Skip to content Skip to sidebar Skip to footer

Predikante Stilwordkans – ’n refleksie

Refleksies

André Barlow 

Die afgelope Predikante Stilwordkans van 10 tot 12 Junie 2025 by Amanzi was vir my ’n besondere ervaring. Ek het aanvanklik gedink om nie te gaan nie, maar my kollegas by Hugenoot het my oortuig om wel in te skryf. Terugskouend weet ek ek sou veel gemis het as ek nie daar was nie.

Soos die sinodale kantoor ons deur die jare bederf het, was die organisasie voortreflik gedoen. Goeie organisasie en administrasie dra subtiel by tot die sukses van enige saamtrek. Die afwisseling van die program met byvoorbeeld rekreasie en die aandprogramme het bygedra tot die sukses van die drie dae.

Die keuse van fasiliteerders en temas was uitstekend. Ons het iets geleer van die provinsie waarbinne ons bedien, uit die pad wat die Here met die mense van die ou tyd geloop het, uit die besinning wat op ander plekke in die kerk plaasvind, uit ander wetenskaplike dissiplines. Daar was nie een persoon of tema waarvan ’n mens sou kon sê dat dit maar kon gebly het nie. Ek sou ’n paar name wou uitsonder, maar dit sou nie regverdig wees teenoor ander wat ook ’n waardevolle bydrae gelewer het nie.

Dit was goed om die drie dae saam met vriende en kollegas te kuier. ’n Geleentheid soos hierdie is anders as ’n sinodevergadering waar die pas deur ’n agenda bepaal word en die gees deur opponerende standpunte. Ons was saam geraak deur nuwe perspektiewe en kon opgewonde deel oor waardevolle ontdekkings. Ek het ’n kollega gehad wat altyd ná ’n VBO-geleentheid gesê het:  André, ons weet hierdie dinge, maar dit was goed om dit weer te hoor. Dit is waar van die Predikante Stilwordkans, maar ons het ook gehoor wat ons nie geweet het nie.

Ek wil die organiseerders gelukwens met die geleentheid en bedank vir dit wat hulle vir die dominees van die Vrystaat (en besoekers) aangebied het. Dit was die geld en moeite werd. Ek het ’n kollega hoor sê dat dit goed gepas het die week na Pinkster. Dit was ’n verrykende plaasvervanger vir ander ná-Pinkster-wegbreke. ’n Ander kollega het opgemerk dat dit op ’n strategiese punt gekom het vir dominees kort voor of na emeritaat. Die geleentheid het ’n bydrae gelewer tot nadenke oor die pad vorentoe.

Danie en Trunette

Ons belewenis van die Vrystaatse predikante-retraite was drie dae van roeping, skaterlag, reünie, eet, saam kuier en selfontdekking!

In hierdie tyd het ons opnuut daarvan bewus geraak dat ons woorde skep vir die wêreld waarin ons leef. In ʼn wêreld waar braaivleisstories, aanklop-afsprake, en die gesprekke in die rye by die supermark gefokus is op negatiewe dinge en alles wat verkeerd gaan, het ons in hierdie drie dae weer besef dat ons roeping is om onsself en mense te leer om ons woorde te gebruik om ʼn wêreld te skep wat hoop bring. Wat en hoe ons dinge sê, maak saak.

Die aande se saam eet, ontspan en skaterlag was ʼn hoogtepunt, maar met ons terugkeer het ons die waarde besef van die stories wat ons deel; in die woorde en note van Frank Opperman en Christof van den Berg: ons is almal net mense wat stories het. Ons word geroep en gestuur om hierdie woorde en stories met mekaar en ander mense te deel en te koester. Ons roeping is diep verweef hiermee – ons word geroep as predikante, maar ook net as volgelinge om in dié stories, met lag en huil, die Goddelike heiligheid te ontdek.

Ons is huis toe met ’n herbevestiging van ons roeping en ’n stuk motivering om te gaan leef, beleef, en soek. Ons het hierdie drie dae ook agtergelaat met die diep wete dat ons nie alleen is nie, daar is vir ons ʼn ondersteuningsisteem, hartsmense, en mentors saam met wie ons die pad kan aandurf. Ons het mekaar nodig. Ons kom tuis in die woorde van Esegiël 37:14: “My Gees in julle, en in julle lewe; en in julle land.”    

Goliath Ponie

Ek het Maandag laatmiddag in Bloemfontein aangekom, sodat ek die Dinsdagoggend klaar daar kan wees. Kimberley, dieselfde Maandag, het fyn reëndruppels gereën en dit was kouerig – ek het selfs bietjie merkwerk in die taxi gedoen as onderwyser, want dit is eksamentye. My aankoms in Bloemfontein was begroet deur ’n weer wat kouer was en effens reënerig. By Amanzi se aankoms was die koue erger as dié van Kimberley en Bloemfontein, maar die diep dankbaarheid om regtig daar te kan wees vir God se plan het dit eintlik oorweldig.

