Deur ds Jan Lubbe, voorsitter van die Moderamen
Op die voorlaaste dag van Augustus 2023 in die jaar van ons Heer 2023, het die Moderamen van die NG Kerk Vrystaat in Welkom by die gemeente Dagbreek ontmoet. Die dag daarná, het die vaste-termynkontrak van hul jong leraar verstryk; hy was nog lid van ons Moderamen. Ons moet groet. En só kom ons verhale weer rondom die tafel bymekaar, van oral uit die Vrystaat. Ondervoorsitter Dawie Botes vertel dat waar daar in 1993 ses-en-vyftig mynskagte rondom Welkom was, daar nou net 6 oorgebly het; waar daar vroeër sewe-en-twintig leraars in die sewe gemeentes was, daar nou net 7 oor is. Meer as 700 000 mense in ‘n gemeenskap wat al armer word, dae dikwels sonder water of krag. Die munisipaliteit se naam – “Matjhabeng” – beteken “samekoms van die nasies”. Elke twee weke kom predikante en pastore hier in ‘n ekumeniese gebedsbyeenkoms saam, “Church in Action”. Juppi Steurer bring ook groete van ons broers en susters uit Zambië, Malawi en Mosambiek; van gereformeerde kerke wat uit die Vrystaatse- en Wes-Kaapse sendingwerk honderd-en-dertig jaar gelede daar gegroei het. Leon Foot wys van die foto’s; “voetspore” van ons voorgangers se geloofsdade hoër op in Afrika. En toe lees hy ter opening van ons vergadering:
“Julle is ‘n volk wat aan God behoort,
sodat julle die deugde kan verkondig
van Hom wat julle uit die duisternis
na sy wonderlike lig geroep het…”
(1 Pet. 2:9).
Ons hoor van gemeentes en ringe waarin dit goed gaan, waar lidmate hul tyd vrywillig gee vir uitreike en noodleniging. Ons hoor van veldbrande in verskillende distrikte; die “wintersport van die Vrystaat”, merk een boer lakoniek op. Tussen Bloemfontein en Brandfort lê die weivelde swart, loop tarentale tussen rokende stoppels en skrop. In Philippolis is ‘n gedenkplaat onthul vir wyle dr. Carin van Schalkwyk. Ons hoor van kollegas wat emeriteer én vier jong dominees wat hierdie kwartaal in Vrystaatse gemeentes bevestig word. Pellissier se dominee se babadogtertjie is gebore. ‘n Ander een se dogter skryf matriek. Twee leraars se vroue is siek; een van ons ouderlinge in die Moderamen ontvang chemo. Die leraar uit Koppies hou sy pet op; dit is nog koud daar. Só lyk en leef ons kerk, dink ek:
“… ‘n koninklike priesterdom wat nou die ontferming van God ontvang het…”
(1 Pet. 2:10).
Die derde vergadering van die Moderamen vanjaar was ‘n intense een, veral ten opsigte van hoe dit tans met ons kerkverband hier in die Vrystaat gaan. Ná ons Buitengewone Sinodesitting in April was daar verskeie gesprekke in ringe en tussen gemeentes en die Moderamen oor die besorgdhede wat in die harte van leraars en lidmate leef. Een gemeente het laat weet dat hul doleer, ‘n ander dat hul “staat van dolering” verby is, hul is dankbaar. In sommige gevalle kon onsekerhede opgeklaar word, by ‘n ander is die deur toegetrek. Daar’s ontsteltenis in die vergadering, hartseer: Ons kán mekaar mos nie los nie? Het ons broers en susters buite hoorafstand van mekaar geword? Die jong verteenwoordiger van Riebeeckstad-Erfdeel stel voor dat ons stil raak en bid. Hoe hoor ons Gód se stem hierin? ‘n Oomblik van verootmoediging, so voel dit daar in die kerksaal. Wéér ‘n keer verbind ons ons tot ‘n welwillende weg: Pastoraal, teenoor álmal; bly eerlik en by die waarheid, in alles; hou in liefde by ons ooreengekome reëls, in ons Kerkorde uitgedruk; moenie na enige ekstreme polariseer nie, maar wag kalm en in vertroue op die Here om ons ‘n weg te wys. Wag. Luister mooi na mekaar. Wéér.
Want – só hoor ons ná middagete – daar is ontsaglik baie op die spel. Ons bediening van die Woord in gemeentes wat klein geword het en sonder ‘n leraar gelaat is: Kan sterker gemeentes uit die groter dorpe en stede kom help? Daar ís al voorbeelde wat werk. Volgende week kom 49 lede van Ringskommissies in Clarens byeen om oor die stand van ons bediening regdeur die Vrystaat te besin, en oor teologiese opleiding: Waarvandaan sal daar genoeg leraars en pastors kom? Daar is ‘n groot gesprek oor studentebediening in Bloemfontein aan die gang; Afrikaanse studente van die platteland af en Sotho-sprekendes, ander tale en kulture; hulle woon in die middestad en regdeur Universitas tot in Brandwag en Langenhovenpark, honderde. Die toekoms vandag. Vennote in Getuienis het ‘n kursus ontwikkel oor die uitreik na Muslim-bure. Barmhartigheidsbediening het ringe en gemeentes besoek, was weer in Jagersfontein ook. Uit ons Rampfonds word diesel aangekoop om veevoer na die plase rondom Brandfort aan te ry. Die nuwe ooreenkoms oor maatskaplike sorg in ons provinsie is met ENGO is onderhandel. In die afgelope jaar het ENGO 196 343 mense in nood gehelp; 852 kinders in drie-en-dertig Jeugsorgsentrums; 105 326 bejaardes in twintig Bejaardesorgsentrums. Ons Raad van Ondersteuning bevestig dat die NG Kerk Vrystaat se oudit vir 2022/2023 afgehandel is, en ons ‘n ongekwalifiseerde ouditverslag gekry het – ook dít is ‘n getuienis in hierdie dae…
En nou lê daar ‘n Algemene Sinode in Oktober voor. Ses beskrywingspunte is van ons Buitengewone Sinodesitting af deurgestuur, volledig gemotiveer. Die Ring van Fauresmith vra vir eenvoud en verantwoordbaarheid. Nog drie gemeentes het afsonderlike beskrywingspunte deurgestuur. Ons afvaardiging van 19 kerkraadslede en 18 leraars is gefinaliseer; ‘n ervare én jeugdige groep uit stad en platteland, mans en vroue. Op 16 September kom hul by The Willows byeen om saam stil te word, te bid, voor te berei.
Gepas daarom dat ouderling Annemarie Mostert uit die Ring van Suid-oos Bloemfontein die Moderamenvergadering met ‘n kort Skriflesing afgesluit het, Jesus se gebed vir sy dissipels. Sy lees dit uit die nuwe Afrikaanse Bybelvertaling (2020). In ons moedertaal. Wyd deur die Vrystaat is daar verlede Sondag dankie gesê vir die 1933-Vertaling en aan die werk van die Bybelgenootskap gedink. Annemarie lees:
“Ek bid dat hulle een kan wees, net soos U, Vader, in My is en Ek in U,
en dat hulle ook in Ons kan wees,
sodat die wêreld kan glo dat U My gestuur het.”
(Johannes 17:21)
Ons sing (half uit die kop uit want die beurtkragskerm haak vas): “Op berge en in dale en oral is my God; waar ons ook telkemale mag swerwe daar is God.” Toe ry ons oor die Vrystaatse vlaktes huis toe, wyd en ver. Hy ís oral. “Waar alles ons begewe…”, ook daar is God.