Deur ds Jan Lubbe, Voorsitter van die Moderamen, NG Kerk Vrystaat
Op ‘n snikhete dag in ‘n dorp sonder water vergader die Moderamen van die NG Kerk Vrystaat. Vroegoggend al raak dit uitdagend: Kort voor Winburg verloor die bussie uit Bloemfontein ‘n voorband; Adriaan de Ruiter bring ons veilig tot stilstand; gelukkig ry ouderling Flip Geel uit Harrismith net agter ons – hy kon die spaarwiel gou vat en laat pomp! Ons sê dankie vir ‘n veilige aankoms, almal rondom die tafel. De la Harpe le Roux is nie daar nie; ons rou saam met hulle gesin; Corné het heengegaan. Een ná die ander vertel van die droogte se impak; honderde hektare mielies staan verskroei; “ons boere kry bitter swaar”. Ouderling Annemarie Mostert van Suidoos Bloemfontein vertel van die vorige week se “puinhoop”: Die groot grondbesetting in hul buurt en uiteindelik die desperate haweloses in ‘n skroeiende son – hul grype na ‘n (korrupte) grashalm, tevergeefs …
“… die Here troos sy volk, Hy koop Jerusalem los.”
Só eindig ons teks vir die oggend – Jesaja 52:9. Ons lees dit stil, want ‘n paar dae tevore was dit die Skrifwoord by die gedenkdiens vir klein Anelle Botha, die dogtertjie van ons kollegas Thania en Rikus. Sy’t net twee dae oud geword; háár leeftyd by ons, het André Oosthuizen die Woord aan ‘n treurende familie en gemeente in Universitaskerk bedien. Ons lees die woorde “boodskapper van vreugde … vrede … verlossing” (vs. 7); dat sy Naam is “die Een wat sê: ‘Ek is hier’!” (vs. 6). Dís die troos: God is hier teenwoordig! Hier, tussen ‘n droë somer se puinhope; ín hierdie Lydenstyd! Dat Paulus – wanneer hy Jesaja 52:7 in sy Romeine-brief aanhaal en getuig “dat Jesus die Here is” (10:9) en óók nog verwys na die Lydende Kneg (Jesaja 53:1) – dít “die goeie boodskap” noem; die “evangelie” van verlossing, vrede en vreugde! En oor die draers van daardie boodskap skryf:
“Hoe lieflik op die berge is die voetstappe van ‘n boodskapper van vreugde, vrede, verlossing”
(Romeine 10:15, Jesaja 52:7)
Uit dáárdie teks het die naam van klein Anelle Botha gekom, “boodskappertjie”. Ons sal haar onthou en bid vir haar ma en pa. En vra ons onsself af, hierdie Maandag, 11 Maart, presies twee jaar ná die begin van ons termyn as Moderamen (10 Maart 2022): “Klink ons voetstappe lieflik” oor die Vrystaatse rantjies? Oor droë vlaktes onder ‘n skroeiende son, die hemel leeg, baie harte moedeloos? Deur dié twee verkiesingsmaande?
Toe 106 vroue uit Vrystaatse gemeentes onlangs by die konferensie by Amanzi moes sê wat hulle grootste uitdaging in hul gemeentes is – dis individueel gevra en anoniem beantwoord – wissel dit van “ons het nie ‘n dominee nie” of “ons dominee tree nie op soos ‘n man van God nie”, na “kerkgangers is moeg en passief” en “lidmaatbetrokkenheid baie laag”. Ja, ons getalle hét minder geword (ons is sowat 70 000 NG-lidmate in 152 gemeentes met 148 dominees in die Vrystaat, ‘n provinsie met 2,96 miljoen mense uit ‘n landsbevolking van 60 miljoen – laat dít bietjie insink: NG Kerk Vrystaat, 2,5% van die Vrystaatse bevolking). Maar ons groter uitdaging, skryf daardie vroue, is gesindhede in gemeentes en ons gemeenskappe: “Jaloesie en die eie ek”, “onnodige kritiek”, “vyandigheid”, “onvergewensgesindheid”, “dwarstrek van mense”, “eiegeregtigheid”. Die grootste uitdaging in hul dorpe? Bo-aan die lys: Armoede, werkloosheid, ongeletterdheid (terloops, 9% van Vrystaters het geen skoolopleiding nie, 33% slegs laerskool-opleiding, 29% matriek, 7% tersiêr; 1 uit elke 2 Vrystaters het nie werk nie, 38% van ons provinsie se bevolking is hande-arbeiders/werkers; 12% middelklas en hoër).