Profeet Elia se boodskap van vlug, wag, weet en gaan het my bietjie oor my eie roepingspad laat dink. Ek dink nie ek is in ’n proses van vlug nie, maar wel in bietjie van ’n weet-, wag-, en gaan-proses – maar die roeping was nooit weg nie en is steeds lewendig. Elia het my weer laat dink hoe lyk my pad met God, of hoe om daar uit te kom(?) – en ek dink die geleentheid het my van ’n padkaart voorsien.

Dit was ontstellend en seer om te hoor hoedat wanhoop die boerdery deurdring – die bekendste hieronder, plaasmoorde. Maar terselfdertyd dankbaar dat daar hoop is om aan te hou.

Profeet Elia se verhaal wys vir ons uit hoe God steeds besig is om in ons lewens betrokke te bly, ten spyte van dié uitdagende lewensomstandighede. Ek glo met  oortuiging dat die drie dae dit by ons vasgelê het, dat dinge nooit dieselfde bly nie en eendag anders kan wees, dat ons kan terugkeer na ons plaaslike bedienings en gemeenskappe om weer te kan hoop.

Een van die ander sprekers noem dat die NG Kerk besig is om sy stem te verloor (of dalk al klaar verloor het) en in die agterste rye van die gehoor sit, en net sy ore oor het om te luister. Ds Jan voeg by dat die kerk nog sy hande ook oor het, dus om te doen. Ek het ook gedink dat die kerk sy diversiteit nog kan behou, dus om deel te bly van die breër samelewing, al blyk dit nog uitdagend dat dit ook binne die kerk self so divers moet wees. Mag die kerk eendag weer sy voorste sitplekke inneem, maar net anders, dus op ’n diverse manier (dit laat ’n mens ook dink aan die groot opdrag in Matteus 28 – ‘maak dissipels van al die nasies’).

Annalie du Preez  “Vat hoop terug huistoe”

Die Predikante Stilwordkans van 10-12 Junie 2025 is verby. ’n Groot aantal predikante, teoloë, diensleraars, bedienaars, studente en ander geestelike werkers het Amanzi verlaat met baie stof tot nadenke.

Met die leeus se gebrul in die nag, die goeie kos wat voorsien is en die gasvryheid van die personeel, kon ons fokus op hierdie groot kans wat ons aangebied is deur die NG Kerk Vrystaat.

Uit 1 Konings 19 kon ons die Here se stem hoor in die fluistering in die windstilte. Gaan terug en gaan leef jou roeping uit. God is by jou. Hy stuur jou. Dankie, Adri Potgieter en musiekbegeleiers.

Tom Smith het met sy kenmerkende duidelikheid drie keer oor ons roeping gepraat, aan die hand van In Pas se ritmes. Twee leierboere (Cobus van Coller en Willie Nel) en ’n politieke wetenskaplike (Ina Gouws) het gepraat oor die belang van die Vrystaat as die broodmandjie. Ons landbouers en ons grond moet gekoester word. Ons moet mense help hoop. Politici gaan nie hoop bring nie, maar die kerk kan!

Die 1700-jarige Belydenis van Nicea is teologies verhelder deur Gideon van der Watt.

Marelé Venter het gepraat oor self-insig en emosionele gesondheid terwyl Louwrens Scheepers ’n oorsig gegee het oor kursusse wat hy aanbied oor Compassionate Communication (’n móét vir almal wat met mense werk).

Dat ons draers van hoop moet en kán wees, is uitgespel deur Mzwandile Molo, Sanré Benade en Schalk van Heerden.

Daar was ook wonderlike ontspanningsgeleenthede. Wildbesigtiging, stap, boogskiet, vlieghengel, voëlkyk en selfs dromme slaan. Ná die aandetes kon ons lekker lag (die studente het geskree!) maar ook diep onder die indruk kom van die hartseer en pyn van mense, soos eers Christof van den Berg en toe Frank Opperman hul eenmanvertonings briljant aangebied het.

’n Besondere geleentheid was die legitimasie van Lé-Roy Wentink as diensleraar, met sy vrou en baba aan sy sy.

’n Aangename atmosfeer het tussen kollegas geheers. Baie dankie aan elkeen by die Vrystaatse Sinode, van Jan Lubbe as aankondiger tot diegene wat die laaste reëlings agter die skerms getref het.

 |  Foto’s verskaf:  Dr Leon M Foot