Deur Mariëtte Odendaal
Die NG Kerk Vrystaat vier vanjaar sy 160ste bestaansjaar. In hierdie tyd moes die kerk by baie behoeftes aanpas soos dit oor geslagte heen verskuif en verander het.
Dit beteken dat ons predikante ook daarop ingestel moet wees om die behoeftes van die tyd waarin ons leef, reg te “lees”, te verstaan en met insig en wysheid hul gemeenskappe te lei, te dien en te leer hoe om vandag in die voetspore van Christus te leef.
Ons het met vyf jong predikante gaan gesels oor wat hulle as die uitdagings, hoogtepunte en drome vir die kerk beskou. Hulle is Pieter-Mohr van Niekerk, predikant van Kroonheuwel-Noord-gemeente in Kroonstad sedert 2016, Adrie Potgieter van Senekal-Noord sedert 2021, Dylan Allen van Bothaville-moedergemeente sedert 2021, Janke Hurter van NG Berg-en-Dal-gemeente, Bloemfontein sedert 2023, en Wouter van Velden van Kopanong-gemeente sedert 2024.
Hoe dink julle behoort ons roeping as Christene van die NG Kerk Vrystaat te lyk? Waarop behoort ons te fokus?
Wouter: “Dit is vir my moeilik om een algemene roeping vir die kerk in die Vrystaat te noem, aangesien die omstandighede en kontekste van gemeentes baie verskil. Dalk moet die eerste fokus van gemeentes wees om met nederige afhanklikheid te onderskei waartoe God daardie spesifieke gemeente in daardie betrokke area roep.
“Tog voel ek dat een van die fokusareas van ons kerk moet wees om Kerk te wees aan enige een wat in hulle area woon; om Christus se goedheid en sy goeie nuus te bemiddel aan wie ook al die gemeente se pad kruis of wie ook al in die dorp woon. Ek glo dat die diens en besorgdheid van die gemeente nie beperk sal wees tot net een groep, byvoorbeeld spesifiek net aan wit Afrikaanssprekendes nie, maar dat ons doelbewus wyer sal fokus om ook persone van ander agtergronde te bedien. Dit beteken dat ons meer doelbewus sal fokus om oor grense heen te beweeg en bereid sal wees om die moeite te doen en toegewyd sal wees aan dit wat die bou van sulke verhoudings verg; dat ons gemeentes oor die lang termyn ook meer en meer die demografie van ons omgewings sal weerspieël.
“Dalk kan ons ook meer fokus op God as bron van hoop en die Heilige Gees as lewendmaker, veral in hierdie jaar wat ons Nicea vier. In ’n tyd waar daar so baie dinge is wat die lewe verarm en so baie dinge wat ons hooploos maak, moet ons dalk die oog meer rig op God wat hoop gee en nuwe lewe bewerk, selfs daar waar ons voel dit nie meer moontlik is nie.
“Laastens dink ek ons kan maar ook vier en dankbaar wees vir die pad wat die Here met ons as Kerk stap en vreugde vind in waar Hy ons geplaas het; in ’n besondere mooi deel van die wêreld met die eiesoortige bekoring wat die berge, vlaktes en oop horisonne bring.”
Adrie: “Ons sinode se leuse is Lig in die duisternis, hier vir God, mekaar en die wêreld. Ek dink dit som ons roeping baie goed op en dit waarmee ons reeds besig is – om lig te bring en ’n baken van hoop te wees vir mense wat dit so nodig het. Ons kan baie vinnig vaskyk in slegte omstandighede en bekommernisse. As ons byvoorbeeld kyk na die afgelope paar jaar waar ons gekonfronteer was met ’n pandemie, met verskeie rampe en verwoestende weersomstandighede, ekonomiese toestande wat versleg en dies meer, het mense ’n groot behoefte aan hoop. As Kerk behoort ons te getuig van hierdie hoop wat in ons leef en prakties op grondvlak die hande en voete te wees wat hierdie hoop in ons gemeenskappe kweek en uitbou.”
Dylan: “Ons roeping moet nooit anders wees as die roeping wat Christus vir sy Kerk gegee het nie. Alhoewel die tye waarin ons lewe anders mag vertoon, is die omstandighede nie eintlik veel anders nie. Soos die Prediker in hoofstuk 3:15 skryf: ‘Wat is, was reeds. Wat kom, was ook alreeds. God laat weer gebeur wat vroeër gebeur het’. Hiermee wil ek nie mismoedig wees nie, maar wil ek juis die aandag vestig op die roeping wat Christus van vroeg af vir sy Kerk gegee het. As ons ooit hiervan wegbeweeg, verval ons as Kerk na ’n plek wat ons nie wil wees nie. So, hoe moet ons roeping dan lyk; waarop moet ons fokus? Eenvoudig – ons moet op Christus fokus – op Hom as die geskruisigde en opgestane Here. As dít ons fokus is, sal ons alles anders reg, getrou en gehoorsaam doen. As ons fokus egter nie altyd op Christus en sy koninkryk is nie, sal dit al hoe swaarder in die Kerk begin gaan.”
