Deur Ds Jan Lubbe
’n Paasboodskap
Wat kos sielerus? Of, in Jesus se woorde, “Wat sou ’n mens gee as losprys vir sy lewe?” (Markus 8:37). Dit is nogals opmerklik dat hierdie gelade vraag van Jesus aan sy dissipels, kom direk ná sy eerste aankondiging van die lyding wat op pad was; hulle begin die reis na Jerusalem; Hy sê dat dit gaan uitloop op lyding, verwerping en sterwe; Petrus berispe Hom ten sterkste; Jesus sê, “Petrus, nou is jy die teenstander van God – “Satan!” – want jy dink nou soos mense dink” (Markus 8:33). En dan die gesprek met die skare oor die opneem van jou kruis, oor selfverloëning en -oorgawe; oor die waarde van jou lewe, van sielerus …
Iets soortgelyks gebeur ná die derde aankondiging, nou al in die buurt van Jerigo, naby aan Jerusalem en hul bestemming; Jesus se woorde oor lyding, veroordeling en sterwe; twee binnekring-dissipels wat eerder belangstel in grootsheid en glorie; Hy wat antwoord dat dit nie vir ons moet gaan oor die voorste sitplekke nie, maar oor die “wees van ’n dienaar…” (Markus 10:43-44). En dan val die woord weer: “’n lewe te gee as losprys vir baie” – wat kos ’n siel? ’n Mens? Saligheid?
In Markus se beskrywing van daardie laaste week in Jerusalem – hierdie Groot Lydensweek, waar ons nou was – het dié vraag op ’n onverwagse wyse al nader aan die kern van waaroor dit alles eintlik gegaan het, geskuif: “Wat is die losprys vir ’n mens se siel?”
Die Sondag met sy Intog in Jerusalem, het Jesus die tempel besoek; die Maandag weer, en toe het (volgens Markus) die “tempelreiniging” gebeur (11:15-19). Jesus word kwaad oor dié gekoop en verkoop van offergawes – duiwe, om spesifiek te wees, ál wat die armstes onder die gelowiges kon bekostig. Vir wanneer jy sonde gedoen het, vir wanneer jy ‘n velsiekte gehad het, vir wanneer jy onrein was, vir wanneer jy geboorte geskenk het (’n vrou): in plaas van ’n duur lam, twee duiwe (Lev. 12:8, 14:22, 15:14). Maar jy moes dit met “tempelgeld” koop, te kry by die tafels van die geldwisselaars… en daar sien Jesus die monopolie, korrupsie en uitbuiting die tempelplein vol lê, ongesê. En Hy keer dit alles om! Reinig die godsdiens, die plek van aanbidding en gebed van alle magsmisbruik, dwang en pretensie! “Wat is die ware losprys vir ’n mens se siel – al hierdie offergeld?”
Die Dinsdag was Jesus weer by die tempel, en kom een na die ander groep na hom, almal met vrae – strikvrae. Soos die uitvangvraag waarmee die Farisëers en die Herodiane gelyk daar opdaag, fyn kerkpolitiek. “Moet ons belasting betaal of nie?” (12:14). Sê Jesus “nee”, dan het die aanhangers van Koning Herodes ‘n politieke aanklag teen Hom; Hy stook opstand. Sê Jesus “ja”, dan het Fariseërs ’n godsdienstige klag teen Hom; Hy gee eer aan (heidense) maghebbers! Jesus vra ‘n muntstuk, ’n silwer een, ‘n denarius – dáármee moes jy belasting betaal. En Hy wys vir hulle: op die muntstuk is die kop en inskripsie van die keiser, gee dit aan hom, máár… gee aan God dit waarop Sý beeld rus, naamlik ’n mens, Sý beelddraers. Laat mense vry uit alle jukke van slawerny! “Wat is regtig die losprys vir ‘n mens se siel – al hierdie belastinggeld?”
