Deur Mariëtte Odendaal
Fondasies en staalstrukture van geboue word nie gesien nie, maar dit is juis hiérdie onontbeerlike elemente wat geboue stabiel en staande hou. So het elke organisasie ook sy onsigbare fondasie en struktuur wat moet verseker dat alle interne en eksterne prosesse glad verloop.
Die eerste artikel in ’n reeks van vyf oor die afgelope meer as dertig jaar se vyf saakgelastigdes, deesdae bekend as direkteur van administrasie en finansies, het in die vorige Vrypos verskyn. Ons het toe gesels oor die sinodale kantoordae van Piet Coetzer. In hierdie uitgawe gesels ons met Piet se opvolger, Hennie van der Walt.
Die volgende drie uitgawes sal gaan oor André Esterhuizen, Hennie de Lange en die huidige direkteur van administrasie en finansies, Adriaan de Ruiter.
Hennie, jy het vir Piet Coetzer as saakgelastigde opgevolg, maar vertel ons eers meer van jouself voordat ons oor jou jare by die sinodale kantoor gesels.
“Ja, graag. Ek is op 9 September 1944 op Bethlehem gebore en in die NG Kerk Bethlehem-Wes as Hendrik Albertus van der Walt gedoop. In 1961 is ek as lidmaat van die Bethlehem Môrelig-gemeente bevestig.
“Ek het my hoërskoolloopbaan aan die Hoërskool Voortrekker op Bethlehem begin. My pa het vir die Suid-Afrikaanse Spoorweë (SAS) gewerk en is in my Standerd 9-jaar (Graad 11) na Bloemfontein verplaas, waar ek my matriek (Graad 12) aan die Hoërskool Sentraal in 1962 voltooi het.
“Ek is direk ná skool vir opleiding na die Militêre Gimnasium in Pretoria en was daarna vanaf 1964 tot 1968 in diens van die Suid-Afrikaanse Lugdiens in Bloemfontein. In daardie tyd het ek verskeie lugvaart- en rekeningundige kursusse voltooi.
“Nadat ek my BA-graad buitemuurs aan die Universiteit van die Vrystaat (UOVS) behaal het, het ek ook ’n korrespondensiekursus aan die Chartered Institute of Administrators and Secretaries (CIS), tans bekend as die Chartered Governance Institute (CGI), gedoen met vakke soos rekeningkunde, ekonomie en kantoorbestuur.
“Ek is op 13 Julie 1968 getroud met Rina Heyns van Clocolan en ons het twee seuns, ’n dogter en ses kleinkinders.”
In die lig van al bogenoemde opleiding en werkservaring was jy dus die ideale kandidaat om later as saakgelastigde aangestel te word, maar jy moes eers ’n pad loop tot daar. Vertel meer.
“Ja, ek was gelukkig om op 1 Februarie 1968 deur dr SJ Naude en mnr JC van Graan as rekenmeester in die sinodale kerkkantoor van die NG Kerk Oranje Vrystaat, soos dit destyds genoem is, aangestel te word.
“In Augustus 1974 is ek tot hoofrekenmeester en tweede in bevel bevorder en daarna, vanaf Januarie 2007 tot einde Desember 2009, as direkteur van administrasie en finansies. Ek het op 1 Januarie 2010 afgetree.
“Ek was in totaal byna 42 jaar in sinodale diens. In hierdie tyd was ek bevoorreg om sowat 21 sinodesittings, insluitende spesiale of buitengewone NG Kerk Vrystaat- en Algemene Sinodesittings, te kon bywoon en ook met die logistiek en ander voorbereidings betrokke te kon wees.”
Jy was ook bevoorreg om saam met byna al die saakgelastigdes van die NG Kerk Vrystaat te kon werk. Vertel meer.
“Ja, dit was ’n besondere ervaring om met hulle te kon saamwerk, met die uitsondering van die eerste saakgelastigde, mnr JL van Heerden, wat oorlede is voor my geboorte.
“Mnr JL van Heerden is opgevolg deur dr SJ Naude wat my in 1968 aangestel het; ’n bedagsame en versorgende persoon.
