Skip to content Skip to sidebar Skip to footer

160 Geseënde jare van Kerk-wees: Eertydse sinode-voorsitter, dr Lourens Erasmus, vertel …

 | verskaf: Mariëtte Odendaal

Deur Mariëtte Odendaal

Hierdie jaar vier ons die 160ste bestaansjaar van die Vrystaat Sinode; ’n besondere voorreg omdat dit vir ons as Christene al vir meer as ’n eeu en ’n half deur oorloë, droogtes en vele ander lewenskrisisse en sosiale kwessies help dra het.

Om werklik kerk te wees en leiding oor geslagte heen aan duisende kerkleiers en gemeentelede te kon help gee, was dit nodig om ervare mense met diep insig en wysheid aan die stuur van ons sinode te kon hê.

Ons het met vyf van ons vorige sinode-voorsitters wat nog leef, gaan gesels om te hoor hoe hulle hierdie uitdagende taak in hul onderskeie termyne beleef het.

Ons eerste gesprek was met prof Pieter Potgieter, sinode-voorsitter van 1987 en 1995, asook van die Algemene Sinode van 1994. Ons tweede gesprek was met prof Piet Strauss, voorsitter van die Vrystaat Sinode in 1999 en 2005, asook voorsitter van die Algemene Sinode in 2007.

Ons derde gesprek is met dr Lourens Erasmus wat vanaf 2003 tot 2005 voorsitter van die Vrystaat Sinode en moderamen was. Hy was vir baie jare in die Vrystaat waar hy ook studeer het en in Welkom predikant was. In 2006 het hy die bediening verlaat en betrokke geraak by ’n private tersiêre instelling in Pretoria en is sedert 2017 ’n Kapenaar nadat hy as hoof van ’n soortgelyke instelling aangestel is.

Lourens, wat beskou jy as die grootste hoogtepunte en uitdagings in jou tyd as voorsitter van die sinode en moderamen?

“Ek is in 2003 by die Vrystaat Sinode vir ’n termyn van twee jaar verkies. Tot in daardie stadium is daar, sedert die ontstaan van die Fakulteit Teologie aan die Universiteit van die Vrystaat, slegs senior professore van die fakulteit as voorsitters van die sinode verkies, soos proff Pieter Potgieter en Piet Strauss. Dit het ook dikwels gebeur dat die ander moderatuurslede, behalwe die skriba, professore by die fakulteit was.

“In 2003 was daar geen professor wat as voorsitter verkiesbaar was nie en is ek toe as jong predikant van 41 jaar verkies; iets wat heeltemal nuut was vir die sinode. Nietemin was dit volgens die afgevaardigdes ’n lekker sinode en het alle verrigtinge goed verloop.

’n Besondere kenmerk van daardie tyd was dat daar baie debatte oor verskeie kwessies soos kerkeenheid en selfdegeslagverhoudings aandag begin kry het.

“Dit was ook vir my goed om as afgevaardigde ’n bietjie te kon loskom van die gemeente en in ’n breër verband oor diepsinnige teologiese sake met kollegas te kon gesels. Dis mos juis waarom ons sinodesittings het – die gemeentes kom by so ’n vergadering byeen om te luister na die stem van die Goeie Herder; om saam lig te kry en saam ’n weg te vind vir die toekoms. Dit was vir my baie sinvol om hierdie kwessies so saam met kollegas te kon bespreek.”

Wat is volgens jou die uitdaging of roeping vir ons NG Kerk-gemeentes in die Vrystaat vandag?

“In my huidige posisie beskou ek die kritieke sake wat tans op die agenda van die kerk is ’n bietjie vanaf ’n afstand; vanuit die kerkbanke.

“Vir my is die groot uitdaging van die kerk vandag dat ons duidelikheid moet hê oor hoe ons die gesag van die Skrif en ons belydenisskrifte moet verstaan. Teologie bly mensewerk. As jy kyk na die ou definisies van wat teologie is, dan is dit die menslike antwoord en reaksie op die openbaring van God in die Skrif soos wat dit vertolk en verwoord is in die belydenisskrifte.

