Deur prof Kobus Schoeman, Departement Praktiese en Missionale Teologie, UV
Die Algemene Sinode besluit in Oktober 1978 om ’n derde teologiese fakulteit aan die Universiteit van die Vrystaat te vestig. Ek sit as ’n eerstejaarstudent in die galery van die Sinodale Sentrum in Bloemfontein toe die besluit geneem word. Dit is vir my die begin van ’n opwindende reis met die Fakulteit, eers as student en later as dosent. Prof Mias de Klerk speel ’n belangrike rol in my besluit om ’n meestersgraad in godsdiens-sosiologie onder leiding van prof Jan Coetzee te voltooi, en later voltooi ek my proefskrif oor ’n teorie vir gemeente-analise met prof Kobus Kellerman as studieleier.
Ek is vir meer as twintig jaar voltyds predikant in drie NG gemeentes (Voortrekkerhoogte-Oos, Witbank en Riviera; later deeltyds by Hugenoot). Ek keer in 2009 terug na die Fakulteit as dosent in die Departement Praktiese Teologie. My belangstelling en fokus is gemeentestudies en leierskap. Ek glo ’n mens kan nie in hierdie studieveld doseer sonder praktiese gemeente-ervaring nie, en daarom is ek altyd dankbaar teenoor die gemeentes wat ek saam met verskeie kollegas kon bedien. Die gemeentebediening is en was ’n roepingservaring van onskatbare waarde.
Van my skooldae af is ek lief vir Wiskunde en later Statistiek. Ek voltooi my eerste empiriese navorsingsprojek in my honneursjaar in Sosiologie. In 1988 raak ek by Kerkspieël (empiriese opnames oor verskeie fasette van die gemeentelike bediening) betrokke. In ’n sekere sin was die navorsing my stokperdjie as ’n predikant. As dosent raak hierdie opnames deel van my formele werksopdrag. Die doel van Kerkspieël is om gemeentes en die kerk te help om hulle roeping meer geloofwaardig binne die huidige konteks te verstaan en uit te voer. Dit is noodsaaklik om dit voortdurend binne ’n snel veranderende wêreld te doen. Vir meer as tien jaar is ek voorsitter van die Taakspan Navorsing van die Algemene Sinode en het die voorreg om met ’n ongelooflike span saam te werk.
Die Kerkspieël-navorsing (ook die “Church Life Surveys”) brei die laaste paar jaar verder uit, eers na gemeentes van ander hoofstroomkerke (soos die NG Kerk-familie, Hervormde kerk, Presbiteriaanse en Metodistekerke), in 2019 brei dit uit na ’n verskeidenheid gemeentes in “townships” en tans word die opnames in gemeentes in meer as vyf Suider-Afrikaanse (SADC) lande gedoen. My passie is om gemeentes só te ondersteun dat hulle hul roeping beter kan onderskei om meer diensbaar in God se koninkryk te wees. Hopelik sal ek op die een of ander manier met hierdie werk in die toekoms kan voortgaan.
Ek wou van my laerskooldae af ’n predikant word. Op ’n reis vol draaie, glo ek, het ek aan hierdie roeping getrou gebly. Ek is baie dankbaar teenoor die NG Kerk, die Fakulteit en al my kollegas wat vir my die ruimte en ondersteuning gegee het om dit te doen.

| Verskaf: Prof Kobus Schoeman, Departement Praktiese en Missionale Teologie, UV.