Skip to content Skip to sidebar Skip to footer

Die kruis se (opstandige) uitroep …

Deur dr Martin Laubscher | Erediens Netwerk

 | verskaf: Die skildery van Daniel Louw, “Towards a Theology of the Cross: Cross-Roads/Kruis-pad” (1991), gebaseer op Matteus 27:45-46 se kruiswoorde, “Van twaalfuur af het daar duisternis oor die hele land gekom, en dit het tot drie-uur geduur. Teen drie-uur het Jesus hard uitgeroep: ‘Eli, Eli, lemá sabagtani?’ Dit is: My God, my God, waarom het U My verlaat?”

Bostaande skildery van Daniel Louw, “Towards a Theology of the Cross: Cross-Roads/Kruis-pad” (1991) is gebaseer op Matteus 27:45-46 se kruiswoord:, “Van twaalfuur af het daar duisternis oor die hele land gekom, en dit het tot drie-uur geduur. Teen drie-uur het Jesus hard uitgeroep: ‘Eli, Eli, lemá sabagtani?’ Dit is: My God, my God, waarom het U My verlaat?”. Dit is uiteraard ‘n lees van die teks én ons konteks wat ‘n mens met ’n bepaalde ongemak vul.

Ek sal die eerste een wees om te erken: Hier moet die vraag nie wentel om óf ‘n mens hieroor beswaard is of nie, maar veel eerder waarom en waaroor ons ongelukkig sou wees. Die vraag is nie óf ons dit kan gebruik in die erediens en óf ons dit moet sien nie, maar wát is dit wat ons so ontstel? Wat is dit wat ons skynbaar so ongemaklik en beswaard laat in die aanskoue en aanhoor hiervan? Wat is die eintlike problematiek wanneer ons kruiswoorde van Psalm 22:2 so “naby aan die huis (van die Here)” hoor en aanskou? Voel en ken ons dit ook aan ons bas wat kleef aan hierdie kerkbanke? Wat laat ons so ongemaklik voel om hierdie woorde van Christus só te hoor eggo in ons Suid-Afrikaanse realiteit?

Ek sê weer: Die veronderstelling is beslis nie dat mens hiermee al te gemaklik moet omgaan nie. Die laaste ding wat ‘n mens in reaksie op hierdie werk sou wou sien, is om onaangeroer gelaat te word. Nóg blasé, nóg gemaklik, nóg apaties, nóg koud oor Hom wat ons só konfronteer en roep, of – kan jy glo – vir en namens ons skreeu. Hierin sien ons hoe Hy tegelykertyd tot ons roep, sodat ons kan erken hoe hy ook vir en namens ons roep. Mis jy Hom hier, mis jy Hom waarskynlik ook daar, en omgekeerd. Die onderskeiding is belangrik, maar dit kan tog nie neerkom op ‘n skeiding nie. 

Ek is dus ook uitermatig ongemaklik, en deel die beswaardheid oor so ‘n teenwoordigheid in ons midde, maar dit is dalk ‘n beswaardheid en ongemak van ‘n ander aard. Die probleem kan nie wees dat so ‘n uitbeelding in die ruimte en tyd van ‘n Goeie Vrydag-erediens ingedra word nie, maar veel eerder dat liturgie nog vóór of ná die erediens enige erns maak met hierdie wrede Suid-Afrikaanse werklikheid (van ‘n verlede wat bly spook en praat met ons). Ek erken dus die ongemak, maar in plaas daarvan om dit te onderdruk (weg te skuif, in te boks anderkant die spoor, sodat ons dit nie hoef te sien of te hoor nie, soos Apartheid nog altyd in wese veronderstel het), spits ons eerder die ore en hoor hoe die gekruisigde se opstandige uitroep aan die kruis nog steeds, hard en luid, weergalm in ons land. Die opstanding wil nóg die uitroep aan kruis uitvee, nóg uitdoof of versag (of selfs uitskuif buite hierdie aanbiddingsruimte van ons). Inteendeel, wat die opgewekte Heer doen, is om dit veel eerder te versterk en te omvat (te amplify) sodat alle soortgelyke uitroepe van lydendes (se gevangenheid in strukturele onreg) deur die eeue in Vadersnaam tog nou vir ‘n slag gehoor en gesien kan word.

Soos die engel tereg daardie Sondagoggend vir die vroue by die graf sou sê: “Julle moet nie bang wees nie. Ek weet julle soek Jesus wat gekruisig is. Hy is nie hier nie, want Hy is uit die dood opgewek, soos Hy gesê het. … Gaan gou en sê vir die dissipels: ‘Hy is uit die dood opgewek, en Hy gaan julle vooruit na Galilea toe. Daar sal julle Hom sien’” (Matteus 28:5-7).

Wáár? Galilea? Regtig? Dáár? Soos vantevore? ‘n Eggo van daardie woorde?

Terwyl die vroue hardloop met die nuus, kom Jesus meteens voor hul staan met dié woorde: “Moenie bang wees nie. Gaan sê vir my broers hulle moet na Galilea toe gaan, en daar sal hulle My sien” (Matteus 28:10). 

Dáár (in Galilea) kom Matteus se kruiswoorde, Sy blywende uitroep (onthou, daar is meer as een in Psalm 22), Sy opstanding-én-opwekking, onlosmaaklik byeen.

‘n Liturgiese ruimte en tyd sonder daardie (ander soortgelyke) liturgiese ruimtes en tye (soos uitgebeeld in die bestaande skildery) maak my ook beswaard. Net so ook ‘n kruis sonder ‘n opstanding, en ‘n opstanding sonder ‘n opwekking. So saam, onlosmaaklik verbonde, lyk die lewe (en liturgie – God se teenwoordigheid en verlossing) tog anders.

Naskrif: Vir diegene wat graag meer hieroor wil lees, sien gerus Wilhelm Verwoerd se artikel hieroor:

Verwoerd, W.J. 2020. Black Christ and Cross-Roads Jesus for white South African Christians. HTS Teologiese Studies/Theological Studies 76(3), a5836. https://doi.org/ 10.4102/hts.v76i3.5836

116 | Maatskaplike NOODLYN