Die jaarlikse Kuratoriumvergadering van die NG Kerk Vrystaat het op Maandagoggend, 13 November 2023 geopen met ‘n oordenking van ‘n ontmoeting tussen Jesus en ‘n besorgde pa, en Dinsdagaand op ‘n hoogtepunt met die legitimasie en erediens in ‘n vol Bainsvlei NG Kerk afgesluit. Wat was die belangrikste uitkomste van vanjaar se vergadering?
Vyf besluite sou uitgesonder kon word.
Eerstens, rakende die samestelling en funksionering van die Kuratorium. Die afgelope drie jaar is daar seker gemaak dat ‘n verteenwoordiger uit elke ring van die NG Kerk Vrystaat die vergadering bywoon, en vanjaar was daar onder hulle ervare dominees (oudstudente van Kovsies, 1980’s en 1990’s), nuwelinge wat die afgelope vyf jaar hier afstudeer het, mans en vroue. Uit 7 van die 10 sinodes van die NG Kerk was daar verteenwoordigers en ons was veral bly oor ds Hestie Hay (ook ‘n oudstudent) wat uit Windhoek gekom het om die Namibiese stem in ons opleiding te laat hoor. Aan die einde van die vergadering is die waarde van hierdie verskeidenheid van stemme beklemtoon en is dit verbreed om vanaf 2024 ook ‘n subkomitee van dosente verbonde aan die NG Kerk in die Fakulteit Teologie en Religie in te sluit.
‘n Tweede besluit: Ons teologiese opleiding moet sodanig gestruktureer wees dat dit toeganklik is vir ‘n groter verskeidenheid van studente. Vanjaar was daar 27 studente by ons Seminarium vir hul kerklike vorming en -begeleiding ingeskryf: 11 besig met hul BDiv-graad aan die Fakulteit; 5 vir die Nagraadse Diploma en 9 vir die diensleraar- en bedienaarsopleiding. Ons is dankbaar dat daar ‘n groei in belangstelling en navrae oor teologiese opleiding is; bekendstelling en bemarking van die opleiding het verbeter en die Beursfonds van die NG Kerk Vrystaat speel hierin ‘n groot rol. Dit is duidelik dat die profiel van studente verander: Hulle is effens ouer as net tradisionele skoolverlaters; kom uit ‘n groter verskeidenheid van agtergronde, dikwels reeds met jare se werkservaring in ‘n ander beroep; wil veral deeltyds en ook aanlyn kan studeer; en het ‘n sterk roepingsbesef wat hul na die bediening van die Woord trek.
Die derde besluit van die Kuratorium het daarom die akademiese en kerklike roete na legitimasie vir hierdie verskeidenheid van studente gekonkretiseer. Terwyl die Fakulteit tans met inspraak van die verskeidenheid van kerke by hul betrokke, die BDiv-graad her-kurrikuleer sodat dit ‘n afgeronde, vierjarige professionele kwalifikasie met die oog op ‘n bediening in gemeentes en geloofsgemeenskappe sal wees, het die personeel van die Seminarium deeglik besin oor die gelyk-lopende kerklike programme vir ons studente. Die vier bane van credo (teologiese identiteit en/in die NG Kerk), spiritualiteit (Bybelkennis, gebed, geestelike dissiplines, liturgie), persoonsontwikkeling en -vaardighede (eie profiel, gawes, verhoudings, konflik, trauma) en blootstelling aan die kerklike bedieningspraktyk eie aan ons konteks, is opnuut bevestig. Dit is egter veral die finale twee jaar van opleiding waaroor sterk besluite geneem is: Vir diensleraars gaan dit uit die nuwe Nagraadse Diploma bestaan; vir kandidate vir volle leraarsbevoegdheid uit ‘n tweejarige MTh-graad met ‘n spesialiteitskeuse vir die student; vir tweedeloopbaanstudente ‘n kombinasie van die diploma en MTh, en wat ten minste drie jaar sal duur afhangende van hul vooraf-leer. Gelyklopend met hierdie akademiese opsies, verdiep en verbreed die kerklike programme in die Seminarium sodat dit óók akademiese werk insluit (bv. oor die Skrif en hermeneutiek, simboliek en apologetiek, eietydse kerkgeskiedenis en ‘n dieper studie van die Kerkorde van die NG Kerk, werkswinkels oor die praktyk van prediking en sakramentsbediening, gemeentestudies (in die NG Kerk), roetemerkers vir geloofsvorming van jong lidmate en die praktyk van huweliksvoorbereiding, siekepastoraat, sterwensbegeleiding, begrafnisgebruike en rousmart. Studente in hul afrondingsjare gaan voortaan ook skriftelik geëvalueer word (einde 4de jaar, einde 5de jaar), en sal aan die einde van hul Gemeentejaar (6de/finale jaar) ‘n skriftelike portefeulje aan ‘n paneel bestaande uit kerklike vak-eksaminators moet voorlê en dit slaag met die oog op legitimasie. Hier lê ‘n groot skuif in ons kerklike opleiding voor, met implikasies vir die personeel en begroting van die Seminarium en die Kuratorium moet dit in 2024 in meer besonderhede uitwerk.
