Skip to content Skip to sidebar Skip to footer

160 Geseënde jare van Kerk-wees: Eertydse sinode-voorsitter, prof Piet Strauss, vertel …

 | verskaf: Mariëtte Odendaal

Deur Mariëtte Odendaal

Vanjaar vier ons die 160ste bestaansjaar van die Vrystaat Sinode van die NG Kerk; ’n besondere voorreg omdat die kerk vir ons as Christene al vir meer as ’n eeu en ’n half deur oorloë, droogtes en vele ander lewenskrisisse en sosiale kwessies help dra het.

Om werklik Kerk te wees en leiding oor geslagte heen aan duisende kerkleiers en gemeentelede te kon gee, was dit nodig om ervare mense met diep insig en wysheid aan die stuur van ons sinode te hê.

Ons het in ’n reeks van ses bydraes met vyf van ons vorige sinode-voorsitters wat nog leef, asook met ons huidige voorsitter, ds Jan Lubbe, gaan gesels om te hoor oor hoe hulle hierdie uitdagende taak in hul onderskeie termyne beleef het, of beleef.

Ons eerste gesprek was met prof Pieter Potgieter, sinode-voorsitter van 1987 en 1995, asook van die Algemene Sinode van 1994. Ons tweede gesprek is met prof Piet Strauss wat by die Vrystaat Sinode betrokke was tydens sy termyn as professor by die Fakulteit Teologie vanaf 1988 tot 2015. Hy was die voorsitter van die Vrystaat Sinode in 1999 en 2005, asook die voorsitter van die Algemene Sinode in 2007.

Piet, wat beskou jy as die grootste uitdagings en hoogtepunte in jou tyd as voorsitter van die sinode en moderamen?

“Die grootste sake van bespreking was in daardie tyd die kerkeenheid van die familie van NG Kerke en dan die hele vraag oor selfdegeslag-verhoudings waaroor in 2005 ernstig besin is.

“Die NG Kerk het egter oor al die jare heen ’n behoudende Bybelse standpunt hieroor gehad en wou ’n Skrifgefundeerde standpunt hieroor huldig. Daar was baie van ons wat sensitief was vir diegene wat daardeur geraak is.

“’n Hoogtepunt as bespreking op die agenda in my tyd was die besinning oor die erediens as ontmoeting tussen God en ons as sy navolgers – dat die Here die kern van die erediens is; dit moet ’n geleentheid wees waar die Woord van die Here gehoor word, met ander woorde Skriftuurlike prediking; iets wat nie maklik is nie – dat jy konsekwent ten opsigte van die Woord moet wees; dit wat vir jou geestelike sekuriteit gee. Ek het gevind dat as jy die Vrystaatse mense uit die Woord kan oortuig, dan hét jy hulle oortuig.

“Die sang was ook altyd iets besonders, veral in die ou Sinodesaal. Al daardie manstemme en hier en daar ook die stem van vroue was vir my baie mooi.”

Wat is volgens jou die uitdaging of roeping vir ons NG Kerk-gemeentes in die Vrystaat vandag?

“Ons kerk moet ’n kerk van die Woord wees en dit op ’n lewendige manier uitleef. Die kerk se standpuntstellings in die media asook op terreine waar hulle optree, moet Woord-gefundeerd wees. Die kerk kan nie oor alles menings hê nie; dan is dit nie meer Kerk nie en word dit ’n soort drukgroep. Die Woord moet veral in die gemeente gehoor word, want dis waar dit sigbaar uitgeleef word. Die Woord van die Here moet helder en duidelik met oortuiging gehoor word deur mense wat deur die Gees van die Here gedryf word.”

Watter boodskap, en as jy wil, teksvers of -gedeelte, sou jy in ’n groeteboodskap vir die NG Kerk Vrystaat wou gee?

“Wat my deesdae gereeld tref, hier waar ek in Clarens se gemeente is, is dat God teenwoordig is. Dis wonderlik om dit te weet; om vir iemand te kan sê: ‘Ons is vol foute; ons almal maak foute en weet nie altyd hoe om probleme op te los nie, maar God is hier teenwoordig; Hy is die bron van alle lewe. Hy regeer tot in ewigheid. Hy is die Here van die Kerk en die Bron van ons geestelike lewe. Dit is Hy wat ons aan die Woord bind wat mense oortuig om in Hom te glo. Ons moet so lewe dat mense weet: die Woord is die lewende Woord wat met ons werk.”

Vir meer inligting kan prof Piet Strauss by StraussP@ufs.ac.za gekontak word.

  | verskaf:  Prof Piet Strauss, voorsitter van Vrystaatse Sinodes 1999 en 2005 (ook Algemene Sinode, 2007 – 2013).

  | Foto’s uit die NG Kerk Vrystaat Argief