“Oor byvoorbeeld die pynlik-moeilike saak van selfdegeslagverhoudings moet die Kerk gaan stilstaan en besin oor hoe ons die gesag van die Skrif moet verstaan. Hoe verstaan ons die belydenis van die sola scriptura? Hoe verstaan ons die gesag van die belydenisskrifte? Daaroor moet ons met mekaar diepgaande gesprekke voer. Dan moet ons vir mekaar sê: As ons konsensus bereik oor hoe ons die Skrif en belydenisskrifte verstaan, dan moet ons saam met mekaar op weg gaan. Kom ons luister na die stem van die Herder in hierdie spesifieke situasie of saak.

“As ons dan van mekaar verskil, moet ons nie van mekaar wegbreek nie. Ek dink nie ons moet doleer nie – ons moenie mekaar los nie. Midde-in standpunte waar ons van mekaar verskil, moet ons mekaar steeds vashou. Ons moet vir mekaar kan sê: Ons verstaan die konsensus oor die gesag van die Skrif, maar waar ons op ander punte dit nie met mekaar eens is nie, moet ons mekaar nie los nie.”

Watter boodskap, en as jy wil, teksvers of -gedeelte, sou jy in ‘n groeteboodskap vir die NG Kerk Vrystaat wou gee?

“In die laaste paar jaar het ek baie tyd gemaak om die Gereformeerde belydenisskrifte te lees. Ons het nog altyd debatte en argumente oor Skrif en konfessies gehad. Ek het doelbewus tyd ingeruim om die konfessies as ’n vorm van meditasie te lees as stiltetyd voor God. Wat vir my besonder opvallend is, is dat wanneer jy byvoorbeeld die Heidelbergse Kategismus fyn deurlees, jy sien hoe die tema van die bloed van Christus – die offer van Christus – ’n sentrale tema is. Jy vind dit byna in elke Sondagsafdeling. Ek onthou ook ’n hoofstuk in een van professor Bram van de Beek se boeke, waarin hy skryf dat Christus ’n offer moes bring; sy bloed moes vloei om die verskrikking van die sonde en die skeiding tussen God en mens te oorbrug.

“En dit bring my by ’n teks wat ek onlangs gelees het – die vertolking van Romeine 3:28 – waar die apostel Paulus sê: Dit is nie jou werke nie, dit is nie die werke van die wet wat jou vrymaak nie, maar alleen die geloof in Jesus Christus. Hierdie teks het ’n uitsonderlik belangrike rol in die geskiedenis van die Reformasie gespeel, veral in die lewe van Martin Luther. In 1515 en 1516, tydens sy lesings oor die Romeine-brief, het hy hierdie teks aan die omstanders verduidelik – in die breër gesprek en ook ten opsigte van die breuk met Rome. Luther het toe gesê: Jy moet tot die punt kom waar jy die sola fide verstaan – om te besef dat dit slégs die geloof in Jesus Christus is wat die pad en die lewe vir jou oopmaak.

“My boodskap is dat die kerk weer, te midde van al die pynlike en moeilike sake – sake waaroor ons nie konsensus het nie – weer diepgaande moet gaan lees: Wat beteken sola fide? Wat beteken dit wanneer Luther sê: Nie net Christus alleen nie, maar slégs Christus; niks anders nie – nie ons gebede nie, nie ons teologiese argumente nie, nie ons vroomheid nie – niks anders nie as net die geloof in Jesus Christus maak die pad vir ons oop.

“Ek glo sinodes moet, vir nou, die pynlike en moeilike sake vir eers opsy skuif en in ’n lees-seisoen ingaan. Kom ons lees met mekaar en verstaan weer die sola fide. Kom ons ontdek weer die lyn én die hart van die konfessies. Kom ons kyk watter vrede dit bring, watter uitkoms dit vir ons bied en hoe dit dalk vir ons ’n pad kan oopmaak — juis midde-in die uitdagende tyd waarin ons vandag leef.”

Vir meer inligting kan dr Lourens Erasmus by lourens.eras2014@gmail.com gekontak word.

  | verskaf: Dr Lourens Erasmus, voorsitter van die Vrystaatse Sinode 2003.

  | Foto’s uit die NG Kerk Vrystaat Argief