Skip to content Skip to sidebar Skip to footer

Wie is Carin van Schalkwyk?

Soos die meeste van ons is Carin nie werklik my naam nie, dit staan nie op my identiteitsdokument nie en ook nie iewers in ‘n doopregister nie. Julle sal sien dat ek dokumente onderteken as CHJ van Schalkwyk. My volle name is Catharina Hester Johanna. Dit is name wat nooit gebruik word nie – my ouers het die naam sommer verkort na Carin. Ek hou van die verkorte naam en dit sê ook iets van die manier hoe ek deur die lewe gaan.

Ek is nie iemand wat van ‘n groot ophef hou nie en om hierdie stukkie oor myself te skryf is nie eintlik iets waarmee ek gemaklik is nie. Tog word ek nou met die vraag gekonfronteer: Wie is Carin van Schalkwyk van die NG Gemeente Philippolis? Daar is baie maniere om die vraag te antwoord – ek kan dit doen aan die hand van ‘n kort CV en dan weet almal waar ek skool gegaan het, waar ek studeer het en watter kwalifikasies ek het. Wat maak dit tog saak? Is dit wie ek is?

Ek dink ek is ten diepste iemand wat lief is vir die Here – ek is ongelooflik dankbaar dat ek my roeping kan uitleef in Philippolis. Ek is ook iemand wat besef dat ons almal in verhoudings met mekaar leef, daarom is my verhouding met God en met die mense om my, baie belangrik en hou ek nie daarvan om in onvrede te wees nie. Ek voel sterk oor die feit dat mense menswaardig, gelyk en regverdig behandel moet word en ek sal my eie lyf op die spel plaas as ek glo dat iemand iewers onreg beleef en ervaar. Ek het ‘n hart vir mense wat op die rante van die samelewing leef en glo vanuit die diepte van my hart dat die Here ook vir hulle lief is en dat hulle ook na die beeld van die Here gemaak is. Tans reis ek saam met kanker en ondergaan ek chemoterapie. Ek is dankbaar dat ek die reis kan meemaak en dat ek daarvan kan vertel.

Ek is lief om tyd in die natuur te spandeer, ek lees graag en neem graag foto’s. My lewensfilosofie is om elke dag ten minste een ding te vind wat mooi is en dit bewustelik te beleef en te ervaar.

Vir dié wat wel gewonder het oor die skool en akademie – ek het my skoolloopbaan voltooi aan die Hoër Meisieskool La Rochelle in die Paarl. Ek het studeer aan die Universiteit van Stellenbosch.

116 | Maatskaplike NOODLYN