Een van die heel mooiste somers in die Vrystaat. Soos wat ons ná Nuwejaarsnaweek deur die Suid-Vrystaat huis toe gery het en afgelope week weer na die noordooste – Bethlehem, Heilbron, Parys – was dit groen, sover die oog kon sien. Weivelde, mielielande, geel sonneblomme besig om dankbaar die landskap te sier. Maar – óók – jy moet jou oog op die pad hou vir die slaggate, vir ‘n verloopte bok of bees, vir ‘n hoop vullis…
Só is die lewe hier in ons streke, maar ook in elk van ons se binnekamer en persoonlike kring. Daar is stof tot dankbaarheid én daar is die dinge wat ons snags laat wakker lê. Dinge in ons gemeentes, dinge in ons dorpe. Ons land. Sommer in hierdie eerste dertig dae van 2023 die skriknuus oor wat op ‘n Sondagmiddag op ‘n Ficksburg-plaas gebeur het, ‘n jong boer dood. Dit mág tog nie! Die uitdagings om in daardie hittegolfweek jou huishouding, besigheid, hoendervoerdery en spilpunte aan die gang te probeer hou sonder ESKOM. Regeringslui se nuttelose gepraat terwyl gewone mense en veral die armes, die weerloses al swaarder kry…
Is daar hoop vir vanjaar? Wat gee ons moed? Dalk raak die lysie kort, nie waar nie?
En tóg. Vierhonderd-en-sestig jaar gelede – 1563 – open die Heidelbergse Kategismus ook met die vraag: “Wat is jou enigste troos in lewe en in sterwe?” Ons ken dit goed; ons sing dit Sondae by die doopvont, Lied 292 –
“My enigste troos in lewe en dood
is dat ek aan Jesus Christus behoort.
Met sy kosbare bloed het my vrygekoop –
dis my anker, my vaste hoop.
Ek behoort aan die Here.
Niks sal my ooit van Hom kan skei.”
Onthou jy nog dat die antwoord op Vraag 1 van die Kategismus gelui het: “… na liggaam en siel”? Dit is ’n geloofsantwoord ja, maar nie bedoel om daar by die doopvont of in die kerkbank vergete te bly lê as ons huis toe gaan nie. Dit gaan nie net oor “siel” en “eendag” en “hemel” nie. My liggaam, my lyflike werklikheid en behoeftes, my aardse sorge, lewe in hierdie land – dít word ingesluit by die troos waarvan Sondag 1 praat. Dít was destyds die konteks waarin die Heidelberger gebore is, ná die Swart Pes, derduisende mense siek en dood, kinders veral; gemeenskappe op vlug weens godsdiensgeweld van alle kante; in die suid-ooste ’n militante Muslim-bedreiging. Wat is jou troos, as dit só gaan en jy nie weet waarvandaan sal daar vir ons hulp kom nie?
Veelseggend is dat die opstellers van die Kategismus onderaan Vraag en Antwoord 1 tussen die teksverwysings ook Romeine 8 ingesluit het, daardie aangrypende hoofstuk uit Paulus se brief. Die ganse Evangelie in veertig verse saamgevat: Dat daar in Christus geen veroordeling is nie; ons is vrygemaak deur die Gees. Dat ons daarom kan roep: “Abba, Vader.” Dat ons mag onthou selfs in die diepte van ons lyding – wanneer ons nie eers meer weet wat om te bid nie – die Gees sáám met ons roep tot God (soos wat die Gees, terloops, ook saam met die Skepping sug; die Kategismus onthou selfs die mossies van Matteus 10!). Dat uiteindelik niks ons kan skei van die liefde van God in Christus aan ons geskenk; nie dit wat verby is, nie dit wat nou hier is, nie dit wat mag voorlê nie. Dit tref my dat André Steyn en dr Attie van der Colff wat Antwoord 1 van die Kategismus gaan berym het in Lied 292, juis dié gedagte uit Romeine 8 ingebring het en ons laat sing:
“Ek behoort aan die Here.
Niks sal my ooit van Hom kan skei.”
Dat ek – stoflike mens met al my dae en dinge – aan Hóm mag behoort. Dit help my vrede vind oor gister en wat verby is, en gee my vertroue vir vanjaar en vorentoe. Ons behoort, ons is onlosmaaklik verbind aan Hom. Lyflik en geestelik, in die geheel van my bestaan. Is dít nie ’n wonderlike troos om Sondag mee kerk toe te gaan en te sing, te luister en te bid nie? Is dit nie ’n wonderlike troos om Maandag weer die week mee aan te pak nie?
Mag ons vanjaar in die NG Kerk Vrystaat dié troos beleef en dit dankbaar en daadwerklik deel met iedereen rondom én hierdie mooi landstreek waar God ons weer ’n lewenskans gegee het.