Deur Riëtte Botha, fasiliteerder en navorser: Petra Instituut vir Kinderbediening
Die Bybel plaas die verantwoordelikheid vir ’n kind se geestelike groei duidelik op die ouers. Spreuke 22:6 (AFR83) sê: “Gee leiding aan ’n jongmens oor hoe hy moet leef, en hy sal ook as hy al oud is nie daarvan afwyk nie.” Net so beveel Deuteronomium 6:6–7 (AFR20): “En hierdie woorde wat ek vandag vir jou voorskryf, moet jy op die hart dra. Herhaal dit vir jou kinders en praat met hulle daaroor wanneer jy in jou huis sit en wanneer jy op pad is, wanneer jy gaan lê en wanneer jy opstaan.”
’n Studie in 2024 oor die invloede in ’n kind se reis met Christus asook die Bybel, bevestig hierdie siening. Ouers het met groot oortuiging gesê dat hulle glo dit is hul rol om hul kinders geestelik te lei. Terugvoer van jongmense het saamgestem dat ouers en grootouers die belangrikste invloede in hulle lewens is, en geestelike leiers sien ook ouers as die primêre gidse vir kinders se geloofsvorming.
Hieruit kan ons aflei dat die mees invloedryke omgewing vir geestelike groei die gesinseenheid is. Dieselfde studie het egter ’n kommerwekkende gaping aan die lig gebring: terwyl die meeste ouers verantwoordelik wil wees vir hul kinders se geestelike ontwikkeling, erken 74% dat hulle nie weet hoe om dit te doen nie.
In reaksie op hierdie uitdaging soek sommige gesinne kerke waar Sondagskool pret is en waar hul kinders se vriende dit bywoon. Ander soek kerke met sterk, Bybelgebaseerde kinderkurrikulums. Maar Petra Instituut stel ’n dieper, meer effektiewe oplossing voor: kerke moet nie net programme vir kinders aanbied nie, maar ook gesinne toerus om geestelik saam te groei.
Dit beteken nie bloot om ’n kursus vir ouers aan te bied oor hoe om met hul kinders oor God te praat nie. In plaas daarvan pleit Petra Instituut vir praktiese, gedeelde geestelike ervarings tydens kerkdienste – wat die hele gesin by mekaar betrek.
’n Praktiese model: Gesinsgesentreerde kerkervarings
Hierdie gedeelde ervarings kan baie vorms aanneem. Een voorbeeld is dat gesinne saam om tafels sit tydens die diens. Grootouers en enkellopende kerklidmate kan ingesluit word by die gesinne en multigenerasionele groepe vorm. ’n Opgeleide fasiliteerder by elke tafel kan die bespreking lei en verseker dat almal – kinders en volwassenes – die geleentheid kry om deel te neem.
Dis nie ’n probleem as jonger kinders nie elke konsep begryp nie. Wat belangriker is, is dat hulle hul ouers se geloof in aksie beleef – hoe hulle oor God praat, hoe hulle bid en hoe hulle luister. Spreuke 20:7 herinner ons: “Wie reg doen en eerlik lewe, met sy kinders gaan dit goed.” Kinders leer deur nabootsing. Soos die ou gesegde lui: “Kinders doen wat jy doen, nie wat jy sê nie” (Robinson, 2025).
Die predikant of leier stel ’n Skrifgedeelte of besprekingsonderwerp voor en gee dan tyd vir die groepe om te reageer. Daarna gee die predikant die volgende stap en gaan die boodskap stukkie vir stukkie voort in ’n interaktiewe formaat. Hierdie metode plaas ouers natuurlik in ’n geestelike leiersrol en bou hul selfvertroue.
Deur hierdie benadering beïnvloed ouers hul kinders op vier sleutelareas (Yates & Avenant, 2025):
- Stel ’n geloofsvoorbeeld – “Volg my voorbeeld, soos ek die voorbeeld van Christus volg.” (1 Korintiërs 11:1).
- Geestelike mentorskap aan hulle kinders – “En vaders: Moenie julle kinders uittart nie, maar voed hulle op deur die dissipline en teregwysing van die Here.” (Efesiërs 6:4).
- Vervul ’n sosialiseringsrol deur geloof – “Hierdie woorde … moet jy op die hart dra. Herhaal dit vir jou kinders …” (Deuteronomium 6:6–7, herhaal vir klem).
- Bou ’n positiewe, geloofsgesentreerde ouer-kind verhouding – “Julle moet onthou dit is die Here
- wat vir ’n mens seuns gee, kinders is presente van die Here.” (Psalm 127:3 (ABA)).
Wanneer hierdie stap-vir-stap-formule konsekwent tydens hierdie tipe dienste gebruik word, begin gesinne die patroon internaliseer. Dan word dit eenvoudig om die gewoonte tuis voort te sit: die gesin hoef net op ’n tyd ooreen te kom om daagliks bymekaar te kom en dieselfde model te volg. Soos Josua 24:15 (ABA) verklaar: “Maar ek en my familie sal die Here dien.”
Riëtte Botha, fasiliteerder en navorser, en Laetitia Bull, kommunikasie koördineerder, Petra Instituut vir Kinderbediening, www.petra.co.za

