Skip to content Skip to sidebar Skip to footer

Ons ringe – hoe werk dit en waarom is dit belangrik?

“As ons kyk na die mandate wat die Kerkorde aan die ring toeken, is dit duidelik dat die ring die belangrikste kerkvergadering naas ‘n kerkraad is. Die ring is in ‘n sekere sin die ruggraat van die kerkverband, omdat dit ‘n onmisbare bydrae tot die optimale funksionering van beide die sinodale sisteem én gemeentes lewer.”

| Ds Charl Stander

Dis altyd goed om net weer te hoor hoe ons ringe behoort te funksioneer en waarom dit so belangrik vir die kerkverband is. Om ons meer hieroor te vertel, het ons gaan kers opsteek by ds Charl Stander, voorheen aktuarius van die NG Kerk Wes-Kaapland, en dr Bertus Celliers, lid van die Sinodale Taakspan Kerkorde van die NG Kerk Vrystaat. Hulle het onlangs tydens ’n ringskommissiewerkwinkel op Clarens hierdie onderwerp onder die loep geneem

Bertus, verduidelik asseblief vir ons hoe die rol van ringe in die verlede verstaan is.

“Vir die afgelope eeu of twee was die ring hoofsaaklik verantwoordelik vir die vul van predikantsposte, die aanwys van konsulente, die behartiging van tugsake en om deur middel van ringsvisitasie ’n oorsigrol ten opsigte van die funksionering van gemeentes te vervul.

Dit klink baie ondersteunend en sinvol, Charl, maar waarom weet lidmate en kerkraadslede dikwels nie van watter waarde ringe vir hul gemeentes is nie?

“Ringe is die mees onderskatte en verwaarloosde kerkvergadering in die NG Kerkverband. Ek dink dit is omdat die rol en funksie van ringe ongelukkig in die verlede dikwels gereduseer is tot tugsake, ‘n paar administratiewe funksies en soms sosiale byeenkomste. 

“Maar as ons kyk na die mandate wat die Kerkorde aan die ring toeken, is dit duidelik dat die ring die belangrikste kerkvergadering naas ‘n kerkraad is. Die ring is in ‘n sekere sin die ruggraat van die kerkverband, omdat dit ‘n onmisbare bydrae tot die optimale funksionering van beide die sinodale sisteem én gemeentes lewer.

 “Die ringskommissie het dus ‘n baie belangrike funksie, aangesien die ring tegnies eintlik net funksioneer wanneer die ring in vergadering is, en die ringskommissie as gevolmagtigde van die ring bykans al die werk moet doen wat die Kerkorde aan die ring opdra.

 “Let wel dat nie een van die vier kerkvergaderings – kerkraad, ring, sinode en Algemene Sinode – oor die ander heers nie, behalwe ten opsigte van die mandaat en gesag wat deur gemeentes aan hulle toegeken is.”

Maar ringsverantwoordelikhede het ook oor die jare verander, nè Bertus?

“Ja-nee, daar het die afgelope dekade of wat groot veranderinge op verskeie terreine van gemeente-wees en predikantsbediening plaasgevind. Ons is almal deeglik hiervan bewus. Dit skep noodwendig ongekende vrae en nuwe uitdagings aan gemeentes en ringe.

“Vrae soos: Hoe help ons gemeentes met hul kerkwees en hul Woordbediening wat so essensieel is? Hoe help ons predikante wat te midde van al hierdie verskuiwings en uitdagings steeds bedienaars van die Woord moet wees?  

“Vir die ring wat so nou gemoeid is met gemeentes, skep dit groot uitdagings; vandaar die behoefte aan hierdie gesprek. Die ring kan immers ’n groot rol in die begeleiding van gemeentes en hul aanpasbaarheid by nuwe uitdagings speel.”

Die ring en die sinode is 'n skepping van gemeentes, nie andersom nie. Waarom hou gemeentes dan hierdie kerkvergaderings, Charl?

“Alhoewel ‘n gemeente ’n selfstandige regspersoon is en besluite oor sy eie sake soos oor eiendomme, eredienste, bedieningsmodelle, fondse, personeel, ensovoorts kan neem, en daar ook sekere take is wat ‘n gemeente vanweë sy roeping moet uitvoer, gebeur dit soms dat ’n gemeente vanweë konteks of kapasiteit of watter rede ook al, dit nie wil of kan doen nie.

“Om dit gedoen te kry, gee kerkrade dan mandate aan ander kerkvergaderings – meerdere vergaderings – om vir hulle of namens hulle bepaalde funksies te vervul. Voorbeelde hiervan is ekumene, skakeling met die owerheid, Bybelvertaling, opleiding van predikante, opsig oor ampsdraers, ondersteuning aan kerkrade, roeping, die bevordering van eenheid, die welwese van ‘n kerkverband, die stigting van nuwe gemeentes, om die familie bymekaar en gesond te hou en ten laaste om die gemeente verantwoordbaar te hou aan familiereëls (die Kerkorde).

Die term ‘meerdere vergaderings’ is nie by die gewone lidmaat so bekend nie. Wat word daarmee bedoel?

“Dit beteken nie ‘n hoër of belangriker vergadering nie, maar eerder méér van ons. Met ander woorde, hier is sake waaroor ons oordeel ons nie alleen wil onderskei nie. Daar is soms sake waaroor ons nie alleen wil dink en besluite neem nie.

