Deur dr Leon M Foot, uitvoerende amptenaar van Bedieningsbegeleiding
Brueggemann sê:
“Die wêreld vertel ons elke dag ’n verhaal van beheer, verbruik en vrees. Die Bybel vertel ’n ander een — van vertroue, vryheid en nuwe lewe. Die taak van die kerk is om hierdie ander verhaal te onthou, te vertel en te leef. Want net waar daardie verhaal gehoor word, kan mense weer leer om te glo dat iets nuuts moontlik is.”
Die beroemde Ou Testamentikus Walter Brueggemann wat ‘n paar maande gelede op die ouderdom van 92 oorlede is, skryf in Counterscript (Christian Century 29 November 2005) dat die dominante Westerse draaiboek ons in die steek laat.
Alle mense leef hul lewens volgens ‘n draaiboek. Dis ‘n soort verhaal of riglyn wat soms eksplisiet is, maar dikwels onbewus. Dit kan een van die groot meta-verhale wees wat Karl Marx of Adam Smith geskep het, of dit kan ’n stam- of familie-mantra wees soos: “My pa het altyd gesê …” Die manier waarop ’n mens hierdie verhaal uitleef, vorm jou selfbeeld, gee ’n gevoel van betekenis, en bied ’n bepaalde veiligheid.
Brueggemann begin deur te sê dat die Westerse wêreld — insluitend die kerk, vasgevang is in ’n oorheersende verhaal wat alles bepaal. Hy noem dit ‘n therapeutic, technological, comsumerist militarism. Dit is terapeuties deurdat dit ‘n produk, of ‘n proses of behandeling het vir elke moontlike pyn of ongemak sodat ons sonder ongemak kan lewe; dit is tegnologies omdat dit voorhou dat menslike vernuf elke probleme kan oplos; dit is verbruikersgerig omdat ons in ‘n kultuur leef waar ons glo dat die hele wêreld en al sy hulpbronne tot ons beskikking is sonder om ons naaste in ag te neem; en dit is militaristies omdat die sisteem deur geweld of mag beskerm word.
Hierdie verhaal is so met die alledaagse vervleg dat ons dit nie eers opmerk nie. Dit word in advertensies, politiek, opvoeding en selfs godsdiens herhaal. Die resultaat is ’n vals gevoel van sekuriteit in ‘n lewe sonder kritiese denke. En hoekom sal ons ons draaiboek bevraagteken – dit is dan alles so tot ons (selfsugtige) voordeel!
Dit is die kerk se roeping om mense van hierdie vals draaiboek los te maak. Moses het dit gedoen toe hy die volk geleer het dat baksteen-maak nie hulle roeping is nie; die profete het die godsdienstige gemeenskap herhaaldelik opgeroep om die illusie van hulle entitlement te los om eerder ‘n lig vir die nasies te wees; Jesus doen dit as hy mense oproep tot bekering, om hulle los te maak van ‘n uitbuitende godsdienstige sisteem.
Die kerk doen dit deur die getroue, geduldige, intensionele verwoording van die alternatiewe draaiboek wat die Koninkryk van God aanbied – ‘n draaiboek wat ons vry, veilig en vreugdevol maak. Dit sal al klaar ‘n groot verskil maak as die kerk net eerlik sal bevestig dat dit die werk is waartoe ons geroep is: ’n aankondiging dat God se wêreld ’n ander stel reëls het.
Om los te kom van die dominante draaiboek beteken nie net om “nee” te sê nie, maar om “ja” te sê vir ’n ander verhaal — die Bybelse teen-narratief.
Hierdie verhaal:
- vertel van ’n God wat lewe gee, nie verbruik nie,
- verkondig vrede deur geregtigheid, nie deur geweld nie,
- en belowe vryheid deur vertroue, nie deur beheer nie.
Maar baie kerke — veral liberales, sê Brueggemann — het skaam geraak vir hierdie verhaal. Hulle probeer “relevant” wees, en verloor so die vreemde, gevaarlike, transformerende karakter van die evangelie.
Die hart van die teen-narratief is die God van die Bybel — nie ’n mak, redelike of voorspelbare God nie, maar ’n lewende God wat vrylik handel en mense verras: As Job kla oor sy pyn, lyk dit of God geen pastorale sensitiwiteit het nie – Hy begin hom vertel van sy krokodil; as Jesaja kla dat Israel soos ‘n wurm voel, reageer God met fyn deernis: Moenie bang wees nie, al is jy niks meer as ’n wurm nie, Jakob … Hierdie God pas nie lekker in moderne aannames nie: Hy is soms sag, soms ontstellend, altyd lewendig. Hy weier om ’n rolmodel vir ons ideologieë te wees. Wanneer mense dan probeer om die Bybel “netjies” te maak, verloor die boodskap sy krag.
