Skip to content Skip to footer

’n Woordeskat vir Erfenisdag

’n Woordeskat vir Erfenisdag Header

Deur ds Santel Malan, leraar van NG Gemeente Heuwelkruin

Op 24 September vier ons Erfenisdag, oftewel ‘braaidag’ soos dit in die volksmond bekend staan: ’n dag waarop Suid-Afrikaners oor ons erfenis, kulturele diversiteit en identiteit nadink. Vanjaar kyk ons met Efenisdag terug op ’n jaar waar ons veral taal as deel van ons erfenis gevier het: Afrikaans is 100 jaar oud en op 23 September is dit gebaretaal-dag, wat in 2024 deel geword het van ons land se lang lys van amptelike tale.  Suid-Afrika kan immers daarmee spog dat ons die eerste land ter wêreld is wat die nasionale gebaretaal as amptelike landstaal erken het. Nie net het Suid-Afrikaners 12 amptelike landstale nie, maar ons het ook ons eie, unieke en gedeelde woordeskat, waarvan geen buitelanders kop of stert sal uitmaak sonder ’n verduideliking nie.  Woorde soos ‘braai’, ‘ja-nee’, ‘jebo-yes’, ‘laduma’, ‘biltong’ en ‘aitsa’, is maar enkele voorbeelde hiervan.

Wanneer ons op 24 September weereens om die braaivleisvure vergader waar die reuk van boerewors, tjoppies en braaibroodjies met blatjang die lug vul, kom ons onthou ook ons geestelike erfenis. 

Kolossense 3:15-16 gee ons ’n wonderlike perspektief op hoe ons as Christene ons Godgegewe erfenis daagliks kan uitleef.

 Vers 15 herinner ons daaraan dat Christus sy vredeaan ons skenk.  Met ons land se lang geskiedenis van verdeeldheid en spanning, word ons as gelowiges geroep om vredemakers te wees.  Ons word herinner daaraan om gelowiges te wees wat ‘yebo-yes’ sê vir ‘Ubuntu’. 

God het ons geroep om een liggaam te wees, wat beteken dat ons nie net ons Afrikaans-, Zoeloe- of Sotho-erfenis moet waardeer nie, maar ook die erfenis wat ons as gelowiges deel: die verlossing wat deur Christus Jesus bewerkstellig is vir almal wat in Hom glo.  Dis ’n erfenis van genade, vergifnis, vrede en liefde.  Wanneer ons as een liggaam funksioneer sê ons dus, “Aikona!”, vir ongeregtigheid, verdeeldheid en onvrede.

In Kolossense lees ons verder dat dankbaarheid ook deel uitmaak van ons erfenis.  Dankbaarheid is ’n Christelike lewenswyse.  Wanneer ons op Erfenisdag aan die erfenis van ons land herinner word, moet ons onsself ook herinner aan die wonderlike goedheid van God, ons Vader wat ons tot hier gedra het.  Erfenisdag kan daarom vir ons ’n geleentheid wees om nie net ons eie erfenis te vier nie, maar om met dankbaarheid terug- en vorentoe te kyk.

Vers 16 spoor ons aan om die woord van Christus ryklik in ons te laat woon.  Op Erfenisdag kan ons weereens van die geleentheid gebruik maak om ons geestelike erfenis te onthou, maar veral ook om dit te deel. Of dit nou deur ’n gesprek, ’n gebed, ’n ete of ’n daad van liefde is, die “woord van Christus” moet so ’n deel van ons lewens wees dat dit natuurlik in ons lewens weerspieël word. 

Erfenisdag is nie net ’n kans om oor die geskiedenis te reflekteer nie, maar om in Christus naam, ’n nuwe erfenis vir die toekoms te bou.  Een waar ons soos egte Suid-Afrikaners met ons eie, unieke woordeskat uitroep: “Aweh!” vir eenheid; “Lekker!” wanneer ons oor kultuurgrense heen verhoudings bou, en “Aitsa!” wanneer ons in verwondering staan oor die vrede wat God onder ons bewerkstellig.  Mag ons ’n erfenis van Goddelike liefde, genade en gehoorsaamheid aan die geslagte wat kom, nalaat. 

Ds Santel Malan

 | Verskaf: Ds Santel Malan, leraar van NG Gemeente Heuwelkruin.