“Ons het ‘n behoefte daaraan dat méér van ons in die groter familiekring sal saamkom om saam te dink. Die verwagting is dat daar dan meerdere kennis, ervaring, wysheid en insig sal wees wanneer ons oor sekere sake dink en onderskei. Daarom wil ons die kring wyer trek en meer koppe en onderskeiding en insigte om die tafel hê.

“Ons kan dus sê: Die gesag en die funksies van die ring en sinode is deur gemeentes aan hulle toegeken en opgedra. Maar let op, die ring is die enigste kerkvergadering wat ‘n mandaat het om van buite by ‘n gemeente betrokke te raak en onder sekere omstandighede selfs in die sake van ‘n kerkraad in te gryp.

“Slegs ringe kan byvoorbeeld predikantsposte in gemeentes skep, kerkraadsbesluite onder die vergrootglas neem, gemeentes versoek om hul boeke oop te maak (ons noem dit visitasie), beroepe goed- of afkeur, predikante se bevoegdheid ontneem en ook predikante vir herstel van bevoegdheid by die ATP (Algemene Taakspan Predikantesake) aanbeveel.” 

Die ring is ook 'n uitdrukking van eenheid en onderlinge verbondenheid aan mekaar. Vertel meer.

“Die beste metafoor om die verhouding tussen gemeentes te beskryf, is dié van ‘n familie. Die heel belangrikste funksie van ringe en dan spesifiek ringsleiers (ringskommissies), is om hierdie familiekultuur te vestig en uit te bou.

“Dit is noodsaaklik om die gemeentes deurlopend aan die belangrikheid van en verantwoordelikheid teenoor die verband te herinner. Dit gee aan gemeentes die gevoel of ervaring dat hulle deel is van ‘n familie waarsonder hulle nie wil wees nie.

“Die ring hou ook gemeentes verantwoordbaar aan die verband.

“En daar waar ringe nie funksioneer nie, steek independentisme (onafhanklikheid) kop uit. En dit is presies wat ons (gemeentes) nie is nie. Ons is ‘n familie, verbind aan mekaar en verantwoordbaar aan mekaar.”

’n Gesonde ring is natuurlik ’n groot bate vir enige gemeente en strek tot voordeel van elke lidmaat ook, nie waar nie?

“Ja, beslis! Gesonde ringe het gesonde gemeentes tot gevolg. Die mees basiese kenmerke van ‘n gesonde familiekultuur wat jy dan hier sal vind, is vierings, betrokkenheid en belangstelling in kerksake of -projekte, sorg, teregwysing of vermaning, pastorale asook logistieke en materiële ondersteuning. Op hierdie manier word gemeentes in staat gestel om hul roeping uit te leef.

“Die ring se administratiewe en finansiële ondersteuning aan gemeentes verseker ook dat energie in die regte rigting gekanaliseer word.

“Deur middel van toerustingsgeleenthede en begeleiding kan materiaal en kapasiteit onderling met mekaar gedeel en ampsdraers ontwikkel en gevorm word.

“Ringe dra ook baie daartoe by dat netwerke gebou en verskillende gawes van ringsgemeentes bymekaar gebring word.”

’n Mens hoor dikwels die term visitasie. Wat behels dit?

“Met ringsvisitasie bedoel ons ‘n besoek aan ‘n gemeente om na die welstand en funksionering van ‘n gemeente te verneem en ook ondersteuning te gee. Dit behels onder andere gesprekke met die gemeenteleiers, die nagaan van ‘n gemeente se finansiële stelsels en state, asook die nagaan van kerkraadsnotules, die hantering van personeelsake, bystand met diensooreenkomste, ensovoorts.

En wat sou jy as die kerkordelike administratiewe funksies van die ring beskou?

“Ten eerste moet alle besluite van kerkraadsvergaderings op eie bene in die gemene reg kan staan. Die ring het dan ‘n rol om kerkrade met die ordelike en legitieme verloop van kerklike prosesse te help.

“Ringe help ook met onder andere die vestiging en ontwikkeling van nuwe gemeentes, die aanpassing van grense, die oplos van kerklike geskille, die skep van poste, die kontrolering van beroepe, reëlings by demissie en emeritering, die versorging van predikante en advies aan gemeentes oor diensverhoudinge en diensooreenkomste. En dan natuurlik ook met die kerklike tug.”

Watter voorstelle kan jy maak om ringskommissies beter te laat funksioneer?

“Dit is raadsaam om ringskommissies vir ’n vierjaar-termyn aan te wys. Van die grootste voordele hiervan is goeie leierskapsontwikkeling, kontinuïteit in ringswerk en die vestiging van ’n familiekultuur.

“Verder kan die instelling van ‘n ringsregskommissie oorweeg  word.  Die voordele hiervan is dat dit kerkordelike advies aan gemeentes kan gee en leiding kan neem in die hantering van tugsake. Verder kan ‘n ringsregskommissie ook optree as die ring se appèlliggaam en alle appèlle teen kerkrade hanteer.

“Dit het ook die voordeel dat die ringskommissie self nie by tugsake betrokke raak nie en eintlik ten opsigte van moeilike en ongewilde sake gebuffer word en so ruimte gee om ’n meer pastorale, begeleidende rol te vervul.”

Kontak ons:

 | Ds Charl Stander

 | charl@kaapkerk.co.za / charlsepos@gmail.com

 | Dr Bertus Celliers

 | bertuscelliers@gmail.com

Wil jy meer weet oor die volgende?
Bevoegdheid van predikante
Kronologiese stappe tydens beroeping
116 | Maatskaplike NOODLYN