Skip to content Skip to sidebar Skip to footer

Die Ring van Goudveld

Deur Mariëtte Odendaal

Die Ring van Goudveld belê in hul vroue en kinders

“Die droom van ons Damesoggend was om ’n bederf-geleentheid met ’n lewensveranderde boodskap te reël wat vir alle belangstellende vroue bekostigbaar sou wees.”

Hannetjie Nel
Bestuurslid van die sinodale vrouebediening

“Die #Imagine KIDZ was ’n geleentheid wat die kinders van ons gemeenskappe geestelik bedien het; iets wat ’n uiters waardevolle belegging vir enige gemeenskap is.”

Ds Christo Nel
Leraar: Riebeeckstad Moedergemeente

Die NG Kerk Vrystaat het in die 2023/24-boekjaar ’n bedrag van R30 000 aan elkeen van die 15 Vrystaatse ringe beskikbaar gestel om gesamentlike ringsprojekte te ondersteun. Die versoek was dat diens in samewerking met ’n sinodale bediening gelewer moes word. 

Wat die Ring van Goudveld betref, is daar by die sinodale bedieninge Bedieningsbegeleiding, Diens van Barmhartigheid en Vennote in Getuienis ingeskakel. Ons het meer gaan uitvind oor hoe hulle ring die fonds aangewend het.

Op 16 September 2023 is daar ’n Damesoggend vir die vrouelidmate van die Ring van Goudveld aangebied. Hannetjie Nel, bestuurslid van die sinodale vrouebediening, wat die oggend gereël het, vertel:

“Uitnodigings is na al die gemeentes in die ringe van Goudveld en ook Welkom gestuur.

“Die geleentheid is by die NG Kerk Riebeeckstad (Moedergemeente) aangebied waar ongeveer 120 dames die besondere geleentheid bygewoon het. Dis ook die gemeente waar ek en my man, Christo Nel, leraarspaar is.

“Nadat die vroue in die kerksaal met ’n geskenksakkie by registrasie verwelkom is, kon hulle gesellig verkeer oor ’n koppie koffie en muffins. Boonop was Engo se Omgie ook daar om elkeen te verwelkom met ’n suigstokkie en ’n hartlike drukkie.

“In die kerksaal was daar ’n wye verskeidenheid uitstallers, onder andere die Bybelgenootskap, Engo, Bidbeertjies, skoonheidsprodukte en leeritems.

“Daarna het almal na die kerkgebou beweeg, waar die vroue onder leiding van Tania Snyman die Here met ’n klompie aanbiddingsliedere aanbid het.

“Ons was bevoorreg dat Beneli Pretorius en Karin Kersop van die Sinodale Vrouebediening ook die geleentheid bygewoon het. Beneli het ’n groete-boodskap aan die dames oorgedra asook inligting deurgegee oor die beplande Vroue-toerustingsgeleentheid by Amanzi (naby Brandfort) in Februarie vanjaar.

“Hierna het prof Jan Albert van den Berg, verbonde aan die Department van Praktiese Teologie by die Fakulteit Teologie aan die Universiteit van die Vrystaat, ons toegespreek oor die tema ‘Ontkiem’.

“Met behulp van ’n versameling foto’s kon elke vrou hoor dat God vir haar ’n plan het; om te ‘ontkiem’ tot dit wat die Here vir haar beplan.

“Tydens die teepouse is ons in die kerksaal met heerlike verversings bederf en kon ons weer die uitstallings besoek en om die tafels met vriendinne kuier.

“Terug in die kerkgebou het Engo, die Bybelgenootskap en die Bidbeertjies geleentheid gekry om hul werk, projekte en visies met ons te deel.

“Willa Krause, wat op hierdie dag ’n splinternuwe skoonheidsproduk kom bekendstel het, het ’n trekking geborg tot groot vreugde van die gelukkige wenner.

“Voordat prof Jan Albert weer aan die beurt gekom het, het ons eers nog ’n keer die Here met musiek en sang aanbid. Met prof Albert se praatjie het hy ons op ’n inspirerende wyse aangemoedig om te ‘ontkiem’.

