit is die groot verrassing) is netwerke herdefinieer en onverwagse momentum gekry. Bedieningsbegeleiding wil graag getuig van twee netwerke met nuwe dinamika.

Voorgesette Bedieningsontwikkeling (VBO’s)
Die VBO-Forum het al geruime tyd die noodsaak van aanlyn-VBO’s vir leraars onderstreep. Die koste, reëlings en tyd wat met residensiële gepaard gaan, kom al meer onder druk. Die tegnologie is tog beskikbaar. Uiteindelik is ‘n uitgebreide ontmoeting op 8 September te Wellington op ons dagboeke neergepen om aanlyn-VBO’s te beplan, uit te rol en van stapel te stuur (gewigtige werkwoorde wat na groot werk klink). Toe word ons vasgegrendel. Vir die eerste paar dae was die meeste van ons afgesonder, verdwaas en selfs effens verwese. Na die ergste skok, het ons weer tot verhaal gekom. Meer as net weer asemskep was daar verrassende inisiatiewe en samewerking – en (Voila!) nuwe netwerke.

Minder as twee weke na die aanbreek van die grendeltyd is die VBO-Forum se eerste aanlynopleiding met die tema “Liturgie vir ongekarteerde tye” op 8 April deur Cas Wepener aangebied. Hierdie aanlyn-VBO sien die lig vyf maande voor die beplande groot loodsingsvergadering in Wellington! Weer ‘n polariteit … die pandemie het ons stadiger en vinniger laat beweeg. Daar is reeds nege aanlyn-VBO’s van die VBO-Forum op Hugenote Kollege se MyNotes elektroniese-platform gratis beskikbaar en VBO-punte word word aangeteken sodra leraars die aanbieding voltooi.

 DatumOnderwerpAanbieder/Gespreksleier
18 AprLiturgie vir ongekarteerde tyeCas Wepener
215 AprPastorale sleutels vir ‘n Covid-19 grendeltydJan-Albert van den Berg
322 AprNetwerke vir nou (LEAN)Erwin Schwella
429 AprTeologie in die tyd van Covid-19Heerden van Niekerk
56 MeiNagedink oor God en lyding: Perspektiewe uit OTJames Kirpatrick
613 MeiCovid-19 en die EkonomiePiet Naudé
727 MeiPandemies – ‘n Historiese PerspektiefAndré Bartlett
83 JunKerk en Covid-19Frederick Marais
98 JulWanneer tuisbly nie veilig is nie (Gendergeweld)André Bartlett

Die volgende aanlyn-VBO oor rassisme is vanaf 5 Augustus beskikbaar waarna ‘n reeks oor die pas gepubliseerde boek van NetACT “African Public Theology” volg.

Aanlyn-VBO’s kan nie sonder netwerke realiseer nie: sogenaamde VBO-diensverskaffers (Communitas, Excelsus, NG Kerk Vrystaat), Algemene Sinode, sinodale verteenwoordigers, Hugenote Kollege, ZOOM, redigeerders, grafiese ontwerpers, gespreksleiers, paneellede, deelnemers, ensovoorts.

Kontak my gerus vir meer inligting oor VBO-geleenthede (082 842 7028). Vir meer inligting oor hoe om te registreer vir hierdie VBO-geleenthede, kontak vir mnr Tertius Botha (Sinodale kantoor) op 051 406 6700.

Vrystaat Voedselhulp
Kerke is na die uitbreek van die Covid-19 pandemie oorval met aansoeke om voedelhulp. Oorweldigende nood op ons voorstoepe werk samewerking en netwerkvorming in die hand. Vrystaat Voedselhulp is ‘n sambreelinisiatief vir ‘n verskeidenheid van vennote netwerk:

  • Agbiz (die nasionale landboubesigheidskamer)
  • Landboubesighede (Senwes, GWK, BKB, AFGRI, VKB, OVK)
  • Silostrat en iTau (meulens)
  • RICD (Reformed Initiative for Community Development is ‘n NPO onder beskerming van die NG Kerk Vrystaat)
  • Media
  • Boere en plaaswerkers
  • Donateurs en ontvangers
  • Gemeentes (wat die voedselverspreiding hanteer)

Die mikpunt is om gesamentlik 1 000 ton wit mieliemeel (in 200 000 5 kg sakkies) gedurende hierdie boekjaar aan behoeftiges in die Vrystaat te lewer. Word gerus deel van hierdie netwerk!

Groete uit die Bedieningsbegeleiding-kantoor.