Skip to content Skip to footer

160 Geseënde jare van Kerk-wees: Eertydse sinode-voorsitter, dr Pieter van Jaarsveld, vertel …

 | verskaf: Mariëtte Odendaal

Deur Mariëtte Odendaal

“Vriende, ons moet besef dat die profiel van die kerk besig is om te verander. Dit beteken dat ons nuut moet dink. Ons moet altyd onthou: Jesus het sy lig aan ons toevertrou – daardie lig is die lig wat ons moet laat skyn …”

Dr Pieter van Jaarsveld

Vanjaar vier ons die 160ste bestaansjaar van die Vrystaat Sinode; ’n besondere voorreg omdat dit vir ons as Christene al vir meer as ’n eeu en ’n half deur oorloë, droogtes en vele ander lewenskrisisse en sosiale kwessies help dra het.

Om werklik Kerk te wees en leiding oor geslagte heen aan duisende kerkleiers en gemeentelede te kon help gee, was dit nodig om ervare mense met diep insig en wysheid aan die stuur van ons sinode te hê.

Ons het met vyf van ons vorige sinode-voorsitters wat nog leef, gaan gesels om te hoor hoe hulle hierdie uitdagende taak in hul onderskeie termyne beleef het.

Ons eerste gesprek was met prof Pieter Potgieter, sinode-voorsitter van 1987 en 1995, asook van die Algemene Sinode van 1994. Ons tweede gesprek was met prof Piet Strauss, voorsitter van die Vrystaat Sinode in 1999 en 2005, asook die voorsitter van die Algemene Sinode in 2007. Ons derde gesprek was met dr Lourens Erasmus wat die voorsitter van die Vrystaat Sinode en moderamen was vanaf 2003 tot 2005.

Ons vierde gesprek is met dr Pieter van Jaarsveld wat as voorsitter van die moderamen van die NG Kerk Vrystaat gedurende drie termyne gedien het, naamlik van 2008 tot 2009, daarna van 2009 tot 2013 en toe weer vanaf 2017 tot 2022.

Pieter, wat beskou jy as die grootste hoogtepunte en uitdagings in jou tyd as voorsitter van die Vrystaat Sinode en moderamen?

“Nadat prof Piet Strauss in 2007 as voorsitter van die moderamen van die Algemene Sinode gedien het, het ek die termyn as voorsitter van ons Vrystaat Sinode se moderamen vanaf 2008 tot 2009 by hom oorgeneem en voltooi. Wat baie interessant was in daardie tyd, was die hele debat rondom selfdegeslagverhoudings en die huwelik. Die Algemene Sinode het reeds in 2005 begin dink oor die huwelik en verwante sake en dit is in 2007 en daarna voortgesit in verskeie gesprekke en prosesse.

“Toe, in 2009, met die sinodesitting hier by ons, is ek as voorsitter (of moderator) verkies en het daardie termyn tot 2013 voltooi. Een van die sake wat in daardie tyd baie uitgestaan het, was die verkoop van die Sinodale Sentrum in die middestad en die gevolglike verskuiwing van ons Sinodale Kerkkantoor na die huidige lokaal hier langs Westerbloem in Van Heerdenstraat.

“Ek was toe voorsitter van die Bediening vir Ondersteuning tot 2017, wat eiendomme en finansies hanteer het. In 2017 is ek weer tot voorsitter verkies en het ek vir die termyn (tot 2022) in daardie hoedanigheid gedien. Die rede waarom die termyn ’n bietjie langer geduur het, was as gevolg van Covid. Dit het geweldige groot uitdagings aan ons as Kerk gestel.

“Ek wil ook sê dat wat dié termyn in besonder gekenmerk het, was die reaksie op die besluite ten opsigte van selfdegeslagverhoudings van die Algemene Sinode in 2019. Ons as die moderatuur het gemeentes en ringe in daardie tyd besoek; iets wat as gevolg van Covid baie uitdagend was, maar ons het baie moeite gedoen om steeds kontak met ons gemeentes en ringe te behou.”

Wat is volgens jou die uitdaging of roeping vir ons NG Kerk-gemeentes in die Vrystaat vandag?

“Dit is belangrik om te besef dat alles rondom ons gedurig verander. Ek dink een van die grootste uitdagings vir die Kerk vandag is om relevant te bly. Miskien is dit juis nóú die tyd om in ons gemeenskappe die baken van versoening, hulpverlening, uitreik, aanvaarding en hoop te wees.

“Ons beleef baie spanning en my gebed is dat ons mekaar in ons gedeelde geloof in die Here Jesus sal bly omhels, want dit is een van die sterkste getuienisse wat ons na buite toe kan uitstraal – dat ons één is in Christus.

“Mag ons ook besef dat dit wat ons met mekaar deel – naamlik ons innige verhouding met Jesus Christus – baie groter is as dit wat ons van mekaar skei; dat ons sal fokus op die dinge wat ons in hierdie tyd nader aan mekaar bring en by mekaar hou.”

Watter boodskap, en as jy wil, teksvers of -gedeelte, sou jy in ’n groeteboodskap vir die NG Kerk Vrystaat wou gee?

“Die NG Kerk Vrystaat neem haar roeping ernstig op – na aanleiding van die woorde wat ons lees in Jesaja 60:1-3:

Kom, laat skyn jou lig, vir jou het die lig gekom;
Daar is donkerte oor die aarde, maar oor jou gee die Here lig.
Nasies kom na die lig toe,
Na die nuwe dag wat vir ons aangebreek het.

“My gebed vir die NG Kerk in die Vrystaat is dat ons bakengemeentes sal wees wat nuut dink – ’n kerk wat nie in terme van eie wil dink nie, maar wat sal fokus op dit wat die Hére wil vir sy Kerk; nie ons wil nie, maar wat Hý wil.

“Vriende, ons moet besef dat die profiel van die kerk besig is om te verander. Dit beteken dat ons nuut moet dink. Ons moet altyd onthou: Jesus het sy lig aan ons toevertrou – daardie lig is die lig wat ons moet laat skyn, want dít is die lig wat mense na ons sal aantrek – sodat hulle daardeur Jesus Christus as hul Verlosser kan leer ken. Mag die Here ons hiermee help.”

Vir meer inligting kan dr Pieter van Jaarsveld by pjvanjaarsveld85@gmail.com gekontak word.

  | Verskaf: Dr Pieter van Jaarsveld, voorsitter van Vrystaatse Sinodes 2009 en 2017.

  | Foto’s uit die NG Kerk Vrystaat Argief