Skip to content Skip to sidebar Skip to footer

Die 8ste dag: “Stil maar, wag maar, alles word nuut – die hemel en die aarde!”

Deur ds Janke Hurter  |  Erediens Netwerk

’n Vasgestelde ritme van aanbidding is algemeen in die wêreld van godsdiens. Terwyl aanbidding elke dag gedoen word, en baie keer selfs verskeie kere gedurende die dag, word sekere dae as veral heilige dae gesien. Vir Christene is Sondag die vasgestelde dag van gesamentlike aanbidding. Regoor die wêreld kom talle Christene vanuit verskillende rigtings Sondag ná Sondag bymekaar om te deel in die gesamentelike aanbidding van God. Sondag, ’n dag van gesamentlike aanbidding, en ook ’n heilige dag van rus.

Afgesien daarvan dat die meeste Christene Sondag as ’n dag van rus en gesamentlike aanbidding beskou, is dit ook ’n dag waarop God Sy skepping kom nuut maak. Hierdie eskatologiese karakter van Sondag word beklemtoon deur Sondag nie net as die eerste dag van die week te sien nie, maar dit ook as die agtste dag te sien. ’n Dag wat verby die sewedagsiklus van die week strek. ’n Dag wat as’t ware BUITE die sewedagsiklus van die week strek. ’n Dag wat ná die sewedagsiklus van die week kom.

In haar werk Missional worship and worshipful mission (2014) sien Ruth A. Meyers dit as die eerste dag waarop God die skepping nuut kom maak het. Of soos Michael Patella ook in sy werk And God created laughter: the eighth day noem, op die agtste dag word die Bose, lyding en dood verneder voor die aangesig van God en God se kinders (164). Die agtste dag kan daarom ook gesien word as die eerste dag van die begin van die wêreld wat gered en herstel is. Dit is ’n wêreld wat deur God se Woord geskep is en steeds geskep word deur die werking van die Heilige Gees, en sigbare gestalte aanneem in die doen en late van die gemeente wat gestuur word om in die wêreld te gaan leef. Dit is juis hierdie agtste dag wat deur God se Woord geskep is en die hoop wat dit vir mense inhou, wat maak dat Christene anders leef in die sewedagsiklus van die week.

Die agtste dag het niks wat daarop volg nie. Dis ’n dag (’n ewigheid?) wat geen einde ken nie. Wanneer die eerste Christene Sondag as die agtste dag gevier het, het hulle daarmee ook getuig dat God se nuwe skepping met die opstanding van Jesus Christus begin het. Daarom is Sondag vir ons as gelowiges ook ’n herinnering aan die hoop wat in ons leef: Soos Lied 601 in die Liedboek van die Kerk ook van daardie hoop vertel “Stil maar, wag maar, alles word nuut – die hemel en die aarde!”
116 | Maatskaplike NOODLYN