Deur Albert Geldenhuys
Albert Geldenhuys het onlangs sy verhandeling ingedien oor die kerkgeboue wat deur die argitek Wynand H. Louw (1883-1967) ontwerp is. Geldenhuys is ’n nasaat van Louw. Dié Meestersgraad-dissertasie in argitektuur bevat kosbare inligting oor kerkgeboue in die land, maar ook die Vrystaat, wat deur Louw ontwerp is.
Die kerkgebou van Port Elizabeth Moedergemeente (1909), in Neo-Gotiese styl, was sy eerste volwaardige kerkontwerp. Uitenhage Moedergemeente se tweede kerk (1927), ’n gebou in die vorm van ‘n Griekse kruis, was sy grootste kerkontwerp. Die Strand se kerkgebou, ook ’n Louw-skepping, is in vele opsigte ’n kleiner en latere weergawe van die Uitenhage-gebou.
In die Vrystaat was Wynand Louw verantwoordelik vir die ontwerp van die NG Moederkerk in Reitz (1912), NGK Lindley (1926), aanbouings aan NG kerke van Verkeerdevlei (1928) en Jacobsdal (1930), NGK Bethlehem-Wes (1930) en hoogs waarskynlik ook NGK De Bloem (1939). Gedurende sy vennootskap met Gerard Moerdyk het Louw en Moerdyk NGK Bloemfontein-Noord se Klipkerk (1923), NGK Luckhoff (1923), NGK Reddersburg (1923), die Jubileumsaal in Bloemfontein (1924), NGK Excelsior (1924), NGK Hertzogville (1924), die Gereformeerde Kerke in Reddersburg (1925) en Bloemfontein (1927), NGK Marquard (1926) en NGK Kestell (1926) ontwerp.
Geskiedenisliefhebbers sal dit geniet om meer te lees oor die man, wat erken word as die eerste Afrikaanssprekende Suid-Afrikaner wat formele opleiding as argitek ontvang het. Hy het sy opleiding in Londen by die Architectural Assocation voltooi en in 1909 die kommissie ontvang om die planne vir die NG Kerk Port Elizabeth se nuwe kerkgebou op te trek. Vir meer as 50 jaar kan ons sy spore deur ons kerklandskap volg.
Daar word gereken dat Louw en sy praktyke by die bou, herstel of restourasie van ongeveer 160 kerklike geboue betrokke was. Dit sluit kerke en kerksale in. Hy het ’n beslissende rol in Suid-Afrikaanse kerkargitektuur gespeel.
Louw was ook die argitek van verskeie ander geboue. Hieronder tel die KWV se Hoofgebou en Katerdraalkelder in die Paarl, Old Mutual se destydse hoofgebou in Darlingstraat, Kaapstad, geboue vir Sanlam in Bloemfontein en Kaapstad en vele geboue op Universiteit Stellenbosch se kampus, onder andere Dagbreek-koshuis. Sy praktyk was ook verantwoordelik vir die hoofgebou van Noordwes-Universiteit.
Klik hier om Albert Geldenhuys se verhandeling gratis af te laai (klik ’n tweede maal op files).
| verskaf deur Albert Geldenhuys