Deur ds Mias Nortier, leraar van NG Gemeente Jacobsdal
“Sing vir God, besing sy Naam! Verheerlik Hom wat op die wolke ry – HERE is sy Naam – jubel voor Hom!”
Psalm 68:5 AFR20
Tans is ons in Koninkrykstyd van die kerkjaar. Wat beteken dit en maak dit enigsins saak in hierdie deurmekaar wêreld van ons? Om lig op hierdie onderwerp te plaas, gaan ons nou grawe in die literatuur van die Antieke Nabye Ooste, om te verstaan wie is eintlik Koning en waarom ons Hom moet aanbid as triomfantelike heerser oor die gebroke Skepping.
In die Epiese gedigte van Baäl lees ons die volgende:
“Inderdaad, sê ek vir jou, prins Baäl
Ek beklemtoon aan jou, jy wat op die wolke ry:
Vernietig jou vyande, Baäl
So, jy moet jou koningskap aanneem
Jou ewigdurende heerskappy.”
Dit was geskryf in die konteks van die stad Ugarit (geleë in moderne Sirië), waar die mense van daardie gebied die Kanaänitiese gode aanbid het en geglo het die god Baäl is in die besonder triomfantelik oor die natuur en al sy vyande. Baäl word uitgebeeld as ’n magtige vegter wat kosmiese chaosmagte beveg en verslaan, veral Jam (die seegod) en Mot (die god van die dood). Sy oorwinnings vestig hom as die koning van die gode en bevestig sy beheer oor die natuur, veral die weer. As ’n ‘stormgod’ word Baäl geassosieer met donderweer, weerlig, reën en vrugbaarheid, wat hom ’n deurslaggewende figuur maak vir die landbougemeenskap wat hom aanbid het. Al was hy beskou as hierdie magtige god, was hy nie uitgebeeld as ’n sagte god wat werklik omgee vir sy mense nie. Hy het hoofsaaklik aan hulle voorsien in reën en vrugbaarheid. In antwoord hierop het die volk Israel in verskeie van die Psalms melding gemaak daarvan dat die eintlike triomfantelike God die Here (Jahweh) is.
Een van hierdie voorbeelde vind ons in Psalm 68:
5 Sing vir God, besing sy Naam!
Verheerlik Hom wat op die wolke ry
– Here is sy Naam –
jubel voor Hom!
6 ’n Vader vir vaderloses,
’n regter vir weduwees,
is God in sy heilige woonplek.
Die Here is nie bloot Heerser oor die skepping nie, maar veel meer. Sy koninkryk is veel meer as dié van gode soos Baäl. Die Here is aan die een kant magtig en oorheers sy vyande, maar aan die ander kant is Hy sag en ’n Vader vir vaderloses, ’n Regter vir die weduwees. Hierdie eienskappe maak hom radikaal uniek.
In Jesus Christus vind ons die vervolmaking van hierdie unieke God. Hy spreek die see (Jam), natuur en demone aan en roep hulle tot orde. Maar aan die ander kant was Hy die voete van sy dissipels, gee kos en menswaardigheid aan die vaderloses en weduwees. Aan die kruis oorwin Hy die dood (Mot) en die Duiwel, om daardeur die nuwe lewe te gee aan die kinders in sy Koninkryk. Jesus Christus is beslis die unieke Koning van die Koninkrykstyd.
| verskaf: Ds Mias Nortier, leraar van NG Gemeente Jacobsdal en gesin.