Die NG Kerk Vrystaat het in die boekjaar 2022/23 ‘n bedrag van R30 000 beskikbaar gestel aan elkeen van die 15 Vrystaatse ringe om gesamentlike ring-projekte te ondersteun. Die versoek is dat diens in samewerking met ‘n sinodale bediening gelewer word.
“Wat die Ring van Vaalrivier betref, is daar by Bedieningsbegeleiding as sinodale bediening ingeskakel,” vertel ds Francois van Tonder, ringskriba van die Ring van Vaalrivier.
Vertel ons meer oor hoe fondse ten bate van jul ringsprojekte aangewend is.
“Die Covid-19-pandemie het gemeentes gedwing om vir ‘n oomblik laer te trek en om ons oor onsself te bekommer,” vertel Van Tonder. “Natuurlik is daar niks fout daarmee nie – die wêreld is die afgelope paar jaar deur ‘n ongelooflike moeilike tyd en families en verhoudings dra nou nog die letsels van die pandemie.”
“Maar so het die pandemie ook verbygegaan en dit is nou drie jaar later. Die wêreld lyk nie meer dieselfde as voor Covid nie; die kerk ook nie. Daarom moes gemeentes weer fyn leer luister en soek na God se stem en hoor waarmee God in gemeentes en in die omgewing besig is.”
“Die ideaal is dat ons as gelowiges en gemeentes weer ons roeping in ons onmiddellike omgewing, soos wat God dit bedoel het, sal onthou en opneem,” verduidelik Van Tonder. “Die nuwe normaal is eintlik nie iets nuuts nie; dit is die oorspronklike normaal. Normaal beteken vir die kerk dat ons as gestuurdes in die wêreld leef waar God alreeds aktief betrokke is.”
“Daarom het ons vir elke gemeente in ons ring die In Pas-handleiding gekoop, sodat ons gemeentes hul roeping in Christus kan herontdek, minder na binne gerig sal wees en meer na buite sal leef.”
“Die projek gaan ook vanjaar hierdie proses ’n stap verder neem deur ’n In Pas-werkswinkel in die Ring van Vaalrivier aan te bied om dit meer prakties en bruikbaar vir leraars, kerkraadslede en gemeentelede te help maak.”
Watter voordele lewer dié In Pas-ringsprojek?
“Dit help gemeentes om weer deel te word van God se missionale roeping vir sy kerk,” verduidelik Van Tonder. “Die kerk was vir lank staties, besig om te herbou en om die skade van die pandemie te assesseer. Dit is tyd vir gemeentes om hulself ten opsigte van God se plan te heroriënteer. Ons moet na buite begin kyk en nie na binne gefokus bly nie. Hierdie In Pas-handleiding leer aan gemeentes verskillende ritmes wat deel kan word van ons alledaagse lewe. Dit verduidelik ook aan ons hoe ons sekere gewoontes kan deel maak van kerkwees en hoe ons hierdie missionale uitkyk in die wêreld prakties kan uitleef.”
Maar daar is dikwels ook uitdagings met sulke ringsprojekte
Inderdaad. Van Tonder verduidelik: “Covid-19 het veroorsaak dat ons gemeentes die mure rondom ons al hoe hoër begin bou het, sodat ons veiliger kon voel in ‘n baie onseker tyd.”
“Noudat ons deur die storm is, is dit vir ons tans moeilik om weer uit ons veilige skuilplekke te beweeg. Ons wil ook nie sommer iemand weer in ons veilige plekke innooi nie. Dit is gemaklik en veilig daar, so ons verkies dit om daar te bly.”
“Die grootste uitdaging is om mense en gemeentes uit hierdie gemaksone te laat beweeg en weer te help heroriënteer volgens God se missionale plan wat na buite, eerder as na binne gerig is.”
“Die R30 000 is aangewend om te verseker dat elke gemeente in ons ring so ’n In Pas-handleiding kon kry.”
“Toekomstige ringsprojekte sal altyd baat vind by hierdie soort ondersteuning vanaf ons Sinode Vrystaat – iets waarvoor ons diep dankbaar is.”
Kontakbesonderhede
Vir meer inligting kan ds Francois van Tonder geskakel word by 073 179 0017, of stuur ’n e-pos aan hom by francoisv3@gmail.com