“Sy opvolger was mnr JC van Graan – ’n streng man, maar altyd regverdig en begrypend.
“Hy is opgevolg deur mnr JH van Dyk, ’n gesinsmens wat ons as personeel altyd as familie beskou en as sodanig saamgesnoer het. Sy skielike dood in Junie 1991, pas voor die sinodesitting, was vir ons ’n groot slag.
“Sy opvolger, mnr PJB Coetzer, het vanuit Namibië by ons aangesluit. Hy het my altyd met agting hanteer.
“Ek was die sesde saakgelastigde en betrokke by die aanstellings van my toekomstige opvolgers, mnre JA Esterhuizen, HG de Lange en AJ de Ruiter, as rekenmeesters in die sinodale kerkkantoor. Ek het dus met sewe van die nege saakgelastigdes in ons sinodale kantoor saamgewerk.”
Hierdie pos behels natuurlik vele verantwoordelikhede waarvoor jy oor die jare geleidelik baie waardevolle ondervinding opgedoen het.
“Ja, inderdaad. Dit was my voorreg om wyle mnr van Graan sedert die 1972-Sinode te kon help met die sinode se begroting. Vanaf 1976 het dit my verantwoordelikheid gebly tot met my aftrede op 31 Desember 2009.
“Verder was die jaarstate en daaglikse finansiële bedrywighede ook my verantwoordelikheid, soos die algemene rekenkundige werk van die onderskeie sinodale kommissies, Ons Kinderhuis, die Sendingraad van Bloemfontein, Missie Japan en die Kuratorium Hoër Meisieskool Oranje.
“Die laaste drie jaar was die agendas en notules van die Sinodale Kommissie: Administrasie en Finansies, asook dié van die Argief-kommissie, my verantwoordelikheid. Dit het die reël van vergaderings ingesluit, asook betrokkenheid by administratiewe reëlings van sinodes en ander sinodale vergaderings.
“Dit was ook ’n groot voorreg om vir twee termyne van vier jaar elk die skriba te kon wees van die Gesamentlike Pensioene-komitee van die Vrystaat, Kaap en Transvaal. Dit was ook my ‘bedenklike voorreg’ om as voorsitter op te tree by die ontbinding van die komitee, toe die fondse verander het na vaste bydraefondse.”
Hennie, daar is natuurlik ook baie uitdagings as ’n mens aan die stuur van sinodale finansies staan, né?
“Beslis! Volgens my het van die grootste uitdagings gevolg op die groot ‘rasionaliseringspook’ wat sy opwaging gemaak het as gevolg van ernstige finansiële tekorte. Dit het (en is steeds) die oorsaak van die ernstigste en grootste probleme wat die werk van die kerk met groot hartseer aan bande gelê het.
“Daar moes afgeskaal word en baie poste is geraak, onder andere die poste van vyf sendelinge in Welkom, vier in Lesotho, twee wat in diens van sending onder die Boesmans gewerk het, twee sendelinge in die Caprivi, sendingpersoneel in Zambië en die predikant in sinodale diens (PSD) vir sending.
“Die volgende instansies en bedieninge is ook geraak: die Teologiese Skool Stofberg op Witsieshoek, die poste van die PSD: Jeug en sy kantoor, die PSD: Sinodale Kommissie Ampsbediening en Evangelisasie (SKAE), vandag bekend as Gemeentebediening, die argivaris en personeel, maatskaplike werkers, hospitaal-bearbeiding, gevangenis-bearbeiding, Nywerheidsbediening, kerkkantoor-personeel, en nog ander is almal hierdeur geraak.
“Groot sukses is egter behaal toe wyle ds AJ Scherrer en ek vanaf 2000 tot einde 2009 brûe kon bou met gemeentes deur middel van ringsbesoeke. Dit het gesindhede baie verander teenoor die beginsel van pro ratas (proporsionele bydraes); ’n nuwe, meer effektiewe formule wat ons ontwikkel, verduidelik en toegepas het en wat vir twintig jaar goed gefunksioneer het.”
Wat sou jy sê was die invloedrykste inisiatief wat jy tydens jou termyn geneem het?
