Skip to content Skip to sidebar Skip to footer

Plaasaanvalle, plaasmoorde en geweld teen vrouens en kinders

Met die skryf van hierdie briefie aan u is ons reeds vir meer as 100 dae in inperking vanweë die Covid-19 virus. Ons besef dit is uitdagende tye vir u almal, maar ons het vanoggend ‘n briefie van ‘n kollega ontvang waarin hy getuig dat hy ‘n tyd beleef waar daar ‘n besondere band van liefde en omgee gebind word. Onbewustelik is ons besig om ‘n nuwe lewenstyl te kweek. Dit is so positief om hiervan kennis te neem.


Wanneer ons dan kennis neem van ‘n toename in plaasaanvalle en –moorde en geweld teen vrouens en kinders in hierdie tyd, skok dit ons. Die NG Kerk Vrystaat spreek andermaal haar skok en afgryse uit teen dit wat op die oomblik in ons land gebeur. Ons herbevestig die verklaring wat die Moderamen in 2019 uitgereik het en versoek Pres Cyril Ramaposa om die bestryding van hierdie misdade die prioriteit te gee wat dit verdien.


Ons versoek gemeentes om saam te bly bid dat die Here ons land sal genees. Ons bid vir ons boere, plaasarbeiders en die landbougemeenskap. Ons bid vir die vroue en kinders van ons land. Ons bid vir mense wat geliefdes verloor het. Ons bid vir mense wat seergekry het. Ons bid ook vir ons leraars wat in hierdie tyd moet leiding neem en wie se eie geestesgesondheid vir ons belangrik bly. Ons is bewus van kollegas wat baie swaarkry.


Ons stel u andermaal in kennis dat die NG Kerk Vrystaat oor ‘n span knap opgeleide beraders beskik om gemeenskappe, gemeentes, predikante en lidmate met traumaberading te ondersteun. U kan al die toepaslike inligting kry by Ds Barnard Steyn (051 406 6727 of bicsteyn@ngkvs.co.za) of dr Johan Nel (051 406 6735 of seminarium@ngkvs.co.za).


Die genade van ons Here Jesus Christus bly by elkeen van u.


Dr Pieter van Jaarsveld | Ds Riaan van Zyl | Dr Carin van Schalkwyk
Ds Anton Meiring | Dr Bertus Celliers