Skip to content Skip to sidebar Skip to footer

Die Ring van Bloemheuwel

Deur Mariëtte Odendaal

Die Ring van Bloemheuwel – Better Together

“Tydens so ’n kamp kry die kinders die geleentheid om deur verskeie leraars, elk met hulle unieke gawes, in hul verhouding met die Here onderrig en geestelik begelei te word.”

Ds Ettienne Engelbrecht
Leraar: NG Gemeente Heuwelsig

Die NG Kerk Vrystaat het in die 2023/24-boekjaar ‘n bedrag van R30 000 aan elk van die 15 Vrystaatse ringe beskikbaar gestel om gesamentlike ringsprojekte te ondersteun. Die voorwaarde was dat die projekte in samewerking met ’n sinodale bediening onderneem moes word.

In die geval van die Ring van Bloemheuwel het hulle by die sinodale bediening vir Bedieningsbegeleiding ingeskakel. Ons het meer gaan uitvind by ds Ettienne Engelbrecht oor hoe die ring hierdie fonds aangewend het.

Ettienne, julle projek het veral op die belydenis-katkisante gefokus. Vertel meer.

“Tydens die naweek van 20 tot 22 Oktober 2023 het 154 belydenis-katkisante en leiers van twaalf gemeentes die belydeniskamp by Pro-Regno in Barkly-Wes bygewoon.

“Ek is die skakelpersoon tussen die Ring van Bloemheuwel en hierdie inisiatief, bekend as Better Together, wat in 2019 deur die Ring van Bloemheuwel begin is.

“Dit het sedertdien aansienlik gegroei en word nou deur verskeie gemeentes, selfs buite Bloemfontein, ondersteun.

“Verskeie predikante het oor verskillende aspekte van die tema #EKGLO gepraat. Die aanbieding is in vier sessies verdeel waartydens die vier vrae waarop die katkisante tydens hulle belydenisaflegging moet antwoord, bespreek is. Die groepbesprekings is deur leiers uit die verskillende gemeentes gefasiliteer.

“Die lof- en aanbiddingsessies is deur die Lightly Salted band onder leiding van John Matthews gelei.

“Ons was ook bevoorregd om teologiestudente by die kamp te kon hê wat saam met die leraars gehelp het om die aktiwiteite en speletjies vir die katkisante aan te bied en te fasiliteer.”

Ettienne, so ’n ringsprojek bied natuurlik heelwat voordele, né?

“Ja, beslis! Hierdie projek maak dit moontlik vir gemeentes wat min kinders het en finansieel nie daartoe in staat is om alleen ‘n belydeniskamp aan te bied nie, om saam met ander gemeentes in Bloemfontein en die breër Vrystaat te kamp.

“Tydens so ’n kamp kry die kinders die geleentheid om deur verskeie leraars, elk met hulle unieke gawes, in hul verhouding met die Here onderrig en geestelik begelei te word.

“Die kamp skep ook die geleentheid om ’n jeug-band te betrek wat musiek speel wat meer gepas is vir die jonger generasie. Dit lewer beslis ’n positiewe bydrae tot die geestelike belewenis van die kinders.”

Julle het met hierdie projek waarskynlik ook uitdagings gehad. Hoe het julle dit aangepak?

“Danksy die goeie samewerking tussen al die gemeentes in ons ring wat van hierdie kampgeleentheid gebruik gemaak het, was daar relatief min uitdagings.

“Een van die hoofuitdagings was egter die afstand na die kampterrein. Omdat dit so ver was, het die vervoerkoste die oorhoofse uitgawes aansienlik verhoog.

“’n Tweede uitdaging was om voldoende vrywilligers te kon kry. Die kampdatums bots dikwels met studente se akademiese programme en jong werkendes kan nie altyd verlof kry om op die betrokke datums die kampe by te woon nie.”

Hoe is die GOUF-bedrag ten opsigte van hierdie ringsprojek aangewend?

“Die finansiële hulp wat ons van GOUF ontvang het, is aangewend om die vervoerkoste, kampterrein en ‘n groot deel van die kos vir die kamp te dek.

“Op hierdie manier kon ons die kamp so bekostigbaar moontlik vir die kinders help maak, sodat elkeen wat wou, die kamp kon bywoon.”

Kontak

Ds Ettienne Engelbrecht by dsettienne@heuwelsig.co.za vir meer inligting.

 | verskaf deur: Ds Ettienne Engelbrecht, leraar van NG Gemeente Heuwelsig.

116 | Maatskaplike NOODLYN