“Voor ons vertrek was daar vir elkeen ’n middagete-pakkie wat ons daar kon nuttig of huis toe kon neem vir diegene wat weer betyds by hul volgende afsprake moes wees.”

Die Ring van Goudveld het ook ’n #imaginekidz-jeugweek aangebied. Ons het meer gaan uitvind by ds Christo Nel, leraar van die Riebeeckstad Moedergemeente, wat dit gereël het.

“Tydens verlede jaar se Junie-vakansie het ons gedurende die eerste week van die vakansie, van 26 tot 30 Junie, ’n #imaginekidz-Jeugweek by ons gemeente aangebied,” vertel ds Christo.

“Deur die loop van die week het ons ongeveer 850 kinders bedien teen ’n gemiddeld van sowat 170 kinders per dag. Hierdie kinders was van verskillende denominasies en kultuurgroepe waarvan ongeveer 40% Afrikaans en 60% Engels was. Sowat 50 tieners uit die Afrikaanse en Engelse gemeenskappe het as groepleiers en helpers opgetree. Ons praat dus van ongeveer 220 tot 230 kinders wat per dag geestelik bedien is; iets waarvoor ons die Here loof.

“Die dagprogram het om nege-uur met aerobics en georganiseerde groepspeletjies begin. Daarna was daar samesang, grootgroep-gesprekke, poppekas, Bybelstudie, encounter-stasies en aktiwiteite wat die lesse help vaslê het vir wanneer die kinders weer tuis is.

“Daar was ook elke dag snoepietye met koeldrank en ’n vrug of iets lekkers, asook middagetes om eenuur wat bestaan het uit etes soos vetkoek, snackwiches, kerrie en rys, sop en pannekoek.”

Watter voordele het dié ringsprojekte gelewer?

Hannetjie vertel: “Die droom van ons Damesoggend was om ’n bederf-geleentheid met ’n lewensveranderde boodskap te reël wat vir alle belangstellende vroue bekostigbaar sou wees.

“’n Opregte dankie aan die Ring van Goudveld wat die fondse beskikbaar gestel het om hierdie Damesoggend moontlik te kon maak. Daar is nie één vrou wat nie met ’n vol hart huis toe gegaan het nie!”

Ds Christo vertel: “Die #imaginekidz was ’n geleentheid wat die kinders van ons gemeenskappe geestelik bedien het; iets wat ’n uiters waardevolle belegging vir enige gemeenskap is.

“Ons het besonder baie positiewe terugvoer vanaf die ouers gekry. Ons het gevoel dat ons van die kerk se kant af hulle werklik help ondersteun het om hul kinders geestelik paraat te help maak vir die uitdagings waarmee hulle in die lewe te kampe het.

“Dit was ’n week waartydens die evangelie op verskillende maniere die Koninkryk gedien en ’n verskil in baie kinders se lewens gemaak het.

“Dit het nie net vir die kinders baie beteken nie, maar ook vir die tieners en volwassenes wat as fasiliteerders opgetree het.”

Hoe is die fonds van R30 000 aangewend?

Hannetjie vertel: “Die inskrywingsfooi vir die Damesoggend was net R50 per persoon en die GOUF-fonds kon die res van die uitgawes ten opsigte van die geskenkies en versnaperinge dek. Daarsonder sou dit onmoontlik wees om so ’n besondere bederfoggend vir die vroue te kon aanbied; iets wat hulle almal baie nodig gehad het.

Ds Christo vertel: “So ’n #imaginekidz-geleentheid kos ons sowat R15 000 vir die week en dan draai ons die sente behoorlik om om dit haalbaar te maak.

“Baie dankie dat daar uit sinodale verband so iets moontlik gemaak is! Dit is ’n kosbare belegging in ons jeug se geestelike ontwikkeling en hul toekoms.”

Kontak

Hannetjie Nel by hannetjie1nel@gmail.com of ds Christo Nel by soekie@lantic.net vir meer inligting.

 | verskaf: De la Harpe le Roux

116 | Maatskaplike NOODLYN