Skip to content Skip to sidebar Skip to footer

Ekologie: Koop niks nuuts nie!

Deur Mariëtte Odendaal

Kom in November klaar met wat jy het

Wanneer is genoeg genoeg?

In 2010 het ’n eenvoudige maar kragtige beweging, Buy Nothing New Month, in Brittanje begin. Die doel van hierdie beweging was om mense aan te moedig om vir een maand geen nuwe produkte aan te skaf nie — nie as ’n straf of beperking nie, maar as ’n geleentheid om ons as verbruikers anders te help dink oor die bevrediging van ons koopbehoeftes.

Die beweging het gou wêreldwyd aandag begin trek en vandag sluit mense in verskeie lande by hierdie beweging aan wat jaarliks in November plaasvind. Dit is die maand waarin jy besluit: “Ek koop hierdie maand niks nuuts nie.”

Wat behels dit?

Koop-niks-nuuts-nie gaan nie daaroor om heeltemal niks te koop nie. Kos, medisyne en noodsaaklike items bly natuurlik deel van die alledaagse lewe.

Die uitdaging lê daarin om nie nuwe materiële besittings soos klere, meubels, toestelle of luukse artikels te koop nie, maar om te kyk wat jy reeds beskikbaar het en dit te gebruik.

Dit beteken om te hergebruik, te herstel, te ruil, of tweedehandse items aan te skaf. Só word ons bewus van hoe vinnig ons onnodig koop en weggooi; hoe maklik ons ontevrede raak in ’n wêreld wat jou aanmoedig om altyd nog ’n beter, duurder of spoggeriger item aan te skaf.

’n Geestelike oefening

Vir ons as Christene bied hierdie inisiatief ’n waardevolle geloofsoefening. In ’n tyd van oorvloed en materialisme herinner Koop-niks-nuuts-nie ons aan Jesus se woorde: “Pas op en wees op julle hoede vir elke vorm van gierigheid, want ’n mens se lewe is nie afhanklik van die oorvloed van sy besittings nie” (Lukas 12:15).

Wanneer ons doelbewus ophou koop, begin ons weer waarde sien in wat ons reeds het – en in die mense rondom ons. Ons verminder afval, spaar natuurlike hulpbronne en dra by tot ’n gesonder planeet. Dit is ware rentmeesterskap: om met wysheid, dankbaarheid en liefde met die skepping om te gaan.

Die Suid-Afrikaanse konteks

In Suid-Afrika, waar armoede, ongelykheid en oorverbruik dikwels hand aan hand gaan, kan Koop-niks-nuuts-nie ’n geleentheid vir solidariteit en geloofsgetuienis bied; om saam te dink oor eenvoud en hoe om te deel.

Wanneer ons minder koop, maak ons ruimte om te gee – aan mekaar, aan diegene in nood, en aan die aarde wat ons tuiste is.

Wat kan ons prakties doen?

As gemeente of gesin kan ons hierdie maand saam ’n verskil maak. Reël byvoorbeeld ’n ruildag waar mense klere, boeke of huisware met mekaar kan uitruil.

Herstel eerder iets as om dit weg te gooi, of ondersteun plaaslike tweedehandse winkels.

Gebruik dié maand om saam met jou kinders te gesels oor wat werklik waarde het en hoe ons God eer deur artikels te versorg in plaas daarvan om oorvloed na te jaag.

Só word Koop-niks-nuuts-nie nie net ’n uitdaging nie, maar ’n viering van eenvoud, dankbaarheid en geloof – ’n manier om ligdraers te wees in ’n wêreld wat dikwels te veel het, maar te min waarde heg aan wanneer genoeg genoeg is.

Lees meer daaroor HIER