Die vierde belangrike besluit spreek van die NG Kerk Vrystaat se missionale roeping en ons voorbereiding van studente vir hul bediening in só ‘n kerk en konteks. Met ruim ondersteuning van Vennote in Getuienis, gaan die Seminarium vanaf 2024 alle studente in vakansietyd op uitreike na die Bloemfonteinse middestad, groter Mangaung-metro en Botshabelo laat gaan (1ste jaars); na Lesotho en die bediening van die NGKA en die Lesotho Evangelical Church daar (2de jaars); na Natal op ‘n uitreik saam met die Reformed Church in Africa na ander godsdienste soos Islam en Hindoeïsme (3de jaars); en na die Reformed Church in Zambia (4de jaars). In die oog hier, is goeie blootstelling en opleiding in evangelisasie, die sendingboodskap van die Christelike Kerk, sensitiwiteit vir ander kontekste, bekendheid met ons ekumeniese omgewing en ‘n verbintenis aan gemeenskapsontwikkeling en verbetering van lewensomstandighede in ons sub-kontinent.
Die laaste – en dalk belangrikste, maar ook mees bevredigende – besluit elke jaar, is die legitimasie van kandidate vir ‘n bediening in die NG Kerk-familie. Vanjaar was ons dankbaar om 3 knap studente met volle leraarsbevoegdheid te legitimeer en beroepbaar te stel, asook 3 diensleraars (een met ‘n PhD in pastoraat, een met ‘n MTh in Bybelvertaling, een met ‘n BTh van Noordwes-Universiteit) en 4 bedienaars met erediensbevoegdheid – die jongste een skaars twintig, die oudste een in sy sestigs; húlle gaan in plattelandse gemeentes in die Vrystaat help. Ons opregte dank vir hul akademiese- en kerklike vorming aan die dosente van die Fakulteit Teologie en Religie, die personeel van die Seminarium, aanbieders van programme, mentors en opleidingsgemeentes.
Uiteindelik, wanneer teruggekyk word na die Kuratoriumvergadering van 2023, kom die drie Skrifgedeeltes wat gelees is, weer in jou gedagtes op. Die dissipels (én skare) se gewaarwording dat hul nie die desperate pa en sy siek seun kon help nie en dan deur Jesus vermaan word dat “dié soort dinge” alleen deur geloof en gebed aangespreek kan word (Matteus 17:19-20, Markus 9:29) – Maandagoggend se opening. Help ons teologiese opleiding studente en VDM’s uiteindelik om mense in allerlei nood te kan help? Dit kan nét – het ons Dinsdagoggend gehoor – wanneer elkeen ingeplant is en in-bly (“menein”) in die Wingerdstok, Jesus Christus (Johannes 15:4, 9). En dáárvoor is dit nodig om stil te raak, jouself af te sonder, en te wag… dié voorneme van die profeet Habakuk, toe hy oorweldig en verbysterd deur sy tyd en omstandighede, hom na sy “wagpos” teruggetrek het, “om op die uitkyk te wees om agter te kom wat God vir my gaan sê” (Habakuk 2:1) – die aangrypende boodskap waarmee ds Cobus Hamman Dinsdagaand die erediens en legitimasie van 2023 gelei en ons werk as Kuratorium vir die jaar afgesluit het.
| verskaf deur Tertius Botha: Legitimasieplegtigheid 2023