Skip to content Skip to sidebar Skip to footer

Die stand van die bediening in Covid-19 (Wes-Kaap)

Die Sinode van die Wes-Kaap het ’n vraelys aan gemeentes gestuur om inligting in te win oor die stand van gemeentes in die tyd van Covid-19.  Die inligting is verwerk op 5 Maart 2021.  Van die belangrikste inligting wat na vore gekom het, is die volgende:

  • Gemeentes het ‘n inkrimping in die jaarlikse inkomste van ongeveer 15% gehad.  ’n Afname in aktiwiteite as gevolg van inperkinge het ’n besparing meegebring wat die verlies aan inkomste versag het.  Gemeentes was in dié tyd merkwaardig innoverend om finansieel te oorleef.  Gemeentes en predikante het goed aangepas, stabiliteit getoon en geïnnoveer.  Daar is ‘n oorlewingsvermoë waarvan ons nie voorheen bewus was nie.
  • Die voorspelling is ook dat finansies nog nie hierdie jaar ‘n probleem is nie. Gemeentes gaan die finansiële verlies in die 2022-begroting voel.
  • Daar is ’n fyn balans tussen besparing en bediening.  Finansiële besparing beteken altyd besparing op die bediening.  Covid-19 het gemeentes gedwing om meer koste-effektief te werk.
  • Daar is tot die gevolgtrekking gekom dat entrepeneuriese bediening deel is van die toekoms van die kerk.  Die vraag is of predikante se opleiding hulle toerus om innoverend/ entrepreneuries te dink?  Teologiese opleiding fokus op akademiese opleiding.  Ons word in hierdie tyd gedwing om weer goed te dink oor die predikant se rol.  Wat moet die dominee doen en wat kan lidmate doen?  Lidmate het ook vaardighede.
  • Plattelandse gemeentes vrees die toekoms minder.  Die vraag is of dit so is as gevolg van groter koinoniale bande?
  • Die gewaarwording is dat program-grootte gemeentes meer bekommerd is oor die verbruikerskultuur wat versterk is in COVID as familie-grootte gemeentes.  Gemeentes wat hulleself in terme van hulle roeping definieer (in plaas van bestuur en programme) het veerkragtigheid.
  • Koinonia sal in die post-Covid era waarskynlik die belangrikste fokus wees.  Dit konfronteer gemeentes met die vraag hoe ruimtes geskep word wat onderlinge gemeenskap van geloof verbeter.  Daar is ‘n korrelasie gevind tussen predikante se interaksie met die gemeente en die funksionering van koinonia in die gemeente.
  • Ten spyte van COVID-moegheid het predikante ‘n besondere veerkragtigheid openbaar.
  • Gemeentes het aangehou om uit te reik en het in netwerke gewerk.  Covid-19 het gemeentes gehelp om by onbereikte mense uit te kom.
  • Die gevolgtrekking uit die voorafgaande is dat die kerk nie bloot angstig hoef te wees nie.  Wat die tyd van ons vra, is doelbewuste, gefokusde leierskap.  Predikante moet as leiers gehelp word om die gemeente sonder angs vorentoe te neem.  Ons sal mooi moet dink oor die tipe leierskap wat predikante aan die dag moet lê.  Ons kan nie meer vir dominees generiese toerusting gee nie.

Aldus die Wes-Kaap vraelys.

André Barlow | Sinodale verteenwoordiger vir predikantesake | 084 547 9999 | andrebarlow53@gmail.com