
| verskaf: Mariëtte Odendaal

Deur Mariëtte Odendaal
Hierdie jaar vier ons die 160ste bestaansjaar van die Vrystaat Sinode; ’n besondere voorreg omdat dit vir ons as Christene al vir meer as ’n eeu en ’n half deur oorloë, droogtes en vele ander lewenskrisisse en sosiale kwessies help dra het.
Om werklik kerk te wees en leiding oor geslagte heen aan duisende kerkleiers en gemeentelede te help gee, was dit nodig om ervare mense met diep insig en wysheid aan die stuur van ons sinode te hê.
Ons het in ’n reeks van ses bydraes met vyf van ons vorige sinode-voorsitters wat nog leef, asook met ons huidige voorsitter, ds Jan Lubbe, gaan gesels om te hoor oor hoe hulle hierdie uitdagende taak in hul onderskeie termyne beleef het, of beleef.
Ons eerste gesprek was met prof Pieter Potgieter, sinode-voorsitter in 1987 en 1995, asook van die Algemene Sinode in 1994.
Pieter, wat beskou jy as die hoogtepunt en grootste uitdaging in jou tyd as voorsitter van die sinode en moderamen?
“Daar was ’n hele paar. Die 1987-Sinodesitting het veral gegaan oor oop lidmaatskap. Dit was na aanleiding van ’n besluit van die Algemene Sinode die vorige jaar dat lidmaatskap van die NG Kerk oop is. Dit het ’n hewige diskussie in die Vrystaat Sinode veroorsaak. Op die ou end is daar besluit om ’n gekwalifiseerde formulering daarvan te aanvaar; dat lidmaatskap oop sou wees vir gelowiges wat bereid is om die belydenis van die NG Kerk te aanvaar.
“Tydens die 1995-sinode het dit weer oor kerk-eenheid gegaan wat ook tot driftige besprekings gelei het. Daar is ook gevra of die NG Kerk in Afrika daarby betrokke kon wees. As gevolg van die onsekerheid wat daar nog by heelwat lidmate bestaan het, is daar toe besluit om met hierdie besluit te wag tot by ’n buitengewone sinodesitting in 1998 wat deur ’n hele paar gemeentes aangevra is.
“Daar is toe nogal ’n ingrypende besluit geneem, naamlik dat as die nuwe kerkverband tot stand kom en die Belydenis van Belhar daarvan deel sou wees, asook indien die NG Kerk in Afrika nie daarvan deel sou wees nie, die NG Kerk Vrystaat uit die Algemene Sinode-verband sou tree.”
Wat is volgens jou die uitdaging of roeping vir ons NG Kerk-gemeentes in die Vrystaat vandag?
“Dit is belangrik dat die kerk ’n duidelike stem in die samelewing moet laat hoor. Daar moet geen twyfel wees dat hierdie kerk die heilige Skrif as die onfeilbare Woord van God aanvaar nie. Dit moet natuurlik geïnterpreteer word in die lig van die ontstaanskonteks en dan toegepas word in ons eietydse samelewing.”
Watter boodskap, en as jy wil, teksvers of -gedeelte, sou jy in ’n groeteboodskap aan die NG Kerk Vrystaat wou gee?
“Ek sou graag vir hulle die woorde van die Here Jesus kort voor sy hemelvaart wil gee, soos ons dit in Handelinge 1:8 kry: ‘Julle sal my getuies wees.’ Dit is tog die kern waaroor kerkwees gaan.
“Ek bid dat mense wat in besondere ampte staan en besondere posisies in die kerk beklee, versigtig sal wees met hul uitsprake sodat lidmate nie daardeur in onsekerheid gelaat sal word nie.
“Ek is baie dankbaar oor ons kerk in die Vrystaat wat oor 160 jaar duidelike leiding aan sy lidmate en die samelewing gegee het.”
Vir meer inligting, kan prof Pieter Potgieter by pcpotgieter21@gmail.com gekontak word.

| verskaf: Prof Pieter Potgieter, voorsitter van die Vrystaatse Sinodes 1987 & 1995 (ook Algemene Sinode, 1994).









Foto’s uit die NG Kerk Vrystaat Argief
