Deur Mariëtte Odendaal
“Om jou gedrag en denke te verander, ís moontlik. Neuroplastisiteit – die brein se vermoë om nuwe verbindings te vorm – is ’n wonderlike stuk gereedskap tot ons álmal se beskikking, maar dit vereis herhaaldelike inoefening.”
Dr Pieter van Jaarsveld
Op 30 September en 1 Oktober het dr Pieter van Jaarsveld, sielkundige en uitvoerende hoof van Tandem Training, ’n ringskommissiewerkswinkel in Bloemfontein vir ons Vrystaat-leraars aangebied.
As teoloog en geregistreerde sielkundige is sy opleiding, insigte en veral die talle boeke wat hy al oor die jare die lig laat sien het, vir iedereen van onskatbare waarde.
Ons het meer gaan uitvind oor hierdie erkende internasionale konsultant in die sakewêreld en welbekende spreker op radio en televisie.
Pieter, vertel ons meer van jou agtergrond
“Ek is gebore in die Noord-Kaapse dorpie Pofadder, waar ek tot in Graad 10 skoolgegaan het. Daarvandaan is ek na Paarl Gimnasium vir Graad 11 en 12, aangesien dit nie in Pofadder aangebied is nie.
“Daarna het ek my BA, BA Hons in Sielkunde en later ook ’n MTh aan die Universiteit van Stellenbosch behaal. Ek het my doktorsgraad ook aan Stellenbosch behaal waar my navorsing op die mens se selfbeeld gefokus het – iets wat baie nou by my werk, destyds as predikant, en sedertdien ook as sielkundige, aangesluit het.
“My ervaring en belangstelling het my toe verder gelei na die Randse Afrikaanse Universiteit (RAU) wat vandag deel is van die Universiteit van Johannesburg, waar ek my Meestersgraad in Sielkunde voltooi het.
“My eerste gemeente was Westergloed in Nelspruit. Ná drie en ’n half jaar in die bediening het ek ’n lektoraat aan die Universiteit Stellenbosch aanvaar, waar ek sielkunde asook pastorale sielkunde doseer het.”
Hoe het dit gebeur dat jy al hoe meer in sielkunde as beroep begin belangstel het?
“Gedurende my jare as predikant het ek besef onder hoeveel emosionele druk predikante is. Dit is byvoorbeeld moeilik vir predikante om intieme vriende in ’n gemeente te hê of kontensieuse standpunte te verdedig sonder om verdeeldheid te saai. Hierdie besef het my na die opkomende studieveld van emosionele intelligensie in die 1990’s gelei.
“Ek het al hoe meer besef dat dit nie jou kwalifikasies is wat bepaal hoe gelukkig jy is nie, maar jou verhouding met jouself en met ander. Ek het ook besef dat emosionele intelligensie in werklikheid ’n Bybelse konsep is: dit resoneer met die vrug van die Gees, naamlik liefde, geduld, sagmoedigheid en selfbeheersing.
“My betrokkenheid by hierdie nuwe denkrigting het my destyds wêreldwye blootstelling gegee deur by al ses internasionale konferensies oor emosionele intelligensie as spreker te kon optree. Ek het ook later Heart of a Winner (Hart van ’n Wenner) geskryf. Die kernboodskap daarvan was dat ware oorwinning nie in prestasies lê nie, maar in karakter, gesindheid en geloof. Dit was ook die eerste boek ter wêreld wat oor emosionele intelligensie uit ’n Christelike perspektief geskryf is.
“Aanvanklik is ek net genooi om in kerklike kringe te praat, maar dit het vinnig uitgebrei na skole en die sakewêreld – nasionaal asook internasionaal.
“Ek het vinnig besef dat besigheidsmense dikwels net so ’n behoefte aan leiding en motivering het as die mense aan wie hulle leiding en motivering moet gee.
“Ek het gevind dat baie sakeleiers nie sukkel met leierskap omdat hulle die verkeerde model volg nie, maar omdat hulle innerlik onseker is. Jy kan nie ’n goeie leier wees as jy nie ’n gesonde verhouding met jouself het nie.
“Navorsers soos Sonja Lyubomirsky en Barbara Fredrickson het ondersoek ingestel na wat mense werklik gelukkig maak. Wat fassinerend is, is hoe baie van dié beginsels Bybels is.
