Deur Ethan Kleynhans, ’n tweedejaar-teologiestudent (BDiv) aan Kovsies
Maandagoggend, 23 Junie. Die lig lê nog bleek oor die kerkgronde toe ons begin pak. Die groot wit bussie staan soos ’n rustende dier. Ek en ds Van Velden, Kopanong se predikant, is die enigste mans tussen die groep en haal met stil vasberadenheid die agtersitplekke uit vir ekstra pakplek. Die meisies beweeg in stilte met hul tasse en rugsakke, ’n fyn spanning van afwagting om hul skouers gedrapeer.
Teen eenuur die middag ry ons oor die grens by Maseru. Die grenspos staan vol en besig in die winterson. In Maseru koop ons kos vir twee nagte – brode, lemoene, maalvleis, rys, soppoeier – en laai dit agter in die bussie langs slaapsakke en klere. Die pad kronkel suid tot by Morija Theological Seminary waar ons die eerste twee nagte deurbring.
Die studente daar is met vakansie. Hulle kon huis toe gaan, maar wag vir ons. Ons stap tussen klipgeboue en bome wat stil in die koue wind staan. Daar is geen water nie. Vir sommige van ons is dit die eerste keer om ’n longdrop te gebruik, om met ’n waskom te was. Dit bring ’n ander soort stilte in jou, jy leer om jou eie liggaam te dra sonder kla. Dinsdagoggend wys hulle vir ons die dorp: die verpleegsterskool, die ou drukkery, die kerk wat Franse sendelinge in 1833 gebou het. In daardie kerk sit ons en hoor die stemme van die verlede in die klipmure fluister. Later stap ons op ’n bergpad en kyk oor die wêreld soos dit onder jou oopvou: golwende heuwels, krale, vuurrook in die verte. Daardie aand hou ons godsdiens saam met die studente. In die klein vertrek sit ons in ’n kring om ’n tafel, stil na mekaar en luister. Ek onthou net die gevoel van warmte en stilte wat soos ’n kombers om ons vou.
Woensdag ry ons verder tot by Growing Nations, ’n plaas waar hulle mense leer om volhoubaar te boer. Ons slaap daar vir drie nagte. Elke oggend en aand hou ons godsdiens. Ons werk is eenvoudig en aards: mieliepitte afkrap en dekgras hark. Die koue lug, die reuk van droë gras, die ruheid van mielies tussen jou vingers, dit alles word deel van jou gebed. Verhoudinge groei soos saailinge tussen ons en die studente.
Saterdag, nog voor die son sy vol sirkel wys, is ons op pad Qomoqomong toe. Vyf nagte bly ons daar. Die meisies slaap in ’n rondawel, ek en ds Van Velden in een van die pastorie se kamers. Sondagoggend woon ons saam met hulle die erediens by. Ds Van Velden preek. Sy stem dra deur die klein gebou met sy sementvloer en sinkdak en mense luister, geduldig, met hul hande op hul skote gevou.
Daardie middag lê sommige van ons op beddens en slaap, ander gaan klim berg op soek na ’n stiller stilte. Maandag en Dinsdag verf en pleister ons die kerk, help waar nodig, speel met die kinders wat met vakansie is. Woensdag neem Moruti Paul ons na Chief Sullivan, die stamhoof. Ons groet hom met respek en luister na sy woorde. Daarna bring ons stilte en gebed in die huis van ’n wewenaar wat onlangs sy vrou verloor het. Die dag eindig met harde werk, ons knieë rou van die vloer se sement terwyl ons die gemorste verf afskuur.
Donderdagoggend, terwyl die lug nog koud is, pak ons weer op. Sneeu is voorspel vir die volgende dae en ons vrees die bergpasse mag gesluit wees. In Zastron eet ons Niel’s burgers en tjips, die sout en vet bring lewe terug in ons moeë liggame. Dan die laaste stuk pad. Die bussie gly oor die Vrystaatse vlaktes terug na Bloemfontein-Wes- gemeente, waar ons van mekaar afskeid neem.
























| Foto’s (verskaf): Deur Ethan Kleynhans

