Skip to content Skip to sidebar Skip to footer

‘n Mooi storie om te vertel… van lank gelede tot die toekoms in!

Kovsiekerk. Studente Kerk. Kopanongkerk.

Dit is tien teen een met ‘n glimlag op jou gesig wat jy een van hierdie woorde lees. Dit hang natuurlik af van wanneer jy op universiteit was.  Maar wat dieselfde by al drie name bly, is die mooi stories wat mense saamdra oor hul tyd HIER. Kovsiekerk. Studente Kerk. Kopanongkerk.

Ek gesels ander dag met ‘n tannie by ‘n gemeente in Victoria-Wes. Sy het vyf draftoere gedoen. Op die tafel in die ingangsportaal, lê vyf hemde uitgestal – een vir elke toer. Dun gewas, hier en daar ‘n mot-gat, maar mens kan sien die hemde is spesiaal. Dit herinner aan iets besonders. Dit laat haar gedagtes gaan na ‘n tyd waarin sy gevorm is; uitgedaag is; mens geword het. In haar lag en gesels en vertel, hoor ek die bydrae wat die kerk in haar lewe gemaak het. En dit is ‘n storie wat die moeite werd is om oor te vertel: Dat God nog altyd opdaag in mense se lewens. Selfs al gebeur dit op ‘n lang stuk pad tussen Brandvlei en Vanwyksvlei – waar God en mens soms saam wandel en draf. Emmaus.

“Fast forward”’ tot 2007: ‘n Tragiese gebeurtenis in van die studente se lewens. Van hul maats, MY maats, het verongeluk by ‘n kruising op pad huis toe. En die plek van bymekaar kom, die plek van rou, die plek van begeleiding is by die kerk. Die kantoor word ‘n spreekkamer. Die koshuis-‘Gazellie” word ‘n kerk. SO dra ‘n gemeenskap mekaar. SO het hulle lief. SO beliggaam ons Jesus – dit sal ek dit nooit vergeet nie.

Weer ‘n “fast forward”, dié keer na 2018. Die kerk huur ‘n huis in Universitas – dit is ons eerste Echo-huis (Jaco Strydom se bediening). En ons vier die opening hiervan met ‘n lang tafel, wat loop deur die sit- en eetkamer. Ons braai vleis wat almal bring en ook ‘n mooi klompie wat ons self moes koop, want almal het nie geld vir vleis nie. Net voor ons bid, kyk ek op en sien een van die mooiste prentjies wat ek nog gesien het. ‘n Groep jongmense, seker amper 30 van hulle, wat lag en eet en terg, borde en koppies deel en sommer die oorskiet van die dames aan-”pass” van bord tot bord. Ryk, middelklas, arm. Dames en manne. Kleurling, swart, wit. Die boodskap duidelik – Hier is ons een… Hier is Christus alles en in almal. Ek raak sommer hartseer toe ons bid.

“Fast forward” weer – tot 2022. ‘n Vrek moeilike jaar vir baie kerke – vir Kopanong ook. Ons moes die kerkgebou verkoop. Daar is baie trane daaroor gehuil. Water is onderdeur die brug en mens kan nie ‘n rivier in die teenoorgestelde rigting laat vloei nie. Maar… daar is darem nog WATER! Die Fontein wat lewe gee borrel steeds – in ons, deur ons, vanuit ons.  Een ding is ons van seker: God se hart en visie vir die mense – vir die studente – het nog nooit verander nie. Hy ontmoet hulle steeds waar hul is. In studente-huise, in ‘n gehuurde saal, in ou kerkgeboue. Op straat. Onder die maanlig, en IN die geselskap met mekaar. Dit gebeur HIER. En dit is mooi.

Kopanong is vanaf einde November 2022 nie meer ‘n ‘kerk’ in die sin van die woord soos ons dit ken nie. Kopanongkerk word nou Kopanongbediening. En dit is ‘n mooi storie om te vertel! Kan jy dit vir jouself indink – dat hierdie gemeenskap self tot die slotsom kom, dat die posisionering moet skuif, want die nood lyk anders. Die roeping is en bly dieselfde – om ‘n plek en handeling van bymekaar kom te wees. Maar, ons moet ander maniere kry om dit uit te leef. Die nood vra “workshops” en “life skills” en “training”. “Community” en diens; voete-was. God bekwaam ons en plaas ons in verhoudings waar kospakkie-verspreiding relatief maklik gedoen kan word. En DAAR, in die oorgee en gesels met ‘n kospakkie in die hand, daag God weer op. ‘n Ontmoeting gebeur. En DIT is ‘n mooi storie om te vertel.

Die studente het ‘n tuiste hier – hulle Kopanong. En God daag op. Die ouens word vriende, vanuit die CUT, KOVSIES, Echo-huise (was tien teen een in ‘n kinderhuis of selfs op straat), en sommer jong werkendes ook, wat nie geld het om te swot nie. Alles lyk en klink effens anders. Maar die God van Lewende Fonteine is steeds God. Dieselfde. En Hy roep, stuur en ontmoet sy mense. Dit is ‘n mooi storie om te vertel.

