Deur Ethan Kleynhans, ’n tweedejaar-teologiestudent (BDiv) aan Kovsies
’n Fiktiewe korrespondensie tussen twee studente wat handel oor die alledaagse geestelike vrese van studente.
BRIEF 1
Luan aan Karla
Liewe Karla
Ek hoop daar skyn vandag ’n sonstraal op jou studeertafel by die koshuis. Ek weet dis al weer eksamentyd, maar ek moes eenvoudig vir jou skryf. Ek het nie meer woorde vir gebed nie – dalk net ’n laaste asem … en jy.
Ek voel leeg. Afgesny. Nie net van mense nie, maar ook van God. Ek weet Hy ís daar – ek glo dit met my kop – maar my hart wil nie meer saam glo nie. Dit voel asof ek Hom roep, maar my eie stem weerkaats net teen die mure.
En intussen probeer ek aanhou: klas toe gaan, take klaarmaak, en – ironies genoeg – werk aan my “Geestelike vorming”-opdrag. Maar hoe vorm jy geloof as alles rondom jou skree: doen meer, wees beter, wys resultate?
Ek weet ek móét tyd maak vir gebed, Skrifstudie en kerkbywoning. Maar my foon gons. My kop raas. Ek sit in die kerk en wonder of ek die regte kursus gekies het … of hoekom ek so alleen voel tussen mense wat God só maklik aanhaal – asof Hy vir húlle altyd praat.
Karla … ek weet nie meer hoe om te bid nie. Wat maak jy as God stil is en jy skree in jou kop?
Met moedelose groete, Luan
BRIEF 2
Karla aan Luan
Liewe Luan
Ek het jou brief gelees, snoesig onder my kombers met ’n beker rooibostee – en ek het stil geraak. Want ek het ook al só gevoel: verlate, afgesny, kwaad … Dis vreemd, nè? Om kwaad te wees vir Iemand wat jy tog liefhet.
Eerstens wil ek net sê: jy is nie alleen nie. Jy is ook nie gebreek omdat jy stoei nie – jy is juis mens. En ek dink dis juis in daardie stoei waar God ons nader trek. Nie met groot gebare nie, maar – soos by Elia op die berg – in die fluistering (1 Konings 19:11–13).
Ek wonder of jy dalk te hard probeer hóór? Miskien vra God nie nog iets wat jy moet doen nie. Miskien vra Hy net dat jy moet wees. Net sit. Net asemhaal. Net sê: “Ek’s hier.” En dit is genoeg.
Luan, jy hoef nie eers jou gebedslewe reg te kry voor jy weer naby aan God kan voel nie. Begin klein. Sit vanaand net vir vyf minute jou skerm af. Sit in stilte. Hy wéét jy’s moeg. En dit ontroer Hom meer as wat jy besef.
En oor kerk toe gaan – moenie gaan omdat jy moet nie. Gaan omdat daar ander is wat ook stoei. Ek is meeste Sondae daar, sonder antwoorde, maar met oop ore. Ek sal vir jou ’n plek hou.
Mag jy onthou: God is nie ver nie. Jou gevoel sê dalk so, maar onthou: selfs Jesus het uitgeroep: “My God, waarom het U My verlaat?” En dit was juis daardie verlatenheid wat vir ons lewe gebring het.
Jy is nie vergete nie. Jy is geliefd.
Met genade en ’n warm kombers, Karla