Skip to content Skip to sidebar Skip to footer

160 Geseënde jare van Kerk-wees: Eertydse sinode-voorsitter, ds Helgard Janse van Rensburg vertel …

 | verskaf: Mariëtte Odendaal

Deur Mariëtte Odendaal

Hierdie jaar vier ons die 160ste bestaansjaar van die Vrystaat Sinode; ’n besondere voorreg omdat dit vir ons as Christene al vir meer as ’n eeu en ’n half deur oorloë, droogtes en vele ander lewenskrisisse en sosiale kwessies help dra het.

Om werklik kerk te wees en leiding oor geslagte heen aan duisende kerkleiers en gemeentelede te kon help gee, was dit nodig om ervare mense met diep insig en wysheid aan die stuur van ons sinode te kon hê.

Ons het met vyf van ons vorige sinode-voorsitters wat nog leef, gaan gesels om te hoor hoe hulle hierdie uitdagende taak in hul onderskeie termyne beleef het.

Ons eerste gesprek was met prof Pieter Potgieter, sinode-voorsitter van 1987 en 1995, asook van die Algemene Sinode van 1994. Ons tweede gesprek was met prof Piet Strauss, voorsitter van die NG Kerk Sinode Vrystaat in 1999 en 2005, asook die voorsitter van die Algemene Sinode in 2007. Ons derde gesprek was met dr Lourens Erasmus wat die voorsitter van die NG Kerk Sinode Vrystaat en moderamen was vanaf 2003 tot 2005. Ons vierde gesprek was met dr Pieter van Jaarsveld wat as voorsitter van die moderamen van die Vrystaat gedurende drie termyne gedien het, naamlik van 2008 tot 2009, daarna van 2009 tot 2013 en toe weer van 2017 tot 2022.

Ons vyfde gesprek is met ds Helgard Janse van Rensburg wat van 2014 tot 2017 voorsitter van die sinode en moderamen was. Nadat hy in 2013 as assessor verkies is, is hy in 2014 aangewys as voorsitter van die moderamen en van die twee buitengewone sinodevergaderings wat gehou is op 29 Julie 2014 en 17 Maart 2015. 

Helgard, hoe het jy hierdie uitdagende taak beleef?

“Die hele tyd was ek daarvan bewus dat ek niks meer mag wees as maar net ’n instrument in die hand van die Here nie. Dit is immers Hý wat die Hoof van sy kerk is. Ek het deurgaans net besef my rol was om, in afhanklikheid van die Here, aan die kerkvergaderings die geleentheid te bied om te hoor wat Hy as Hoof deur sy Woord en Gees sê – sodat die vergaderings dan kon sê: ‘Die Heilige Gees en ons het besluit …’”

Wat beskou jy as die grootste hoogtepunte en uitdagings in jou tyd as voorsitter van die NG Kerk Sinode Vrystaat en moderamen?

“Een van die grootste uitdagings wat ek kan onthou, was om uitvoering te gee aan die Algemene Sinode van 2013 se besluite oor die moontlike uitbreiding van die Kerkorde Artikel 1. Daarmee sou daar voorsiening gemaak word vir die insluiting van die Belydenis van Belhar as ‘n opsionele vierde belydenisskrif.

“Nou, dit is so dat ’n belydeniswysiging uiteraard nie ’n geringe saak is wat sommer ligtelik hanteer kan word nie. Daarom was daar ’n omslagtige proses waartydens elke lidmaat, kerkraad, ring, sinode en uiteindelik die Algemene Sinode in biddende afhanklikheid van die Here hulle stem moes uitbring; ’n proses wat baie noukeurig uitgevoer moes word, want indien daar enige kerkordelike ongerymdhede sou wees, kon dit baie ernstige gevolge hê.

“Alhoewel ek my eie standpunt daaroor gehad het, het ek geglo dat ons aan alle kante die kans moes gee om gehoor te word. Daarna moes ons doen wat ons kon om die proses ordelik te laat verloop en dan moes ons die Here vertrou.

“Uiteindelik, na baie vergaderings en onder andere twee buitengewone sinodes, is ons ongeskonde deur alles en Artikel 1 is onveranderd gelaat. Dit het egter beteken dat nie almal noodwendig gelukkig was nie. En dit was vir my een van die hoogtepunte – dat, ten spyte daarvan dat almal nie tevrede was nie, daar nie ernstige verdeeldheid of appèlle of vreeslike geskille was nie. Daar was daarna steeds eenheid in die NG Kerk Vrystaat.

“Een van die ander hoogtepunte in my tyd as voorsitter van die sinode en moderamen was dat ek kon deel in die onafhanklikheidsvieringe van die Reformed Church in Zambia in Lusaka, en ook die heringebruikneming van die kerkgebou in Thaba ‘Nchu.”

Wat is volgens jou die uitdaging of roeping vir ons NG Kerk-gemeentes in die Vrystaat vandag?

“Ek dink die Kerk staan vandag – plaaslik én wêreldwyd – voor die uitdaging van geweldige verdeeldheid en selfs verskeurdheid. En dit is iets wat niemand kan ignoreer of wegpraat met mooi woordjies nie.

“Dit bring my sommer ook by die boodskap wat ek graag aan die NG Kerk Vrystaat, en daarmee aan elke lidmaat en elke kerkvergadering, wil gee: die bekende woorde uit 2 Timoteus 3 vers 14 en verder: ‘Maar bly jy by wat jy geleer het en wat jy vas glo. Jy weet wie jou leermeesters was, en jy ken van kleins af die Heilige Skrif. Die hele Skrif is deur God ingegee, en het groot waarde om in die waarheid te onderrig, dwaling te bestry, verkeerdhede reg te stel en ’n regte lewenswyse te kweek.’ En daarmee wil ek graag sê: Hou vas aan die Skrif. Sola Scriptura. Niks minder nie, maar ook niks meer nie.

“Dit is my gebed vir die NG Kerk Vrystaat: Mag elke optrede en elke besluit slegs gegrond wees op – en in ooreenstemming wees met – die Woord van die Here. Slegs binne die ruimte van die waarhede van sy Woord, soos geleer en uitgedruk in die Formuliere van Eenheid, sal daar werklik eenheid in die Kerk van die Here wees; dáárdie eenheid waarvoor Jesus Christus self gebid het, toe Hy vir sy volgelinge en vir sy kerk gebid het.”

Vir meer inligting kan ds Helgard Janse van Rensburg by helgard500@gmail.com gekontak word.

  | verskaf: Ds Helgard Janse van Rensburg, voorsitter van Vrystaatse Moderamen en Buitengewone Sinode 2015.

  | Foto’s uit die NG Kerk Vrystaat Argief