So ís daar goeie nuus? Já, sê Cobus van Coller (boer van Viljoenskroon) einde Januarie vir ons in Bethlehem: 3 000 plase in die Vrystaat produseer 70% van ons land se graan; die “Vrystaat is ons broodmandjie”. Já, sê dr Eleanor Bernhard, jong akademiese ontleder van die Universiteit van die Vrystaat: 65% van hul 40 000 studente op drie kampusse is vroue; vroue studente het die beste deurvloeikoers én is die beste presteerders in hul kursusse. En by Teologie? Daar het vanjaar bykans 14 000 studente hier by die fakulteit aansoek gedoen; 250 is gekeur; 10 studente uit die NG Kerk-familie in ‘n eerstejaarsklas van 67 …
“Hoe lieflik klink die voetstappe van verlossing, vrede, vreugde …”
Daar ís goeie nuus uit Sinode Vrystaat! Al drie proponente wat verlede jaar gelegitimeer is, is beroep en bevestig (in Bethlehem, Lindley, Arlington); nóg drie dominees is na die Vrystaat beroep (Kerkenberg, Hennenman, Heuwelkruin). Een gemeente word 50 jaar oud; twee ander het ‘n geseënde kermis gehad. Die Beurskomitee het R1,7 miljoen aan beurse vir Vrystaatse studente uitbetaal, ons kinders. Studentebediening in Bloemfontein word tans herstruktureer. Raad vir Ondersteuning het wéér 50% korting vir gemeentes op hul pro rata’s toegestaan. Elkeen van die vyftien Vrystaatse ringe kry vanjaar R75 000 vir hul gesamentlike projekte; vanjaar het die Ring van Smithfield húl toekenning gebruik vir ‘n brandbestrydingskursus vir meer as 200 boere en plaaswerkers by Gariepdam, vertel Werner Burger. Volgende week vind ‘n groot werkswinkel plaas oor “meervoudige-standplaas-bediening” by Pellissier; groter gemeentes wat hande vat met ‘n klein plattelandse een, mekaar help om God se teenwoordigheid te beleef – dié rede vir “goeie nuus”! Ons tweede ontmoeting met die moderature van die NG Kerk in Afrika en die VGKSA was vrugbaar; hul ernstige versoek om plaaslik in gemeentes en dorpe saam te werk, sáám te getuig – nou reeds, met die komende algemene verkiesing …
As Moderamen kon ons Maandagmiddag vir mekaar sê: Ons roeping hier is steeds gróót.
“Lig in die duisternis – hier vir God, mekaar en die wêreld.”
Héél bo-aan ons prioriteitslys vir die volgende twee jaar op pad na Sinode 2026 is ondersteuning aan klein én groot gemeentes vir hul bedieninge; die voorsiening van predikante en ontwikkeling van leierskap in al ons gemeenskappe. ‘n Tweede prioriteit: Ons verbintenis aan mekaar; die herstel van respek en vertroue; versoening en samewerking om die vesel van ons samelewing te versterk. Derdens: ‘n Bestekopname van ons bronne, fondse, hulpmiddele en personeelsterkte sodat ons sterker netwerke vir noodleniging, armoedeverligting, onderwys en ontwikkeling kan help vorm – dink aan die inspirerende “Helde van Hoop”-stories by Landbouweekblad se onlangse “Platteland Konferensie”! En ons vierde prioriteit: ‘n Strategiese besinning oor die strukturering van ons sinodale werksaamhede, bedieninge en beste praktyke in kommunikasie en dienslewering aan gemeentes en gemeenskappe in die Vrystaat.
Met dít als gesê, het die Moderamen ook indringend gesprek gevoer oor ons kerkverband, deur die Vrystaatse Sinode van Maart 2022 aan ons opgedra. Ons het die spoor van daar tot hier nagegaan (studiegroepe, streekskonferensies, ses opsies) wat op ons beskrywingspunte aan die Algemene Sinode 2023 uitgeloop het, en die reaksies, briewe en voorstelle wat sedertdien ontvang is. Ons het ‘n “Verklaring van Welwillende Voorneme” saamgestel as bevestiging van waar ons as NG Kerk Vrystaat staan en wie ons ten diepste is: ‘n Kerk van die Woord, getuies van Christus, ingelyf in sy Liggaam, luisterend na sy Gees, verbind aan ons gereformeerde belydenis, veilig binne ons ooreengekome kerkorde, ‘n geroepe “communio sanctorum” saam op weg. Ons het erken dat daar dikwels in tye van meningsverskil foute gemaak word, maar dat ons mekaar ook kan vergewe en hieruit kan leer. Ons het besluite geneem oor die pad verder vanjaar – lees gerus ons “Verklaring van Welwillende Voorneme”; ons gee dit hiermee deur na alle gemeentes, lidmate, kerkrade en leraars vir verdere bespreking en terugvoer.
Sal die “voetstappe van die boodskappers van goeie tyding (weer) lieflik klink”?
Christo Nel vertel van die geskenk om aan ‘n kerkverband te behoort; hoe kollegas in Senekal, Bethlehem, Welkom en Bloemfontein gebel kon word daardie tragiese aand toe Hoërskool Riebeeckstad se bus omgeslaan het. Hoe NG-dominees uitgegaan het om te troos; self bewoë, tóg kon sê: “Die Here is hier!” Met die woorde van Jesus: “Kom in, julle geseëndes – Ek was honger, dors, vreemd, nakend, siek en julle het Mý gesien”, sluit Riaan Stander ons vergadering af uit Matteus 25. En ons sing: “Laat, Heer, u vrede deur my vloei …” (Lied 284).
Mag hierdie laaste twee Lydensweke en die boodskap van Pase ons diep aanraak en inspireer om te sien wat regtig saakmaak, hier tússen alles wat ons as “puinhope” ag. Hý sal “die puinhope laat jubel” en dit sal “lieflik klink”!
| verskaf: Ds Jan Lubbe