Deur ds Jan Lubbe, voorsitter van die Kuratorium, NG Kerk Vrystaat
Oor ’n onverwagse soli Deo Gloria, onbeskryflike vreugde en teologiese opleiding.
“God. He orchestrates my success story.” Haar antwoord hét verras. Want die vraag was gewoon: “What has been the most important factor contributing to your learning and development at this institution?” Die vraag is aan 6 000 studente gestel, ’n ewekansige groep uit die nagenoeg 40 000 Kovsies wat op die drie kampusse van die Universiteit van die Vrystaat studeer. Twee jaar ná Covid. Geen aanleiding, dit was net nóg ’n vraag om die leer-ervaring van studente te evalueer. “Sý” – want dít was ook nie spesifiek aangedui nie, maar die feit is dat die meerderheid studente aan die UV vroue is; dat die slaagsyfer vir vrouestudente oor die algemeen beter is as vir mansstudente; dat vrouestudente in die meeste modules bó aan die klaslys presteer. Ook in teologie, en ook onder ons NG-studente. Waarom? Wat gebeur met mans(studente)? Wat nóg meer verras het, is dat sy nie teologie studeer nie, maar in een van die ander fakulteite – sy is gewoon ’n jong Christen wat hierdie mooi getuienis gee. Waarskynlik swart. Waarskynlik ’n “eerste generasie”-student, haar ouers en familie onbekend met ’n universiteit. En waarskynlik, van die Vrystaatse platteland. Só lyk die profiel van die oorgrote meerderheid studente aan die UV, het dr Eleanor Bernard van die Onderrig- en Leersentrum ’n oorsig van hul navorsing aan die Kuratorium by ons afgelope vergadering kom wys.
Ons jaarlikse kuratoriumvergadering – saamgestel uit verteenwoordigers uit al vyftien die Vrystaatse ringe en ander nege NG-Sinodes, van Natal tot Namibië, die vak-eksaminatore, drie dosente van die Fakulteit en die Seminariumpersoneel – het met Matteus 2 en die jaartal 1824 begin. Wat is “teologie”, kennis van God? In die Kersverhaal wat Matteus opgeteken het, is daar die “kennis” – die sterrekundigheid – van die wyses uit die Ooste. Daar is die “kennis” – die sosio-politieke slimmighede – van Koning Herodes met sy eie magstrewe in die Romeinse Ryk. Daar is die “kennis” – die beskouinge en uitlegmetodes – van die skrifkenners en leierpriesters in Jerusalem. Daar is die “kennis” – fyn aanvoeling en geestelike onderskeiding – in die drome van wyses en Josef. Teologie as wetenskap met ’n eie in-huis veelkantigheid, maar ook tússen die ander wetenskappe wat God se Skepping bestudeer. Ons het dit in die eerste besluite wat ’n vergadering van die NG Kerk in 1824 oor teologiese opleiding geneem het, opgemerk: ’n Keuse vir die opleiding van leraars in ’n konteks van al die ander geestes- én natuurwetenskappe, vir ’n onderskeiding tussen die akademiese- en kerklike verantwoordelikhede daarin, en vir die geestelike vorming van studente met onder andere die oog op hul etiese lewe coram Deo. Die Kuratorium was oortuig dat daar dus verder op ons bestaande ooreenkoms tussen die NG Kerk en die Universiteit van die Vrystaat gebou moet word. Dit is in hierdie vennootskap dat die vak-eksaminatore en Seminarium deurlopend oor die kerklike aanvulling van akademiese programme, besin en weer vanjaar verslag gelewer het. Die feit dat die nuwe dekaan, prof John Klaasen, en dosente van die Fakulteit ons vergadering besoek het en met soveel positiewe entoesiasme aan gesprekke deelgeneem het, versterk hierdie band en daaroor is ons dankbaar.