“Ek sou sê dit was die totstandkoming van ’n behoorlike pensioenfonds en later ook ’n mediese fonds.
“Sedert Augustus 1972 het ek as hoofrekenmeester en nie-amptelike lid van die sinodale kerkkantoorkommissie inspraak begin kry by vergaderings.
“Danksy my ondervinding by die SA Lugdiens was ek deeglik van mediese en pensioenfondse bewus. Op daardie stadium het die sinode geen mediese fonds, bydraes of voordele gehad nie. Die pensioenfonds het bekend gestaan as ’n ‘groepgedagte’-pensioenfonds en is deur die sinodale kerkkantoor self bestuur. Dit het beteken dat alle lede dieselfde pensioen ontvang het, ongeag jou ouderdom of jare diens. In daardie tyd het die sinode elke vier jaar verhogings goedgekeur.
“Ek het besef dat dit nie so sou kon voortgaan nie en het eendag op pad lughawe toe in die oor van die aktuarius van die fonds gefluister om tog aandag te gee aan ’n ‘behoorlike fonds’ wat ook mediese ongeskiktheid moes insluit; iets wat toe nog nie regtig bestaan het nie.
“As gevolg hiervan het daar toe ’n behoorlike pensioenfonds en later ook ’n mediese fonds tot stand gekom met goeie voordele vir beide fondse.”
Mense hou dikwels met hul erflatings die ondersteuning van die kerk se goeie werk in gedagte. Het jy in jou termyn interessante erflatings gehanteer?
“Ja, daar is verskeie interessante bemakings wat die sinode oor die jare ontvang het. Die testament of skenkings het normaalweg bepaal dat die rente, soos beskryf, aangewend moes word.
“In een geval het ’n sekere FG Tromp, ’n vrygesel bekend as oom Trompie, sy plaas, Valsfontein in die Springfontein-distrik, aan die kerk bemaak. Dit moes verhuur word en die opbrengs onder andere verdeel word tussen die Sending en Diens van Barmhartigheid.
“Daar was ook kontantbedrae van oom Trompie wat belê moes word tot voordeel van ’n aantal ander instansies.
“Een interessante bepaling het gelui: ‘Daar moet ingeteken word op Die Kerkbode vir die werkers wat nog op die plaas woon.’ Met die verhuring het die arbeiders egter gaandeweg almal die plaas verlaat.”
Daar was ook ander interessante inkomste-bronne. Vertel meer.
“Graag. Die Hoër Meisieskool Oranje en Grey Kollege Sekondêr is in die 1900’s as Christelik-nasionale skole deur die NG Kerk Oranje-Vrystaat in Bloemfontein gestig.
“Die geboue is later deur die staat oorgeneem en die NG Kerk Vrystaat is daarvoor vergoed. Die bedrag vir Grey Kollege is in die Grey-Opvoedingsfonds belê en word sedertdien deur die sinodale kerkkantoor vir lenings aan behoeftige studente van die NG Kerk Vrystaat aangewend.
“Die bedrag vir die Hoër Meisieskool Oranje word beheer deur die kuratorium en geadministreer deur die sinodale kerkkantoor. Beurse uit renteverdienste word aan behoeftige leerders geskenk, soos deur die skoolpersoneel aanbeveel.
“Nog ’n interessante bemaking ten opsigte van die Hoër Meisieskool Oranje is uit die boedel van wyle Eleonora Badenhorst, in lewe van Dewetsdorp. Dit bepaal dat die rente jaarliks gegee moet word aan ’n dogter uit Dewetsdorp wat in die skoolkoshuis bly; iets wat eers baie jare later, ná 2000, genoeg rente en ’n Dewetsdorp-dogter opgelewer het wat vir hierdie bepaling gekwalifiseer het.
“Dan is daar ook ’n bemaking ontvang van ’n Groenewald-egpaar waarvan die renteverdienste aan verskeie instansies moet gaan, soos die Sending, Diens van Barmhartigheid, die Bybelgenootskap, die Abraham Kriel Kinderhuis en ook spesifiek die Groenewald Cottage, ’n huis van die genoemde kinderhuis.
