Skip to content Skip to sidebar Skip to footer

’n Bord van oorvloed

My pa (en ma!) se skaappot is een van my gunsteling-etes. My ma koop altyd vars groente vir hierdie bederf-ete of haal selfs pampoen en patats uit die groentetuin. Eers braai hulle die uie met heerlike speserye en dan braai my pa die skaapnek en skenkels in die pot. Intussen sny my ma die berge groente op. Deur die loop van die volgende vyf uur word die verskillende groentes bygevoeg, elkeen op sy gepaste tyd.

Op ’n geseënde dag is al vyf die kinders en hulle gesinne daar en eet almal heerlik saam aan hierdie pot terwyl ons luidrugtig om die etenstafel kuier. Dit is ‘n bord van oorvloedige voedingswaarde, natuurlike geure en kosbare herinneringe.

In teenstelling hiermee kies ons te midde van die eise van ons oorlaaide lewe dikwels die makliker, vinniger en geriefliker opsie: Die verslawende plastiek van wegneemetes. Dit pas immers in ons gejaagde bestaan van vandag. Hoe makliker, hoe beter. Hoe vinniger, hoe meer aanloklik. Ek wonder selfs hoeveel mense nog hier lees ná my uitgerekte storie.

Dit lyk vir my al hoe meer of ons kwantiteit kies bo kwaliteit. Dan spog ons nog met ons baie klere van SHEIN en ons baie oppervlakkige vriende en ons baie geld vir ons min kinders. Miskien weet ons nie meer hoe om waarde te meet nie.

Hierdie oppervlakkige, gejaagde lewensfilosofie het deurgesyfer na ons geestelike lewens. Waarvan praat Dawid as hy sê die pelgrim moet wag op die Here? Sekerlik nie meer as 60 sekondes nie? Kan God nie bietjie vinniger antwoord, inspring en iets doen nie? Strek my wortels nie al diep genoeg die grond in nie? My geestelike anoreksie pla my nie. My 20 stelle tydelike klere steek dit goed genoeg weg. Ek begeer nog drie ure van my duim se gly oor ’n twee-dimensionele selfoonskerm. Ek vermy nog ’n persoon wat my kwaad maak. Iemand anders sal haar maar moet liefhê. Konflikhantering vat te veel tyd, te veel energie en te veel emosie. Ek bly liewer net weg en bid vir hom van ver af. 

Vir jou wat die voorreg van ‘n feesmaal het hierdie Kerstyd bid ek dat jy weer die waarde sal raaksien van voorbereiding, tyd, moeite, wag, tyd, lankmoedigheid, geduld, harder-moeiliker-tydsame werk en dat jy weer sal begin om dit in jou geestelike lewe toe te pas. God het immers nie net iemand anders se WhatsApp na die wêreld toe aangestuur nie, maar Homself gegee in die vorm van Sy Seun, Jesus Christus.

Kersgedig

My donker hang in ‘n swaar mantel om my nek,

buig my skouers na voor,

knak my ego, ek verloor

my stem, my goue geel,

my kinderskulp, my moederskoot, my plek

maar in ‘n hemel van smart skitter ‘n skynende hoop in die rigting van die Krip