’n Tweede gesprek in ons vergadering, het hierby aangesluit en veral op die M-programme (die laaste twee jaar) van die opleiding gefokus. Is ’n algemeen-teologiese meestersgraad nodig vir studente wat dominees wil word, of wil ons spesialiste in byvoorbeeld Ou- of Nuwe Testament of in die Dogmatiek hê? Kan studente van enige ander universiteit of instelling hier ’n meestersgraad kom doen, en by die Seminarium inskryf? Moet die Seminarium die laaste twee opleidingsjare volledig bestuur, soos wat nou alreeds die geval met die praktiese Gemeentejaar is? Wat vir ons duidelik geword het, is dat die kerklike evaluering van studente ’n al groter prioriteit is, spesifiek ook wat hul algemene Bybelkennis is. En gaan dít weer bloot oor “kennis” van die Bybel, of moet daar ’n dieper lees gekultiveer word, ’n lectio divina, die persoonlike ontdekking dat die Bybelverhaal mý verhaal word?
Ons het dit meer as een keer in die vergadering gehoor: Dat die kleiner getal studente dit moontlik maak om ’n baie persoonlike vormingspad met elkeen te loop; om die rol van mentors optimaal te ontwikkel, nie net tydens die opleidingsjare nie (voor legitimasie), maar ook daarná. Dit geld ook vir die mentors van bedienaars en diensleraars. En in hierdie opsig was een van vanjaar se hooftemas, voortgesette leer en bedieningsontwikkeling (VBO). ’n Span onder leiding van ds Cobus Hamman is vir dié doel saamgestel en gaan met die Seminarium as platform, ’n aantal broodnodige programme vir jong- en ouer dominees ontwikkel en aanbied.
’n Belangrike werksaamheid elke jaar is die legitimasie van studente; die goedkeuring van hul aansoeke, finale kerklike evaluering en ’n amptelike beskikbaarstelling om in die NG Kerk te kan gaan bedien. Vanjaar het ons twee kandidate ná ’n colloquium doctum gelegitimeer, asook twee diensleraars en drie bedienaars met erediensbevoegdheid. Van die kant van hierdie studente, was daar groot waardering vir die opleiding wat hul ontvang het, dít het ook ons harte verbly. Uiteindelik is die kwaliteit van hierdie gelegitimeerdes – in hul verskeidenheid – die beste uitkoms, die “aanbevelingsbrief” vir ons opleiding in Bloemfontein. Dinsdagaand, 19 November, was daarom ook rede vir groot vreugde!
Dít is waarop die “kennis” van die wyses uit die Ooste uitgeloop het: Vreugde, eer en aanbidding (Matteus 2:10-11). Dít is waartoe teologiese opleiding moet lei, vir die gelegitimeerde, die dominee en die gemeente. Soli Deo Gloria. Terug na daardie anonieme vrouestudent se spontane antwoord: “God orchestrates my story”.
Daarom het dr Eleanor Bernard só ’n ernstige pleidooi tot die NG Kerk gerig, ’n uitnodiging: Studente getuig spontaan van hul geloof en wil ’n verskil maak! Op die vraag watter rol hul in die wêreld ná hul studies wil gaan speel, lui nóg antwoorde net so verrassend: “I believe that God has blessed me with the opportunity to study this degree, it is my responsibility to help the world, one pair of eyes at a time (Matthew 6:22).” Ons as kerk kan, nee, móét teenwoordig wees, veilige ruimtes vir hierdie studente skep, vir aanbidding en meelewing en ondersteuning, gee aan hul geleentheid om te groei in hul geloof, in watter studierigting ook al. Ds Sanré Benade van die studentegemeente in Potchefstroom het dit heelhartig beaam: Studentebediening is ’n laboratorium – kom, leer! En drie woorde laat dit slaag: “Real, relevant, relational”. Vir die Kuratorium, en die NG Kerk Vrystaat as geheel, beteken dit ’n oop oog vir ál ons studente in teologie, hier, maar ook al die ander studente. Daar is ’n dors na Bybelse, na gereformeerde teologie, eietyds, verantwoordelik, helend.
En dít kos geld. Die Kuratorium is oortuig dat die Vrystaatse Sinode die opleiding van katkisante, jongmense, ouer geroepenes, mense met diverse gawes, nóg meer moet prioritiseer. Want dit gaan oor die bediening van die Woord van God, met entoesiasme, in gemeentes regdeur ons streek, diep platteland sowel as groot dorp en middestad. Vir die jare vorentoe. God is daarheen oppad … (mét ons stories).