“Daar word ook jaarliks R6.00 (’n groot bedrag in die ou dae) aan die Heilbrongemeentes vir die instandhouding van die Groenewald-grafte geskenk, maar ongelukkig kon die grafte later, na baie moeite, nie meer opgespoor word nie.”
Dan is daar ook die Barend Wessels Gedenksentrum. Wat is die geskiedenis daarvan?
“In die vroeë 1900’s het wyle ds BJ Wessels, in lewe van Kroonstad, sy plaas Holfontein in die Kroonstad-distrik, aan die NG Kerk Vrystaat bemaak. Die testament was nog in Hoog-Hollands geskryf.
“Aangesien die egpaar kinderloos was, het die testament bepaal dat die plaas verhuur moes word. Die opbrengs moes as volg aangewend word: een derde elk moes gaan aan Binnelandse Sending, Buitelandse Sending en die Beursfonds vir behoeftige blanke studente van die Oranje Vrystaat. Daar is ook bepaal dat as daar afstammelinge van die Wessels-familie is wat behoeftig en verdienstelik is en op die grond wil kom boer en op die veiling op die gedeelte wat hy wou hê die hoogste bod maak, die huur gesubsidieer moes word.
“As gevolg van die behoefte om die Sinodale Pensioenfonds te versterk, is prospekteerregte op die plaas aan ’n mynmaatskappy toegeken. Daar is R1 miljoen ontvang, maar geen mynbedrywighede het plaasgevind nie. Die R1 miljoen en lenings is gestort in die Ds en mev Barend Wessels Gedenkfonds ten bate van die Sinodale Pensioenfonds van die NG Kerk Oranje Vrystaat. Die geld is gebruik vir die oprigting van die meenthuiskompleks bekend as die Barend Wessels Gedenksentrum.
“Die bedoeling van dié gedenksentrum was om behuising aan emeriti te verskaf wat nie eie huise kon bekostig nie. Die huur daarvan moes ook gesubsidieer word.
“Later is nog ’n kompleks, Rant en Dal, opgerig en as eenhede ten bate van die Sinodale Pensioenfonds verkoop. Dié ontwikkeling is gedoen in Langenhovenpark, Bloemfontein, en behartig deur die destydse sakebestuurder, wyle ds L Haarhoff.
“Die Margate Sands-tyddeelprojek is ook deur ds Haarhoff gehanteer. Alle opbrengste is ten bate van die Sinodale Pensioenfonds aangewend.”
Die Mooigenoeg Kampterein wat oorspronklik bekend gestaan het as die Bybelskool Sentrum, het ook ’n interessante geskiedenis. Hoe het dit ontstaan en verder ontwikkel?
“Dit was destyds onder beheer van die Sinodale Kommissie Ampsbediening en Evangelisasie wat saans Bybelstudiegeleenthede aangebied het onder leiding van ds Driescher en later prof JJ de Klerk, die eerste dekaan van die Fakulteit Teologie aan die UOVS.
“Rondom die 1960’s het die Kerkjeug-vereniging (KJV) die terrein by die SKAE vir R10 000 gekoop nadat KJV-lede met mening skouer aan die wiel gesit het om geld daarvoor in te samel. Alhoewel die KJV ’n landswye kerkvereniging was en in gemeenteverband en -toesig gefunksioneer het, het dit nie sinodale status geniet nie.
“Wyle Koos Heckroodt, rekenmeester in die sinodale kerkkantoor, het toe as Vrystaatse organiseerder opgetree. Hy het die terrein ontwikkel as ’n kampterrein vir KJV-lede wat ook gebruik is vir skoolverlaterskampe, voor-belydenisafleggingskampe en werkerskampe.
“Etlike gemeentes soos Bothaville en Kerkenberg het fondse tot hierdie inisiatief bygedra en kamphuise is met die fondse opgerig en na die verskillende ondersteuningsgemeentes vernoem.
