Lig.
Ons het lig nodig om te kan lewe; ons en die plante en diere op Planeet Aarde. Maar ook die diep ruimtes in, ver bokant ons: Hoe het ons ons nie vanjaar verwonder oor die foto’s wat die James Webb-teleskoop ons laat sien het nie – die geskiedenis van lig, dertien biljoen jaar oud. En as nóg ‘n jaar nou klaarmaak en ons hierdie wenteling rondom ons naaste ster – die son – voltooi en in gedagte hou dat die Skrifte sê ons dalk sewentig (of as ons sterk is tagtig) jaar daarvan sal meemaak (Psalm 90), dan word mens stil en dankbaar vir vanjaar se lig.
Soveel te meer, vanjaar. Die jaar 2022 was vir baie mense een van donkerte en uitputting. Die herstel ná Covid-19, nie so maklik. Nege maande al woed die oorlog in die Oekraïne; is landskappe en gemeenskappe in duisternis en rou gedompel. Hier besef ons dat ESKOM dalk nie oor twee weke krag vir ons kersliggies of kersete sal kan gee nie. Magte van chaos dreigend. Dorpies in die Vrystaat in ‘n stryd om oorlewing, soekend na lig en uitkoms. Gemeentes wat klein geword het en leraars bekommerd. Halwe waarhede en fopnuus wat ons verwar of mislei. In ons persoonlike verhoudinge – óók in die kerk – beleef ons stukkendheid. Die vlae van geweld wat oor huise, strate en skole trek, woorde soos vuishoue. Die diep skaduwees in onsself. Ons sou dit nie kon ontken nie: Die realiteit van donkerte, dwaasheid en dood hang oor ons planeet…
Maar juis nóu help die ou Skrifte ons! Dit is juis ín die worstelgesprekke van ‘n Job – te midde van groot lyding en verlies – dat die woord “lig” sewe-en-twintig keer opklink, die meeste van alle Bybelboeke; dié verlange na God self, die Bron van ons lig. Die Bybel vertel van Genesis 1 tot Openbaring 22 van daardie lig. Eers as ‘n belydenis: Gód is lig (1 Johannes 1:5). Gód het gesê: Laat daar lig wees, en so het dit gebeur en dit was goed (Genesis 1:3). Uit die Psalms van ou Israel: Gód is my lig en my redder, waarom sal ek bang wees (Psalm 27:1)? Uit Jesus van Nasaret se mond: “Ek is die lig vir die wêreld” (Johannes 8:12). Uit die vroeë Kerk – die Geloofsbelydenis van Nicea oor Wie Jesus is – “Deum de Deo, lumen de lumine”; “Lig uit Lig”. Nie net getuig die Bybel oor wat ons van die ware Lig bely nie; dit vertel ook van die belewenis van Lig: Wanneer God verskyn – die brandende bos op die berg voor Moses, of skitterend soos sonlig oor die vlakte voor Habakuk – wek dit ontsag. Die ster oor Betlehem. Die verheerliking van Jesus op die berg én sy verskyning in die visoen op Patmos; glansryk, oorweldigend, lig. En tussen-in, elke kleine dag en gewoon: God se woord wat ‘n lamp is vir my voet, ‘n lig op my lewenspad (Psalm 119:115). Die lig van Gods aangesig wat oor ons skyn, soos ‘n seënbede (Numeri 6:25). Daarby die belewenis dat Hy ons roep na “sy wonderbare lig” (1 Petrus 2:9); dat ons genoem word “kinders van die lig” (1 Thessalonisense 5:5) en aangemoedig word om te lewe “as kinders van die lig” (Efesiërs 5:8)! Die Lig het óns verander! En dan, dat die Bybel ons bemoedig met die beloftes oor die Lig: Dat die lig méér sal word, juis “waar daar net benoudheid en donkerte en angs is” (Jesaja 8:22). Dat die son van geregtigheid sal verrys met genesing in sy strale (Maleagi 4:2). Dat die Here self soos die son oor puinhoop van ‘n stad soos Jerusalem sal opkom; ‘n “ewige lig sal wees, jou routyd verby” (Jesaja 60:19-20). Dat – só eindig die Nuwe Testament ook nét soos die Ou Testament – in die nuwe Jerusalem God se heerlikheid ons lig sal wees, die Lam ons lamp (Openbaring 21:23, 22:5). “Die nasies sal leef in haar lig…”
‘n Belydenis oor God, ‘n belewenis in ons binneste en ‘n belofte om in hierdie Advent- en Kerstyd aan vas te hou. Lig. Dit was eens ook die gebed van die kerkvader Augustinus in die vyfde eeu, toe die (Christelike) Romeinse Ryk gewankel en ineengestort het:
“Jesus Christus,
U lig skyn ook in my,
laat dan nie my twyfel of donkerte my skaad;
open my hart vir u liefdeswerk.”
Mag God ons gebed in hierdie Kerstyd hoor. Mag ons opnuut beleef dat Hy diep binne-in ons die rokende lamppit weer aansteek, inspireer, die lig laat skyn. Mag ons die Roepstem hoor wat eens gesê het: “Júlle is die lig vir die wêreld” (Matteus 5:14). Lig wat in 2023 as hoop in ons oë te siene sal wees. Lig wat as troos in ons woorde gehoor sal word. Lig wat as liefde en deernis in ons dade beleef sal word deur almal wat in donkerte sit en verlang. Want dít is die boodskap van Kersfees: In Christus Jesus het die Woorde van God oor lig en lewe vlees geword en tussen ons kom woon; lig wat verder en verder lewe gee; lig wat nie deur die duisternis oorwin kon òf sal word nie (Johannes 1:4-5).
My beste wense vir elkeen in ons landstreek. Rus goed. Preek kort op Kersdag. Sing ons mooiste Kersliedere. Bid innig op Oujaarsaand. En gaan 2023 in Sy ligkring binne.
Jan Lubbe | Namens die NG Kerk Vrystaat | 9 Desember 2022