In die Bybel hoor ons meerstemmigheid — konings en profete, wyses en lydendes, almal verskil oor wie God is. Maar hierdie verskil is nie ’n fout nie; dis die ruimte van geloof. Ware geloof leef van gesprek en worsteling, nie van voorafopgestelde sekerhede nie.
Vir Brueggemann is die (belydenis)doop die daad waarmee ’n mens uit die ou verhaal geruk en in God se nuwe verhaal ingelyf word – ‘n bekering uit die draaiboek van die wêreld. “My lewe en my toekoms lê nie in my eie hande nie, maar in God se beloftes.”
Ons elkeen se bediening is die voortdurende vertolking van hierdie verhaal in ons tyd – nie as ’n stel leerstellings nie, maar as ’n lewenswyse wat bots met die oorheersende narratief.
Hierdie alternatiewe verhaal word beliggaam in die geloofsgemeenskap; die kerk is die draer van hierdie alternatiewe verhaal. Die kerk beliggaam ’n ander werklikheid:
- waarin mense deur genade, nie deur prestasie leef;
- deur gemeenskap, nie deur mededinging;
- deur roeping, nie deur ambisie.
Die geloofsgemeenskap is die plek waar God se storie vertel en geleef word, selfs wanneer die dominante kultuur daardie storie as naïef, onrealisties of irrelevant beskou.
Die alternatiewe verhaal leef nie net in woorde nie, maar in praktiese handelinge – dade wat die wêreldlike orde ontken en uitdaag.
Brueggemann noem drie kernpraktyke:
- Sabbat – die radikale onderbreking van produksie en verbruik.
Dit sê: “Ons leef nie om te produseer nie; ons rus omdat God genoeg gee.”
Sabbat is dus ’n daad van teologiese verset teen die ekonomie van eindelose arbeid.
- Erediens – ’n handeling van lojaliteitsverandering.
In aanbidding word God weer as Koning erken, en ander lojaliteite (aan geld, ras, of nasie) ontmasker as afgode.
Eredienste is dus nie “godsdienstige ontspanning” nie — dit is ’n politieke daad van aanbidding.
- Geesdrif en verwondering – die bereidheid om verwonder te wees oor God se teenwoordigheid.
Hierdie verwondering breek die versadigde, siniese gees van die moderne wêreld oop en maak plek vir nuwe moontlikhede.
Hierdie praktyke vorm saam ’n lewenswyse van verset – nie deur geweld nie, maar deur getrouheid aan ’n ander storie.
Die kerk se taak is om getrou aan hierdie storie te bly, selfs wanneer die wêreld dit bespot, ignoreer of verwerp. Ons leef in ’n kultuur wat beheer bo vertroue, verbruik bo gemeenskap, en veiligheid bo waarheid verkies. Die evangelie roep ons egter om te glo dat:
- daar genoeg is (in plaas van skaarsheid),
- ons vry kan leef (sonder vrees),
- en dat die toekoms aan God behoort, nie aan die mark of die staat nie.
Om hierdie evangelie te verkondig, vra moedige prediking en lewende verbeelding – want dit vra dat ons die wêreld anders sien as wat CNN, Wall Street of Hollywood dit wys.
Die kerk se groot versoeking is om die Bybelse verhaal te “vertolk” tot dit veilig klink, om dit te vertaal in die taal van sukses, groei en relevansie. Maar sodra ons dit doen, sterf die verhaal sy eie dood. Die wêreld het nie ’n meer “aanpasbare” weergawe van homself nodig nie – dit het ’n ander wêreld nodig, en die kerk is geroep om dit te wys.
Ten slotte sê Brueggemann: die alternatiewe Bybelse verhaal is die verhaal van hoop – nie goedkoop optimisme nie, maar die hoop wat gebore word uit die krag van God om nuut te maak. Die wêreld se verhaal eindig altyd in vermoeidheid en wanhoop: die ekonomie breek, die politiek faal, en mense verloor geloof in mekaar. Maar die Bybelse verhaal eindig in nuwe skepping.
Selfs aan die kruis, wanneer alles verlore lyk, kom die verrassende Woord van God: “Kyk, Ek maak alles nuut.” (Openbaring 21:5) Daarom leef die kerk nie uit nostalgie nie, maar uit eskatologiese hoop – die sekerheid dat God nog nie klaar is nie, dat daar nog lewe, geregtigheid en vreugde op pad is.
Om hierdie hoop te beliggaam, is die kerk se mees radikale daad van geloof in ’n wêreld wat glo dat alles reeds verby is.
Lees die oorspronklike artikel HIER.