Pieter-Mohr: “Ek glo ons roeping as Christene van die NG Kerk Vrystaat behoort primêr gefokus te wees op die Woord van God. Dit moet die fondasie wees van alles wat ons doen, want dit is deur die Bybel dat ons God se wil en leiding verstaan. Bo en behalwe die Woord moet ons ook fokus op die mense rondom ons – ons gemeenskappe, ons families en diegene wat hulp nodig het. Ons roeping is om Christus se liefde te weerspieël deur sy Woord uit te leef. Verder moet ons as Kerk ook fokus op die toerusting van gelowiges – sodat elke lidmaat hul roeping in die alledaagse lewe kan uitleef, hetsy by die werk, in die gesin of in die gemeenskap.”
Janke: “Ek dink die frase wat ons in Kolossense 3:11 vind, ‘Hier is Christus alles en in almal’, som vir my goed op waarop ons behoort te fokus en hoe ek dink ons roeping as Christene van die NG Kerk Vrystaat behoort te lyk. Om dit verder te vertaal: Ek dink ons behoort te fokus op die bou van netwerke en om dit te versterk en uit te brei.”
Wat sou julle voorstel oor hoe die pad vorentoe moet lyk, met ander woorde watter uitdagings behoort aangespreek te word en hoe kan dit opgelos word?
Adrie: “Vanuit die konteks waarin ek my bevind, is ’n groot uitdaging die verkleining van gemeentes en verval van die platteland. Plattelandse gemeentes kry geweldig swaar om die mas op te kom. As Kerk sal ons nuut moet saamdink en -droom oor ’n toekoms waar ons hande vat met omliggende gemeentes en gemeenskappe. Dis waar ons verhoudings moet bou en versterk en na mekaar moet uitreik sodat ons saam ons verskillende kontekste kan lees en nuwe geleenthede benut.”
Pieter-Mohr: ”Een groot uitdaging is dat baie gemeentes kleiner word en dat daar al hoe meer ouer mense is. Ons moet nuwe maniere kry om mense te bereik en te betrek. Ons moet ook mooi kyk na hoe ons met jongmense werk. Hulle voel dikwels dat hulle nie ’n plek in ons kerk het nie. Ons moet vir hulle ruimte gee, hulle laat deel voel van ons gemeentes en hulle help om saam met ons Kerk te wees en die Kerk te help bou. Ek dink die belangrikste is dat ons weer naby aan Jesus moet leer leef, luister en saamwerk om ’n verskil te help maak. Die Kerk sal dan steeds ’n sterk lig in ons gemeenskappe wees.”
Dylan: “Dit voel dikwels vir my of die uitdagings deur ons sélf geskep word. Ons veroorsaak self vir ons moeilikheid en dan weet ons nie hoe ons moet optree om die uitdagings reg te hanteer nie. Die pad vorentoe moet altyd geloop word met die oog op die koninkryk van God gevestig. Ek dink as Kerk wil ons ons aandag vestig op sake wat tydsaam verander, maar wat in die proses baie hartseer veroorsaak omdat dit so draal. As ons as kerk fokus op die dinge wat Christus vir ons gegee het en wat Hy verwag dat ons moet doen, sal ons uitdagings ervaar, maar dan sal ons ook die Bybel-gefundeerde rigting hê wat ons kan help om die uitdagings die hoof te bied. Die woorde van Matteus 6:33 bevat vir my alles oor die pad vorentoe: ‘Soek allereers die koninkryk van God en na die wil van God, dan sal Hy julle ook al hierdie dinge gee’. Fokus op God, en waartoe Hy ons roep om mee besig te wees, maar dan sal Hy ons ook toerus met dit wat ons nodig het om die werk van sy koninkryk verder te vat.”
Janke: “Ek dink die uitdaging van ’n ‘individualistiese benadering’ tot kerkwees behoort aangespreek te word. Dit kan geskied deur netwerking: om netwerke te bou, te versterk en uit te brei. Ek dink aan voorbeelde soos om netwerke met ander sinodes, denominasies (fraternals), teologiese fakulteite en teologiese instansies sowel as netwerke tussen gemeentes en ringe te versterk en uit te brei.”
Wouter: “Missionaliteit is ’n gonswoord wat in die kerk oorgebruik word en my soms ’n bietjie moeg maak.
“Nogtans bly dit vir my ’n baie belangrike begrip en is dit goed dat ons as kerk al hoe meer aandag daaraan gee, asook aan van die temas wat daarin voorkom, soos die Missio Dei, die onderskeiding van waar God betrokke is, die uitbeweeg van die gemeente in die wêreld in, ensovoorts. Die Kerk is nie hier vir haarself nie, maar ter wille van God se koninkryk en sy missie na die wêreld.
