Skip to content Skip to sidebar Skip to footer

Met die maan gepla

“Vir die musiekleier. Op Haghittiet. ‘n Psalm. Van Dawid.”

Psalm 8:1-10 (AFR20)

Op Woensdag 30 Augustus was ons met die maan gepla. Dit was immers ‘n blou supermaan – ‘n astronomiese verskynsel wat eers weer in 2037 sal voorkom. Op hierdie nag draai die maan vir die tweede keer in een kalendermaand op die naaste moontlike punt verby die aarde (vandaan die “blou” beskrywing), en vertoon dus uitermatig groot en helder (groot, groter, supermaan). Daarmee saam is dit ook die aand waarop Saturnus op sy helderste sal vertoon, naas die maan; dus ‘n driedubbele bekoring vir enigeen wat hou van die ongewone en dit wat die hemelruim verklap.

Met ‘n planetarium ‘n klipgooi van ons huis af, was dit ‘n maklike keuse om te maak: ons gaan Naval Hill opry en deelhê aan die vertoning by die Planetarium, gevolg deur die kans om deur teleskope na beide Saturnus en die maan te kyk. YouTube en Netflix kan wag; hierdie is die “real mckoy”. Die ouditorium is volgepak, al die kaartjies binne ‘n dag uitverkoop. Ek verkyk my aan die groot aantal kinders wat deel van die gehoor is, en word aangesteek deur die opwinding in die lug soos ons op ons rûe op die uitstrekstoele lê en wag vir die vertoning om te begin. Ons reis maan toe en terug, Saturnus toe en terug, en verkyk ons aan ruimtefotos wat tot in die fynste detail die ringe van Saturnus en die oppervlak van die maan kan vasvang.

Geduldig neem ons ons plek in die ry by die teleskope in. Dit voel waaragtig soos die pannekoektafel se ry by ‘n basaar. Gesprekke oor skooltake agter ons, en oud en jonk wat kort-kort met selfoonkamers in die lug in mik om ‘n dowwe gezoomde foto van die supermaan vas te vang. Die laerskoolseun voor ons het spesiaal sy NASA t-hemp aangetrek vir die geleentheid, en herinner sy sibbe aan wat ons sopas geleer het oor die blou maan benaming. Hoekom spesifiek die woord “blou” kan hy nie onthou nie, maar “dis nie omdat die maan blou is nie, okay?”.

Uiteindelik ons beurt. Eers deur ‘n verkyker, en vandaar na die reuse teleskoop apparate: waaragtig, ek sien die ringe van Saturnus so helder soos daglig, die prentjies en fotos jok nie. Soos ‘n perfek gevormde versiersel hang dit in die lug, teen ‘n hoek, en ek moet myself herinner dat ek kyk na ‘n regte-egte bol gas met ringe vol ysblokke en stof. Ek skuif aan na volgende een, nou is dit tyd vir die maan. Dit is soos ‘n flitslig in my oog – helder, duidelik, met elke hobbel en duik sigbaar, volwaardig 3D en verwyderd van my vrolike 2D glimlag-gesig wat ek so graag in die boonste hoek van die inkleurprent geteken het.

Ons stap ‘n ent weg van die gedruis, veld se kant toe, staar op in die lug en sien ‘n paar sterre-konstellasies en satelliete. Beweeg rustig motor toe om die ervaring nog so bietjie langer uit te rek, en volg die maan se helder lig al die pad huis toe. Tuis kyk ons vir oulaas op voordat ons by die voordeur instap.

Soos ‘n refrein herhaal Psalm 8:4-5 die hele aand in my gedagtes:

4Wanneer ek na u hemelruim kyk,

die werk van u vingers,

die maan en die sterre

wat U gevestig het –

5 wat is ‘n mens dan dat U aan hom dink,

‘n mensekind dat U aan hom aandag skenk?

Op Sondag 3 September begin die Seisoen van die Skepping, waar die kerk doelbewus fokus op die geskenk, gawe en verantwoordelikheid van God se handewerk. Ons is immers aangestel as rentmeesters van die skepping, ‘n taak waarin ons maar al te dikwels faal: ons wil gebruik en verbruik, en vertrap in die proses die genade en prag rondom ons. Ons verwar rentmeesterskap met oorheersing, en maak onsself en ons eie belange en behoeftes die middelpunt van ons bestaan. Ons wil nog en meer, en verreken nie aldag die implikasies van ons gierigheid op die delikate ekosisteme waarvan ons maar een deel is nie.

Dalk moet ons bietjie meer met die maan gepla wees? Meer opwaarts kyk, ons eie kleinigheid in die grote heelal besef? Weer die vanselfsprekendheid van flikkerende sterre en bewegende konstellasies en ‘n mooi sonsondergang afstof, en kinderlik opgewonde raak oor dit wat kan bekoor? Sodat ons saam met die Psalmdigter en die hele skepping die woorde van Psalm 8 kan uitroep, kan bely, kan verkondig:

 10 Here, ons Heer,

hoe magtig is u Naam

oor die hele aarde!

(Bybel-aanhalings is uit die 2020-vertaling geneem.) 

116 | Maatskaplike NOODLYN