Skip to content Skip to sidebar Skip to footer

Janu“worry” lei tot plagiaat in die pastorie

Deur ds Cobus (en sy vrou, Annelize) Hamman, leraar van NG Gemeente Bainsvlei

My vrou skryf nie gewoonlik my preke nie, en ek luister as ’n reël nie eintlik wanneer sy vir my preek nie. Maar wanneer Janu“worry” se kalf in die put is, is hierdie dominee daarvan oortuig dat plagiaat in die pastorie nie ’n tugwaardige sonde is nie.

My vrou het verlede week my skootrekenaar gebruik om ’n oordenking vir Bainsvlei se vrouelidmate te skryf. Haar boodskap het my geraak, waarskynlik omdat ek die leefwêreld wat sy skets só goed ken. Daarom wil ek haar oordenking (met haar medewete, maar sonder haar goedkeuring) as ’n laaste gedagte met julle deel. Van hier af is die pastoriemoeder self aan die woord.

Welkom in 2025! Die langste en deurmekaarste maand van die jaar is amper verby. So baie dinge het reeds tydens die eerste 26 dae gebeur. Die Matriekklas van 2024 het hulle uitslae gekry en nou wag daar ’n hele nuwe hoofstuk om geskryf te word. Die Matriekklas van 2025 is reeds hard aan die werk en die woorde “vir oulaas” het nou deel geword van hulle alledaagse bestaan. Baie skole het die Graad 1’s verwelkom met die woorde “Welkom aan die Matriekklas van 2036.” Die Graad 8’s het met ’n skok besef dat hulle eintlik nog klein is en toe nie alles weet nie. Ander moes weer oppak en almal groet om elders hulle studies te hervat. Die huis is leër en hulle teenwoordigheid word gemis. Sommige het die nuwe jaar alleen ingestap. ’n Vriendin van my moes haar man verlede week begrawe. Ander het ewige trou aan mekaar beloof.

Ek weet nie hoe dit die eerste paar dae in julle huise gegaan het nie, maar ek gaan my deur so ‘n bietjie vir julle oopmaak. Ek het my jaar, letterlik, ’n jaar ouer begin (Red: sy verjaar 1 Januarie!). Dit was skoolklere uitsorteer en nuwes aankoop. Dit was skryfbehoeftelyste en winkels aandurf. Werk, met al die uitdagings van ’n nuwe jaar. Boeke oortrek. Net om ná die tyd te sien die boek is onderstebo en dit oor te doen. Kosmaak! Jeugweek by die kerk. ’n Groot lekkerte, maar kom ek sê vir julle, dis harde werk. Vroeg opstaan en laat gaan slaap. WhatsApp-groepe. ’n Magdom inligting van al die skole. Oueraande. Swemgalas. Kleuresport. Huiswerk. Skoolvergaderings. Kerkvergaderings (Elke liewe aand van die week! Regtig? Ek verstaan hoe ’n enkelma voel.) Troues. Begrafnisse. Graad 8-kamp. Buitemuurs wat al sommer op dag 1 begin het. Trane, meestal myne. Frustrasies, meestal my jongste spruit s’n, en dan die ander sibbe se reaksie daarop. Nog ’n verjaardag.

Die jaar van Januarie is nog nie verby nie – daar is nog vyf dae oor! En ek het hierdie onstuimige, bang gevoel in my binneste. Dis oorweldigend. As ek dit in ’n beeld vir julle moet beskryf, sal dit soos volg lyk: Ek staan op ’n rots in die middel van die see. Oral rondom my breek die branders. Dit is besig. Dit skuim en raas om my. In die verte sien ek die branders aankom. Hulle is groot; groter as wat ek is. Ek raak benoud en bang, want ek weet nie wat om te doen nie.

En dan lees ek Psalm 18:2-3, “Ek het U lief, Here, my sterkte! Die Here is my rotsvesting, my bergskuiling, my bevryder. My God is my rots by wie ek skuil, my skild en die horing van my redding, my toevlugsoord.”

’n Brander breek altyd op die rotse. Ek sien daardie groot branders aankom. Ek gaan vir seker nat word, maar die Here is my rots … en ’n rots breek altyd ’n brander. Ek kan sê: “Die Here leef! Lofwaardig is my rots” (Psalm 18:47).

Hoe lyk jou branders wat op pad is? Hoe lyk jou rots waarop jy staan? Skielik kyk ek met nuwe oë na die eerste paar dae van 2025. Dankie vir wasgoed, want dit beteken ons het klere om aan te trek. Dankie vir vuil skottelgoed, want dit beteken ons het kos om te eet. Dankie vir vroeg opstaan, want dit beteken ons het werk om te doen. Dankie vir buitemuurse aktiwiteite, want dit beteken ek het gesonde, talentvolle kinders. Dankie vir ’n vuil huis, want dit beteken daar is lewe om my en ons het ’n dak oor ons koppe. Dankie vir huiswerk, want ek help bou aan ’n nuwe toekoms. Dankie vir lang ure in ’n warm motor, want gelukkig hoef ek nie te loop nie. Dankie vir trane, want dit beteken ek voel nog iets. Dankie dat ek nog kwaad word, want dit beteken iets is steeds die moeite werd om voor te baklei. Dankie vir lewe, want ek het ’n doel. Dankie vir geleenthede, want iemand glo in my. Dankie vir familie en vriende, want iemand is lief vir my en dink aan my.

Die grootste dankie … dankie dat ek die Here ken, want Hy is my rots! Mag jy vir die res van 2025 uit jou piering drink omdat jou beker oorloop.

 | verskaf: Ds Cobus Hamman en sy vrou, Annelize.