“Saam met die denke oor die kerk se missionale identiteit en roeping, moet ons ook dink oor, en beplan vir, wat sou gebeur as ons hierdie identiteit en roeping werklik uitleef. Dit gaan egter veranderinge in ons gemeentes en strukture vereis en dit sal goed wees om ten minste ten dele daarvoor gereed te maak, al kan ’n mens nie vir alles beplan nie. Soos die verhaal van die seuntjie wat sy sambreel na die biduur vir reën bring terwyl niemand anders dit gedoen het nie: Hy het geglo dat God hul gebed gaan beantwoord en hy het daarvoor voorberei. As ons werklik glo ons gemeentes raak betrokke by God se werking en roeping, moet ons ook voorberei vir as daar vrug op daardie werk is.
“Prakties beteken dit (onder andere) dat ons sal moet gaan dink oor wat gebeur as mense van ander kulture, spiritualiteitsuitlewing, taal, etnisiteit en dies meer deel van ons gemeentes raak, of dalk selfs die eerste keer tot geloof kom deur ons bedienings en by ons wil inskakel. Die persoon is ’n broer of suster in die geloof. Hoe gaan ons verseker dat die nuwe lid wat God tot ons huisgesin toegevoeg het, werklik tuiskom?”
Wat is julle droom vir die kerk?
Janke: “Ek droom van ’n kerk waar gelowiges met sagte oë na mekaar sal kyk, mekaar sal vashou met ons woorde en waarde sal vind in being together (saamwees). Anders gestel: ek droom van ’n kerk wat God eer deur onder andere mekaar se bydraes te erken; van ’n kerk wat drink uit die poel van wysheid wat om haar is.”
Dylan: “My droom vir die Kerk is maar net dat ons ’n kerk sal wees wat nie net ons aandag en fokus plaas op die agenda van die dag nie (bedoelende dit wat tans op die tafel wêreldwyd gebeur), maar dat ons weer ’n kerk sal word wat alleenlik op Christus (Solus Christus) en Hom in sy volheid (nie net die dele waarvan ons hou nie) sal vertrou. Ek droom dat ons weer ’n kerk sal word wat alleenlik op die Woord (Sola Scriptura) gerig sal wees; ’n kerk wat lewend is (Sola Fide), omdat ons geloof lewend is, soos Jakobus 2 ons leer. Ons moet as Kerk weer opnuut besef dat ons as mense onbeskryflike genade van God (Sola Gratia) ontvang het en daarom kan ons aan Hom behoort. Ek droom dat dit in elkeen se lewe sal posvat en dat ons daarom die wêreld sal omkeer deur die vuur, die passie en die ywer wat God deur sy genadegawe aan ons gegee het. Laastens droom ek dat ons ’n kerk sal wees wat alles tot eer van die Here (Soli Deo Gloria) sal doen en nie vir mense nie (Kolossense 3:17).”
Pieter-Mohr: “My droom is dat ons ’n kerk sal wees wat leef volgens die riglyne wat die Bybel vir ons gegee het – ’n kerk wat getrou bly aan God se Woord en Sy leiding in alles volg wat ons doen. Ek droom van ’n kerk wat nie net op Sondae relevant is nie, maar wat elke dag deel sal wees van mense se lewens; ’n kerk wat uitreik, dien, luister, saamwerk en hoop bring – veral in moeilike tye.”
Adrie: “My droom vir die Kerk is dat ons inklusiewe gemeentes sal wees wat leef vanuit die liefde van Christus; dat ons op grondvlak diensbaar sal wees in ons gemeenskappe om sodoende mekaar te inspireer, te mobiliseer en te ondersteun.”
Wouter: “Ek droom dat ons inderdaad ’n geloofstuiste sal word vir wie ook al in ons omgewing is en wil inskakel. Ek droom dat gelowiges iets van die rykdom en vreugde en energie mag beleef van gemeentes wat bestaan uit ’n verskeidenheid van God se kinders.
“Ek droom dat, met God se aangesig wat oor ons skyn, die Kerk en haar lidmate se gesigte ook sal skyn in die ruimte waar God hulle geplaas het en dat hierdie lig ander sal aantrek. Ek bid dat die lewensasem van die Gees ons longe sal vul en die nuwe lewe van Christus deur ons are sal bruis sodat ons die Vader mag verheerlik en Sy koninkryk kan gestalte gee.”

Foto’s (verskaf): (Bo links) Ds Pieter-Mohr van Niekerk, leraar van NG Gemeente Kroonheuwel-Noord in Kroonstad sedert 2016. (Bo regs) Ds Adrie Potgieter, leraar van NG Gemeente Senekal-Noord sedert 2021. (Onder links) Ds Dylan Allen, leraar van NG Gemeente Bothaville sedert 2021. (Onder middel) Ds Janke Hurter, jeugleraar van NG Gemeente Berg-en-Dal in Bloemfontein sedert 2023. (Onder regs) Ds Wouter van Velden, leraar van Kopanong-gemeente sedert 2024.