Deur Celicia McLean, redakteur van die Vrypos, NG Kerk Vrystaat
“Be still, and know that I am God.” (Psalm 46:11)
Januarie het skaars begin, toe dit al gevoel het asof ons agter die tyd aanhardloop. Besluite moes geneem word, kalenders ingevul word, verantwoordelikhede hervat word. En voor ons ons kon kry, het Januworry stilweg oorgegaan in verderworry – Februarie se tempo wat reeds aandring dat ons méér moet doen, beter moet beplan en vinniger moet beweeg.
In hierdie gejaag fluister God egter iets wat teen alle menslike instinkte ingaan: “Wees stil.”
Nie omdat niks gebeur nie, maar juis omdat alles gebeur. Nie omdat ons onbetrokke moet wees nie, maar omdat ons moet onthou Wie werklik in beheer is. Stilword is nie passiwiteit nie; dit is geloof. Dit is die bewustelike besluit om op te hou om alles self te probeer dra.
“En weet dat Ek God is.”
Daardie weet is meer as kopkennis. Dit is ’n rus in die waarheid dat niks wat ons is, niks wat ons het, en niks wat ons doen, uit onsself is nie. Alles is genade. Elke asemteug, elke geleentheid, elke roeping, elke nuwe dag – dit alles kom uit God se hand.
Ons leef maklik asof die wêreld van ons afhanklik is. Asof alles gaan inmekaartuimel as ons nie beheer neem nie. Maar Psalm 46 herinner ons: God is God lank voordat ons begin bekommer het, en Hy sal God bly lank nadat ons moeg geword het.
Daarom mag ons let go. Nie omdat dinge maklik is nie, maar omdat God getrou is. Nie omdat ons verstaan nie, maar omdat Hy weet. Let go, let God is nie ’n goedkoop slagspreuk nie – dit is ’n diep geloofsbelydenis.
Miskien is hierdie die uitnodiging vir die begin van die jaar: om stadig te raak in ’n vinnige wêreld; om stil te word in ’n lawaaierige lewe; om weer te weet dat God in beheer is — en dat Sy genade genoeg is.
Wees stil.
En weet.
| Verskaf: Celicia McLean, redakteur van die Vrypos, NG Kerk Vrystaat.