—————————

Naskrif:

Studente wat in 2023 hulself in Bloemfontein kom vestig – skakel asseblief in by die satelliet-punte van Kopanong. Vir die nabye toekoms is daar twee plekke: Kopanong self, en ook Langenhovenpark-gemeente (hou die spasie dop, daar kom nog ‘n paar!). Die pamflet vertel alles wat jy moet weet. Raak betrokke by ‘n ‘local’ gemeente waar jy bly. En wees die lig daar. Vir die geselskap en gemeenskap – elke Sondagaand om 17:00 sal jy ons êrens kan kry. Kontak gerus 084 258 4556 (Chris de Vries) vir meer inligting. En O JA – Kom KOUGOM toe!! Dit gebeur vanaf 18-21 Januarie 2023. Hier is die ‘link’ na die inskrywingsblad en pamflette:

www.kapanongchurch.org/af/kougom

Bly in verbinding hier:

FB: @kopanongchurch

Insta: @kopanongchurch

Youtube: @kopanongchurch

Web: www.kopanongchurch.org

——————————

Vrae & Antwoorde:

V: Is die studentekerk gebou en gronde verkoop?

A: Ja. Die kerkgebou en grond is verkoop aan die UV as gevolg van ‘n skuldlas wat al groter en ondraaglik vir die gemeente geword het. Die bediening self is egter steeds 100% aan die gang en funksionerend.

V: Waarnatoe stuur ons die jongmense wat volgende jaar hier in Bloemfontein begin studeer?

A: Kopanongbediening maak tans gebruik van die saal van die Studentekerk (ons huur die spasie by die UV). Dit is die plek van waar ons bedien. Alle studente en jong werkendes is so welkom om hier te kom inskakel. Ons ontmoet Sondae om 17:00. Die maklikste ingang om te gebruik is die swart hek vanuit DF Malherbelaan. Die hek sal oop wees op Sondae voor die diens.

V: Indien daar ‘n Afrikaanse student is wat graag in Afrikaans bedien wil word, is daar ‘n plek binne studente bediening waarheen ek hom/haar kan stuur?

A: Ons bediening gebeur tans Afrikaans en Engels. Die groter meerderheid van die studente gemeenskap wat by ons tuiskom is nog Afrikaanssprekend. Ons kies om taal as ‘n ‘tool’ te gebruik – taal wil ons help om met mekaar te kan kommunikeer. Dus moet almal dit verstaan. Ons eerste identiteit as Kopanong is nie gekoppel aan ‘n taal-, ras- of kultuurgroep nie. Ons eerste identiteit is dat ons graag agter Jesus wil aanloop. Hy het die “Lingua Franca” van sy tyd gepraat. Wanneer ons bymekaar is en daar is persone wat nie Afrikaans verstaan nie, praat ons Engels. Dit is as’t ware die “Lingua Franca” van Suid-Afrika. Ons eredienste is daarom in Engels, omdat daar altyd mense van verskeie agtergronde in ons dienste is. Kom ons gebruik die tale wat God ons gegee het as die “tools” waarvoor dit bestem is!

Ander geleenthede soos selgroepe, kuiers, danse, uitreike ens., vind plaas binne die taal wat almal verstaan. As almal by ʼn Bybelstudie Afrikaans is, dan is die gesprekstaal Afrikaans. As almal Sesotho is, sal die gesprekstaal Sesotho wees. As almal Engels is, sal dit in Engels wees. In gemengde groep dus – Engels.

V: Wat presies gaan studente bediening nou behels?

A: Die bediening gaan fokus op drie areas:

Die area van Gemeenskap (Koinonia) – Hierdie is die hart van ons bediening. Dit is die spasies waar ons bymekaar kom, waar ons vir God aanbid en waar ons wil beweeg van vreemdelinge na kennisse na vriende.

Die area van Diens (Diakonia) – Die konkrete behoefte onder studente aan die UV is werklik dringend.  Ons gemeenskap wil graag in die konkrete behoeftes van die studente voorsien. Dit behels alles van gebed, berading, voedselvoorsiening, mentorskap, prediking, ensovoorts.

Die area van Beliggaam (Inkarne) – Christus het ons geroep om lewende fonteine water vir ander te wees. Die studente het deur die jare ongelooflike toere, aksies en uitreike gereël waar ons droom om die lewende water te word en te wees vir gemeenskappe. God werk so verrassend – telkens is die getuienis dat ons eintlik juis op hierdie plekke die lewende water van Sy liefde herontdek en weer leer drink. God ontmoet ons werklik waar ons is!

Aan die hoof van die span staan Chris de Vries en Gerhard Meyer (beide gelegitimeerde dominees in die NG Kerk). Hul word ondersteun deur nog drie persone wat in verskeie hoedanighede werk.

Hier is ‘n “snapshot” van hoe die bediening en visie lyk vir 2023:

Kliek hier vir “Snapshots”

V: Wat word van die studente wat lidmate in Kopanongkerk was?

A: Die studente bly deel van die bediening van Kopanong, en alles gaan normaal voort. Hul atestate gaan lê in die kantoor van NG Gemeente Langenhovenpark. 

116 | Maatskaplike NOODLYN