“Die sinode het toe besluit om Jeugarbeid onder die vaandels van die Belydende Kerkjeugaksie (BKJA) vir werkende jongmense, die Senior Kerkjeugaksie (SKJA) vir hoërskoolleerders en die Junior Kerkjeugaksie (JKJA) in die plek van die Kindersendingkrans te plaas. Die KJV moes toe ontbind. Mooigenoeg is toe deur die Sinodale Jeugkommissie oorgeneem. Met die rasionalisering van die heeltydse PSD: Jeug en sy kantoor, is Mooigenoeg nou onder beheer van die sinodale kerkkantoor.
“Dit word steeds aangewend vir kerk-, Voortrekker- en ander kampe.”
Dan was jy ook verantwoordelik vir die bestuur van die Helpmekaar Studiefonds van die NG Kerk Vrystaat. Vertel meer.
“Die Helpmekaar-beweging het na die rebellie van 1914 ontstaan en verskillende takke is gestig om fondse in te samel om die boetes van onder andere generaal CR de Wet te betaal. (Lees meer daaroor hier.)
“Danksy verskeie projekte en groot reklame vir dié fonds is die enorme skuld binne drie jaar – in 1917 – heeltemal afbetaal. Daar bly egter toe nog 92 000 pond oor en die fonds bly steeds groei deur ’n ongekende stroom bydraes. Daar is toe besluit om die surplus te verdeel onder die vier provinsies, naamlik die destydse Vrystaat, Natal, Kaapland en Transvaal, wat elk hul eie fondse en bepalings sedertdien ontwikkel het.
“In die Vrystaat is voortgegaan om takke van die Helpmekaar-beweging te stig om fondse in te samel vir diegene wat tydens die rebellie skade gely het. In Bloemfontein is byvoorbeeld verskeidenheidskonserte gehou, deur onder andere Pieter de Waal in die Jubileumgebou van die NG Kerk Oranje-Vrystaat Sinode aan die bopunt van Maitlandstraat.
“Nadat die geïdentifiseerde slagoffers gehelp is, is die fondse geoormerk vir studielenings aan finansieel behoeftige studente wat in die Vrystaat woon en aan die Universiteit Oranje Vrystaat studeer. Vandag word die fonds deur ’n sinodale kollekte van gemeentes versterk.”
Daar is natuurlik ook invloedryke karakters met wie ’n mens paaie kruis gedurende jou loopbaan. Wie sou jy uitlig as die mense wat ’n besondere rol in jou werk as saakgelastigde gespeel het?
“Daar was net te veel om uitsonderings te maak. Moderators van my tyd was dr DJ Louw, dr PSZ Coetzee (oom Pietie), dr A van der Merwe, prof EPJ Kleynhans, prof P Strauss, dr Koot Vorster (Algemene Sinode), ds DJ Snyman (Sending) en dr PJ van Jaarsveld wat ook voorsitter van die Kerkkantoor-kommissie was.
“Ds JL Pretorius (Diens van Barmhartigheid), dr Willie Marais (gemeente-predikant), ds DJ Hoffman, Sr J Stoffberg en talle ander Zambië-personeellede het ook baie vir my in dié pos beteken.
“Ander personeellede wat baie jare saam met my gewerk het en vir wie ek baie agting het, is Hennie de Lange, André Esterhuizen, Johan Coetzer, mevv Heila Oelofse, Sussa van Tonder en Lisma Liebenberg.
“Ek sou baie oor elkeen en nog ander, ook die reeds genoemdes, kon skryf. Ek is diep dankbaar en het groot waardering vir die predikante en gemeente-amptenare wat my altyd met soveel liefde en agting hanteer het. Mag die Here hulle almal seën.”
Ten slotte
“Vir bykans 42 jaar – vanaf 1 Februarie 1968, het ek beleef: ‘Dag na dag dra EK jou!’ (Ps 68:20) Tot op 31 Desember 2009 het ek geweet: ‘Tot nou toe het die Here my gehelp.’ (1 Sam. 7:12)
“Aan die Vader – dank en ere, lof aan sy Naam – vir baie genade en die voorreg om op so ’n wyse in sy diens te kon wees.”
Kontak
Vir meer inligting kan Hennie gekontak word by havdwalt@gmail.com
| verskaf deur: Mnr Hennie van der Walt