Dinsdagmiddag, net voor Jesus en sy dissipels uit die tempel gaan, sit Hy ’n oomblik op die voorste plein, die plein waar vroue mag gekom het, en ander, die randfigure, inkommers. Daar staan die offergawekiste, die rykes gooi baie in, ‘n weduwee gooi twee klein kopermuntstukkies in – dit was baie klein, twee lepton. Saam, ongeveer een kwadrant. ’n Dagloon van ‘n gewone arbeider, was 64 kwadrante. Met twee lepton, kon jy dalk ’n stukkie brood koop … Die rykes gooi uit hul baie, iets in; dié weduwee uit haar bitter min, alles. “Amen,” sê Jesus, soos aan die einde van ’n gelykenis, wysheid, kyk. Was hierdie weduwee óók onder druk, dalk banggepraat deur die streng skrifkenners (12:40)? “Wat kos ‘n alleenmens se sielerus – al haar broodgeld?”
Die Woensdag rus Jesus en sy dissipels in die kleindorpie Betanië. Twee tonele speel hul af – altwee met geld te doen, met “losprys”. In die huis van Simon die (geneesde) Melaatse is daar ’n ete, en toe hul al aan tafel is, kom ‘n vrou in; ’n vrou met ‘n reputasie? Sy breek ’n fles met kosbare, geurige salf oop en gooi dit oor Jesus se hare; huilend was sy Jesus se voete. Rondom die tafel uitroepe van verontwaardiging, ’n hele teologiese geskil bars los; dáárdie salf kos 300 denari, ’n jaar se daglone, dink hoeveel arm mense kon gehelp gewees het?! En Jesus sê: “Los haar, wat sy kon, het sy gedoen”; sy het, per implikasie, fyn onderskei waarop dit nóu – twee dae vóór die Pasga – werklik neerkom; vooruit my liggaam gesalf met die oog op my begrafnis” (14:8). “Wat is die prys van ware sielerus, van vergifnis – kosbare troosgeld? Alimentasie-geld?”
Terselfdertyd, daardie Woensdag, agter die skerms, dalk iewers op die pad tussen Betanië en Jerusalem of agter ’n toe deur in ’n raadsaal in die stad, ’n gekonkel. Leierpriesters en skrifkenners slinks op soek na ’n plan, en ontmoet hul één van die dissipels, die donker skakel in die ketting, nogals, die beursiedraer: Judas Iskariot. En daar kom die belofte: geld, in ruil vir Jesus. Matteus het die waarde aangeteken: 30 silwer denari – ’n arbeider se lone vir ‘n maand se werk! “Wat is die prys vir die Seun van die Mens – hierdie omkoopgeld, hierdie ‘bloedgeld’?”
Wat is die losprys vir ‘n mens se siel, mý sielerus, my en jou saligheid? Maak maar die sommetjie, hoeveel dit werd was: dertig silwerstukke (denari) is gelyk aan 1 920 kwadrante is gelyk aan 3 840 lepton – hoeveel dae se broodgeld, hoeveel duiwe se offergawegeld, hoeveel dae se belastinggeld, hoeveel aande se troosgeld?
Langs die pad na Jerusalem en daardie Laaste Week, het Jesus gesê: “Die Seun van die Mens het gekom om sý lewe te gee as losprys vir baie” (Markus 10:45). ’n Losprys uit alles wat jou en my sou kwel, die stomme mensdom deur die eeue verkneg het, ons tydgenote steeds vasgevang in misbruik deur kerk en staat, by wyse van spreke. Of wat dan ook al hul verslawing. Of al ons sonde en stukkendheid, en die uiteinde daarvan die dood. ’n Losprys vir wat geen offergawegeld, geen belastinggeld, geen broodgeld, geen troosgeld, geen bloedgeld óóit sou kon regkry of voor genoeg sou kon wees nie, naamlik … ‘n Losprys vir jou en my en ons almal, se sielerus. Ewige sielerus. Nou al.
Mag ons hierdie Paasnaweek ontdek hoe kosbaar ’n siel vir Hóm was, en hoe ontsaglik groot die Losprys, wat Hy daarvoor gegee het. Uit liefde.
’n Geseënde Paasfees jou toegewens, in alle opsigte. En vrede.
Ds Jan Lubbe
Voorsitter: Moderamen van die NG Kerk Vrystaat