Binnekort vier ons Moedersdag.
Ma, mamma, mams, moeder, moeks, moeksie – baie name wat ’n aanduiding gee van die gehalte van ’n verhouding tussen ma en kind. Moederskap: ’n Kosbare faset van menswees, ’n konsep wat ons assosieer met sorg, omgee, beskerming, opoffering, geduld, aanmoediging, grappies, speel, voed, opvoed, vorm …
Nege maande lank is ons gedra onder die hart van ’n ma, en dan volg die ‘uitwendige swangerskap’: Nog baie maande waarin die onkapabele babatjie gevoed, gekoester en versorg moet word. Ek kyk onlangs na die geboorte van ’n vulletjie op die internet, hoe die diertjie reeds kort ná geboorte rondsteier op wankelrige beentjies. Dis nie die geval met ’n mens-baba nie, daar moet nog maande lank gesorg word voordat die babatjie min of meer self kan funksioneer. Geen wonder nie dat ‘mamma’ gewoonlik die eerste woord is wat ’n kleintjie baasraak.
Maar dis nie net die mamma wat ’n mamma-hart het nie. Ook pappas beskik oor hierdie instink van omgee en versorging. As ons moedersdag vier, dink ons veral aan die kwaliteit van bemoedering, waar dit ook al voorkom en gedy: By ouers, in skole, in gemeentes, in baie strukture in die gemeenskap.
Natuurlik is daar ook die gekweste mammas, die ‘unmothered mothers’, wat nie regtig die liefde kan gee wat ’n kleintjie nodig het nie. Kinders kyk soms met wrewel terug na ’n kindertyd wat gekenmerk was deur koudheid, ongenaakbaarheid, selfsug by die mamma, inkonsekwente dissipline, onregverdige straf. Hierdie patroon word soms in die volgende geslag voortgesit, omdat dit as die norm beleef is.
Dit beklemtoon die noodsaaklikheid dat ons met ‘moederharte’ deur die lewe moet gaan, sensitief moet kan aanvoel waar ’n bietjie aandag en moederlikheid momenteel ’n verskil kan maak aan ’n gekweste siel wat ons pad kruis. Hierdie houding is ongelukkig nie tipies van die Westerse mens met sy beheptheid met spoed, sukses en prestasie nie; ’n mens moet jou bewustelik daarop instel om jou pas te verslap om die behoeftes om jou te kan raaksien en iets van jouself te gee – iets van jou ‘moeder’-hart.
God is die bron van hierdie moederlike omgee: Hy word diep geraak deur ons swaarkry en probleme, Hy identifiseer uit die diepte van Sy wese met ons situasie. Ons weet Hy sien raak waarmee ons sukkel, Hy verstaan, Hy sien ons trane. “En die hele tyd het U dit gesien, die lyding en verdriet. U let daarop en maak daar ’n einde aan.” (Ps. 10:14) “Die Here gee graag goeie dinge aan ons. Sy hart word gou sag. Hy is geduldig en het sy kinders baie lief. Vir almal is die Here goed. Hy gee om vir alles wat Hy gemaak het … Die Here sorg vir almal wat seerkry, Hy tel elkeen op wat swaarkry. Almal vestig hulle hoop op U. U versorg elkeen op die regte tyd. Omdat U goed is, gee U maklik goeie dinge aan ons. U gee meer as genoeg van u goedheid aan almal op aarde. (Ps. 145:9-16, Die Boodskap)
Van Jesus as die menslike vergestalting van God se omgee en deernis lees ons herhaaldelik: “Hy het hulle innig jammer gekry.” Die wese van Jesus se bediening is jammerte en deernis: Met die menigtes wat hom volg, met die siekes wat hy gesond maak, met die skare wat hy uit vyf brode en twee vissies voed, die blindes wie se oë hy open, die weduwee se seun en sy vriend Lasarus wat hy uit die dood opwek …
Kom ons leef almal elke dag na die voorbeeld van Jesus as ‘moeders’ van God se skepping en sy kinders.
Foto: Magdaleen kuier saam met dogter Hanneke Bentz