Skip to content Skip to sidebar Skip to footer

Die Outentieke Persoon van die Prediker

’n Paar onlangse gebeure het my aan die dink gesit rondom outentisiteit. Met outentisiteit bedoel ek die gevoel dat daar eerlikheid, legitimiteit en geldigheid teenwoordig is. In nadenke oor prediking, is daar ook baie nadenke oor die persoon van die prediker, omdat ons uiteraard nie ons menswees kan losmaak van die kuns van prediking nie. En sonder uitsondering, word daar voorgestel dat die prediker outentiek moet wees in persoon. Maar, dit is bloot nie so eenvoudig as om te sê dat jy net jouself moet wees nie. Veral omdat prediking ten diepste altyd ’n teologiese visie besit, ongeag of die teologiese visie van goeie of swak gehalte is. Nieteenstaande, en ons weet dit uit ons verlede, teologiese visies kan korrup word en ideologieë meesleur wat baie problematies is. En indien dit in die verlede gebeur het, kan dit ook in die hede gebeur.

So vind ek myself in die bevoorregde posisie om na ’n preek van ’n ander prediker te luister. En voor die tyd gesels ons vir ’n paar minute oor die lewe. Ten diepste, ’n aangename persoon met wie ek net ’n positiewe ervaring gehad het. Hy het my vertel van al die dinge waarmee hy besig is, asook al die uitdagings van sy verskeie ondernemings in die lewe. Anders gestel, hy het, soos ons almal, ’n lewe van uitdagings, oorwinnings, tekortkominge en bekommernis. ’n Mens wat nog nie (en mees waarskynlik ook nooit) alles sal kan oplos nie. Hiermee het ek sterk geassosieer, want ek ook is nie volkome en weet nie alles nie.

Toe begin hy preek en hy was ’n ander persoon. Weg is al die twyfel, onsekerhede, bekommernis en alles wat menslik is. En nou het hy ’n antwoord en ’n opdrag vir elke aspek van Christen-wees. Ek wonder, indien ek nie teologiese opleiding gehad het en met hom vooraf gesels het nie, sou ek mees waarskynlik daardie diens verlaat het met ’n absolute skaamte vir my menslike tekortkominge teenoor die wyshede wat hy gedeel het.

Ek het ook onlangs die hofsaak van Johnny Depp gevolg. En meermale het ek daar ’n man gesien wie se grootste foute en tekortkominge voor die hele wêreld ontbloot is, sonder dat hy homself probeer regverdig het of verantwoordelikheid ontken het – maar bloot eerlik is. Dit teenoor Amber Heard wat so hard probeer om haar waarheid die waarheid te maak, dat dit baie duidelik is dat sy slegs ’n rol speel.

Ek was ook op ’n tyd oortuig dat ek as prediker ’n rol moes speel. Dat ek nie eerlik kon wees oor wie ek was nie, watter tekortkominge ek besit het nie, veral nie indien dit teenstrydig is met my teologiese visie nie. Maar dalk is dit juis op hierdie punt – waar ’n teologiese visie nie ooreenstem met wie ons is nie – dat ons moet heroorweeg oor hoe ons teologies dink en ook preek. Het Job sy rou van God weggesteek om die teologiese visie in stand te hou dat ellende slegs volg op sonde? Het die Dawid gehuiwer om uit te skreeu, “My God, my God, waarom het U my verlaat?” (Ps 22:2), selfs wanneer God oral is? Het die skrywers van die evangelies verhoed om van Petrus se verloëning te skryf, selfs al was hy ’n belangrike apostel?

Hulle wat luister na ons preke, is goed ingestel op die verhouding tussen ons menswees en wat ons sê. Dalk moet ons nie ons sogenaamde “skynheiligheid” wegsteek nie, maar juis in die ambivalensie van ons menslikheid inleef. Uiteraard is die prediker ook iemand met uitdagings, oorwinnings, tekortkominge en bekommernisse, wat nie die probleme van menswees opgelos het nie.