“My studies en ervaring het my oortuig dat geluk nie toevallig is nie, maar ’n deel van God se roeping vir elke mens. In Johannes 10:10 lees ons dat Jesus sê: ‘Ek het gekom sodat hulle die lewe kan hê, en dit in oorvloed.’ In sielkundige terme sou ons sê: ‘gelukkig’ kan wees.”
Pieter, jy is die uitvoerende hoof van Tandem Training. Vertel meer.
“My betrokkenheid in die sakewêreld en die besef dat ’n suksesvolle leier ook ’n emosionele intelligente mens moet wees, het gelei tot die stigting van Tandem Training. Van die begin af was ons standpunt dat ware groei by die individu se selfbeeld begin. Die doel van ons leierskapsontwikkeling is om mense te help om hul eie waarde en sterkpunte raak te sien en doelbewus verder te ontwikkel.
“Met die koms van positiewe sielkunde in die vroeë 2000’s het die fokus in ons opleiding al meer klem daarop gelê. Waar sielkunde vroeër gefokus het op die herstel van mense se funksionering, het die nuwe rigting gevra: Hoe help ons mense om te floreer?
“Tandem Training se benadering het prakties vrugte afgewerp. Na elke opleidingsessie het deelnemers byvoorbeeld ’n persoonlike ontwikkelingsplan saamgestel – ’n padkaart vir volgehoue groei buite die opleidingslokaal wat hulle kon help om verder op hul eie aan hierdie plan vir hul lewens te werk.” (Lees meer oor hul programme hier.)
Jy het onlangs ’n ringskommissiewerkswinkel vir die Vrystaat-leraars aangebied. Hoe het jou agtergrond en werkservaring jou gehelp om vir hierdie aanbieding voor te berei?
“My jongste boek, Dink jouself gelukkig, vertel die aangrypende verhaal van Edith Eger, ’n oorlewende van Auschwitz, en handel oor hoop, innerlike vryheid en die keuse om gelukkig te wees – selfs te midde van pyn. Dit is die boek wat ek as bron vir hierdie aanbieding gebruik het.
“’n Kernbeginsel van my werk is dat jou gedagtes en liggaam onafskeidbaar verbind is aan mekaar. Negatiewe gedagtes wek stresreaksies wat lei tot die afskeiding van die streshormoon kortisol, wat lei tot moegheid, swak oordeel, vergeetagtigheid, selfs depressie.
“Sommige navorsing toon dat 74% van alle siektes verband hou met hoë stresvlakke. Wanneer jy byvoorbeeld vyf minute lank kwaad of bekommerd is, onderdruk jou liggaam sy eie immuunrespons. Dis waarom Filippense 4:8 sê ons moet ons gedagtes vul met dit wat goed en lofwaardig is.
“Ons gebruik eenvoudige, praktiese tegnieke om mense te help om meer positief en veerkragtig te leef. Een daarvan is om elke dag drie dinge neer te skryf waarvoor jy dankbaar is. Dankbaarheid is ’n geestelike teenmiddel vir stres; dis ’n manier om jou brein – en jou lewe – doelbewus te herbedraad.”
Wat sou jy sê staan in die pad van ons geluk?
“Ons doen nie altyd wat ons weet reg is nie, omdat ons maklik die verskoning gebruik dat ons nie tyd het nie. Om jou gedrag en denke te verander, ís moontlik. Neuroplastisiteit – die brein se vermoë om nuwe verbindings te vorm – is ’n wonderlike stuk gereedskap tot ons álmal se beskikking, maar dit vereis herhaaldelike inoefening. Dis nie ’n eenmalige besluit om positief te verander nie; dis ’n lewenslange reis.
“Dit werk soos met ’n uitgetrapte paadjie oor ’n grasveld – as jy ophou om daarop te stap, groei die gras weer toe. Dis hoe gewoontes werk; jy moet volhou om die nuwe pad te loop.”
Vir meer inligting kan dr Pieter van Jaarsveld gekontak word by ppvj@tandemtraining.co.za
| Verskaf deur : Dr Pieter van Jaarsveld, sielkundige en uitvoerende hoof van Tandem Training asook outeur van die boek Dink jouself gelukkig.




