Skip to content Skip to sidebar Skip to footer

Winter-retreat: Geestelike dissiplines en die eise van die bediening

Deur Magdaleen du Toit,
sameroeper van die Spiritualiteit Netwerk
 

LOER hier

Moolmanshoek Moments
Facebook plasing van 3 Mei 2024

Let asseblief op die veranderde datum: 22 - 24 Julie 2024

Die Spiritualiteit Netwerk (Bedieningsbegeleiding) bied van Maandag 22 tot Woensdag 24 Julie ’n retreat vir Vrystaatse leraars aan met die tema: Die waarde van geestelike dissiplines om die eise van die bediening te hanteer. Ds Barry van der Merwe, ervare retreatleier, is die aanbieder en die retreat word gehou by Moolmanshoek LDC in die Oos-Vrystaat.

Vir enige dominee wat ernstig is oor haar of sy roeping, wat lief is vir die Here en lief is vir die gemeente, is dit moeilik om die balans te vind tussen werk, huislike lewe, ontspanning en persoonlike geestelike groei. Geestelike dissiplines soos bv. lectio divina, joernaalskryf en refleksiegebed is onontbeerlik vir die nodige balans en om uitbranding te voorkom.

Dié retreat wil leraars graag voorstel aan en bewus maak van die waarde van geestelike dissiplines vir verdieping en groei in hul persoonlike geloofslewe.

Markus 6

31Hy sê toe vir hulle: “Kom julle saam na ‘n verlate plek en rus ‘n bietjie op julle eie.” Want daar was baie mense wat voortdurend gekom en gegaan het; hulle het selfs nie kans gekry om te eet nie.

Abba Antonius, een van die Christen-woestynvaders (251-356 nC):

“Hy wat in afsondering en stilte sit

het ontsnap van drie oorloë:

die oorlog van hoor

die oorlog van praat

en die oorlog van sien.

Dan bly daar net een stryd oor om te stry,

En dit is die geveg om jou eie hart.”

Ds. Barry van der Merwe het BA, BD, Nagraadse Diploma Teologie en BA Hons Semitiese Tale aan die Universiteit van Pretoria studeer. Hy was leraar in die gemeentes Pretoria-Faerie Glen, Empangeni, Universiteitsoord, Lynnwood en Letsitele. Daarna was hy vir byna tien jaar woonagtig op Origins Retreatsentrum van die Randburgse Mosaïek-gemeente om dit te bestuur en te help met retreats en geestelike begeleiding.

Hy besoek sedert 1998 gereeld die Sediba Mountain Retreat by Hartbeespoortdam vir meer blootstelling aan die persoonlike dissiplines van stilword en kontemplasie. Hy was vier keer op retreat by die Taizé ekumeniese gemeenskap in Frankryk, en hy en sy vrou Ina het onlangs vir drie weke gewoon en gewerk in die gereformeerde klooster Grandchamp in Switserland.

Hy het besoeke gebring aan die Karmelieteklooster in Nijmegen, waar prof Kees Waaijman, bekende skrywer oor spiritualiteit, gewoon en gewerk het, asook aan die Benediktynse klooster in Chevetogne in België, wat bekend is vir die sang van die monnike. Plaaslik het hy onder andere persoonlike retreats gedoen in die Anglikaanse klooster St Benedicts in Johannesburg en die Benediktynse klooster Subiaco noord van Polokwane.

Hy lei sedert die jaar 2000 retreats met persoonlike geestelike dissipline as fokus.

 

Bankbesonderhede vir besprekings

NG Kerk Vrystaat

Nedbank

Tjekrekening: 117 809 7218

Gebruik asseblief die verwysing: “Winter-retreat” (plus jou voorletters & van)

E-pos die bewys van betaling na kuratorium@ngkvs.co.za

Koste: R500 per persoon. Verdere koste word deur Spiritualiteit Netwerk gesubsidieer. Dit sluit verblyf, twee aandetes, een middagete en ontbyt vir twee oggende in, asook retreatmateriaal.

Slegs 16 plekke beskikbaar, bespreek dus spoedig.

Kontak Magdaleen du Toit by 083 226 9732; magdaleen.dutoit@gmail.com  

 

116 | Maatskaplike NOODLYN