Skip to content Skip to sidebar Skip to footer

Welkom in ons midde, Juan!

Deur Mariëtte Odendaal

“Professioneel gesproke wil ek voortdurend leer en verbeter. Ek hoop om in die toekoms ’n invloedryke, kreatiewe rol in die Kommunikasie- en Bemarkingspan te speel.”

Juan du Toit

Vanaf 4 Augustus is daar ’n nuwe gesig in die wandelgange van ons Sinodale Kantoor, naamlik die talentvolle Juan du Toit. Hy is in die plek van Carlie Niehaus by die Departement Kommunikasie en Bemarking as grafiese ontwerper en webontwikkelaar aangestel en is baie opgewonde oor wat dié geleentheid hom bied.

Die pos behels dat hy die NG Kerk Vrystaat se webwerf op datum en funksioneel moet hou, promosie- en bemarkingsmateriaal ontwerp, groen skerm (green screen)-video’s verwerk en seker maak dat alle visuele inhoud professioneel en netjies vertoon.

Ons het met hom oor sy nuwe werk gaan gesels.

 Juan, vertel meer van jouself.

“Ek is op 19 Junie 1992 gebore en het my hele lewe lank in Bloemfontein gewoon. Ek was op laerskool by die Primêre Skool Willem Postma, en het daarna my sekondêre opleiding aan die Hoërskool Sentraal begin waar ek Graad 12 voltooi het.

“Ek was nog altyd ’n kreatiewe mens en het van kleins af ’n groot liefde vir musiek en kuns gehad. Ná skool het ek eers klankingenieurswese gaan studeer en later grafiese ontwerp, aangesien ek graag my kreatiwiteit wou aanwend in ’n praktiese beroep waarin ek ander mense ook visueel kon inspireer.”

Vertel meer van jou beroepsloopbaan voordat jy by Vrypos ingeval het.

“Vanaf Januarie 2021 tot Desember 2022 het ek as ’n grafiese ontwerp-fasiliteerder by iStudent Academy gewerk. Nadat die eienaars van die Bloemfontein-tak na Isle of Man geëmigreer het, is die instansie se deure aan die einde van 2022 gesluit.

“Vanaf April 2023 tot Desember 2024 het ek by Help-U Debt Counsellors as grafiese ontwerper en sosialemediabemarker gewerk.

“In Desember 2024 het die YTC (Your Telephone Corporation) Groep my genader om by hulle as grafiese ontwerper, sosialemediabemarker en webontwikkelaar aan te sluit.”

Wat was vir jou die hoogtepunte van jou loopbaan tot dusver, Juan?

“Een van die grootste hoogtepunte was die Lion Lodge Wedding Expo in Oktober 2024 – ’n projek waaraan ek vir sewe maande help beplan het. Ek was in beheer van die verskillende lokale, die opdatering van pryse, die neem en redigering van die foto’s en video’s, ensovoorts. Dit was gelukkig ’n massiewe sukses met verskeie bekende verskaffers, insluitend OFM, wat betrokke was. Die spanpoging, kreatiewe beplanning en uiteindelike uitvoering was vir my ongelooflik verrykend.

Waarna sien jy uit ten opsigte van jou werk by Vrypos?

“Ek wil nie net graag as ’n ontwerper groei nie, maar ook as mens. Professioneel gesproke wil ek voortdurend leer en verbeter. Ek hoop om in die toekoms ’n invloedryke, kreatiewe rol in die Kommunikasie- en Bemarkingspan te speel.

“Ek streef veral daarna om nader aan die Here te leef, weer innerlike geluk te vind en ’n positiewe verskil in my werk en omgewing te maak.”

 | Foto (verskaf): Juan du Toit, junior webblad-ontwikkelaar en grafiese ontwerper (Departement: Kommunikasie en Bemarking, NG Kerk Vrystaat).